Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Paarl-juffrou dood kort ná sy by hospitaal kom

Die onderwyseres wat Donderdagoggend dood is nadat sy in die vroeë oggendure op die N1 naby die Paarl deur ’n betonblok in die gesig getref is, is dood kort nadat haar man met haar by die hospitaal aangekom het.

Anton Pietersen sê nadat sy vrou, die 58-jarige Michele, in die gesig getref is, het hy net aanhou ry om haar by die hospitaal te kry. Met sy linkerhand het hy sy vrou se kop probeer regop hou en met die ander hand bestuur. Haar bloed het oor sy arm gestroom.

Anton Pietersen met ’n foto van sy vrou, Michele, wat Donderdag in die vroeë oggendure deur ’n betonblok op die N1 getref is. Foto: Adrian de Kock

In die hoofstraat in die Paarl het hy eers stilgehou om na haar beserings te kyk.

“Sy het baie sleg gelyk. Ek het die ergste gevrees, maar ek het biddend gebly.”

Hy sê die stuk beton het haar hoofslagaar en gesig getref. ’n Deel van haar kakebeen was oop en haar lyf was slap.

By die Paarl Medicity-hospitaal het hy by noodgevalle gestop en hulp ontbied.

“Toe hulle uitkom en haar sien, kon ek op hul gesigte sien dit is ernstig. Ek het gevra hulle moet asseblief kyk wat hulle kan doen.”

Sekondes later het die dokters egter gesê sy vrou is dood.

Michele was ’n wetenskaponderwyseres aan die Sekondêre Skool New Orleans in die Paarl. Sy en haar man, met wie sy 38 jaar getroud was, was Woensdag in Kaapstad vir inkopies en het daar aandete geëet. Hulle het laat die nag teruggery en om 01:47 was hulle so 10 km van die Paarl af. Toe het Pietersen haar nog belowe dat hy haar voor 02:00 in die bed sal kry sodat sy kan slaap voor die volgende skooldag.

Dit was ook die laaste keer dat hy met sy vrou kon praat.

Sy het aan die slaap geraak.

“Toe was daar een hengse ontploffing. Daar was ’n groot gat in die voorruit en die wind het ingewaai.”

Anton Pietersen wys waar die betonblok Donderdagoggend die vooruit van sy motor getref het. Foto: Adrian de Kock

Van die glasstukkies het tot in Pietersen se mond gespat.

“Ek het haar naam geskreeu en gebid. Ek het gesê: ‘Asseblief Here, moenie dit aan my doen nie.’ Ons het kleinkinders wat verskriklik lief is vir haar. Ek weet nie wat ons vir daai kindertjies gaan sê nie.”

Die polisie het intussen die klip weggeneem vir die ondersoek.

Die aanvallers wou vermoedelik hul wit BMW tot stilstand dwing om hulle te beroof, sê Pietersen.

“Ek wonder of daardie mense weet my vrou is dood. Of hulle sal omgee.”

Michele het klas gegee vir leerlinge in gr. 8 en gr. 9. Sy het netbal afgerig en was in beheer van die jaarlikse wetenskapekspo.

Michele PietersenFoto: Adrian de Kock

Die egpaar het vier kinders, Inge Scott, Irma, Kina en Charl. Scott is reeds op pad van Pretoria af en Irma is op pad vanaf Koeweit.

“My lewe het binne ’n oomblik verander,” sê Pietersen. “Ek gaan haar baie mis. Ek was konstant verlief op haar. Ek wou haar elke dag beïndruk.”

Hy het vir haar ’n tuin gemaak en self gekook omdat sy nie daarvan gehou het nie.

“Sy was verskriklik lief vir kinders en babas. En sy was baie slim.”

Die afgelope week was spesiaal vir hom, want sy vrou het ’n “huppel in haar stap” gehad omdat sy verlede week klaar was met die leerlinge se punte, sê Pietersen.

Sy was ’n streng onderwyseres, maar die kinders het haar altyd agterna bedank. Selfs Tamaryn Green, voormalige Mej. Suid-Afrika en oudleerling van dié skool, het haar glo by ’n geleentheid geloof vir die impak wat sy op haar lewe gehad het, sê Pietersen.

“Dit was vir my moeilik om verby haar uiterlike skoonheid te kyk. En ’n ma duisend. Al vier ons kinders is gegradueer en sy was baie trots op hulle.”

Andrew Groenewald, skoolhoof, sê Pietersen sou vanjaar 35 jaar by die skool gewees het.

“Sy was ’n geliefde persoon en baie betrokke by die leerlinge. Sy was iemand wat ons baie laat lag het. Dit is baie hartseer.”

’n Predikant het die personeel Donderdagoggend bygestaan. Geen leerlinge was by die skool nie. Blomme is in die voorportaal geplaas en kerse is aangesteek. Reëlings vir ’n gedenkdiens is nog aan die gang.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het die departement se medelye uitgespreek.

“Ons gedagtes en gebede is met mev. Pietersen se familie en die breë gemeenskap van die skool.”

Dr. Corné Mulder van die VF Plus het die voorval sterk veroordeel.

“Elke sinlose moord, hetsy dit ’n plaasaanval, bendemoord, rooftog of motorkaping is, is ’n skokkende getuigskrif van ’n land waar menselewens goedkoop geword het en waar gewetenlose misdadigheid ’n alledaagse verskynsel geword het.”

Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie soek na die verdagtes. Enigiemand met inligting word versoek om die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel.

Meer oor:  Paarl  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.