Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Paul Kruger se graf lyk soos ’n nuwe sikspens

Eerder as om die beskadigde borsbeeld bo-op die graf van oudpres. Paul Kruger bloot te restoureer nadat dit in Julie vanjaar gevandaliseer is, is ’n hele nuwe beeld geskep.

Die gerestoureerde borsbeeld van oudpres. Paul Kruger sal by die Voortrekkermonument in Pretoria ’n ereplek inneem.

Jacques Müller (38), ’n beeldhouer van Centurion, het uit verskeie foto’s en afbeeldings van Kruger as verwysing met ’n nuwe beeld, oftewel ’n nuwe Kruger-monument soos hy dit noem, vorendag gekom.

Die nuwe klipmonument en grafsteen is Woensdag, op die 193ste herdenking van oom Paul se geboorte, in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria onthul.

Oom Paul se graf, wat uit ’n horisontale granietblok en ’n beeld bo-op bestaan het, is in 1995 die eerste keer gevandaliseer.

Toe het die borsbeeld op die granietblok geval en dit gekraak. Die grafblad het van toe af maar so gebly.

Die verdwene marmerbeeld is met een uit glasvesel vervang, maar toe slaan vandale weer vanjaar toe. Gedagtig dat dit uit waardevolle brons gemaak is, het die diewe die beeld bloot sleg beskadig en toe net daar gelos.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het as kultuurorganisasie met beperkte geld self ingegryp om dié Afrikaanse historiese erfenis te herstel.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het gesê die wyse waarop Afrikanererfenisse geteiken word, is kommerwekkend.

Jacques Müller, ’n beeldhouer van Centurion, het ’n nuwe beeld van oudpres. Paul Kruger uit graniet gekerf.
Die borsbeeld van oudpres. Paul Kruger is vroeër vanjaar beskadig.

“Ten spyte van die departement van kuns en kultuur se standpunt dat standbeelde en monumente nie beskadig moet word nie, ontbreek die politieke wil om die vandalisme van Afrikanererfenisse stop te sit.”

Müller het die FAK genader om die beskadigde beeld te herstel en om ’n splinternuwe beeld van die oudstaatshoof te skep. Hy het sy dienste gratis aangebied.

Dit is die eerste keer dat Müller so ’n tipe projek saam die FAK aanpak.

Met Jan F.E. Celliers se gedig oor Kruger as sy grootste verwysing, het hy met net ’n beitel en hamer stukkie vir stukkie lewe aan Kruger met sy alombekende baard uit ’n stuk pienkgrysgraniet gegee.

Müller sê dis nie ’n “klassiek anatomiese afbeelding” van Kruger nie, maar eerder “eenvoudig gestileerd soos die volksvader wat hy was”.

Hy som dié beeld as “dinamies, baie dramaties en ’n sterk werk” op en beskou hierdie werk as ’n “lewende” beeld.

Die nuwe monument bestaan uit vier dele, waaronder die afbeelding van Kruger se kop wat op drie aparte wit marmerstukke rus.

Volgens hom vorm al die dele “ ’n sterk eenheid”.

Die beskadigde granietblad van oudpres. Paul Kruger se graf in die Heldeakker-begraafplaas is vervang. Dit is Woensdag onthul. Foto: Ischke de Jager

“Dit simboliseer ook ’n drie-enige God of ’n sterkte van geloof. Die nuwe Kruger-monument is ’n steunpilaar, ’n hoeksteen of fondament van iets baie groot of ’n monumentale entiteit. Die dele wat uit marmer bestaan, is rou gelos, wat ’n sterk metafoor vir die gedig is, maar dui ook op ’n verpersoonliking van oom Paul se persoonlikheid,” verduidelik Müller die simboliek agter sy beeld.

Om Kruger se bekende presidensiële serp te eer, het Müller slegs ’n epoulet op sy regterskouer uit die marmer gekerf en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR)-wapen op dié serp het hy byna soos ’n watermerk subtiel op die onderste marmerklip ingegraveer.

Müller het oom Paul se beeld in sowat drie weke uitgekerf, terwyl dit hom ongeveer vier weke geneem het om die hele klipmonument te voltooi.

Sy grootste uitdaging was die installasie van die monument.

“Ek was baie bekommerd en het gesukkel, want die gom het te vinnig droog geword. Dit was amper ’n flop, maar hy is nou volbring,” sê Müller.

“Ek is baie dankbaar en verheug oor dié nuwe beeld. Dit is my beste werk tot op hede.”

Langner sê Kruger word uitgebeeld soos hy nog nooit gesien is nie.

“Hy (Müller) het ’n meesterstuk gelewer.”

Elzilda Becker, redakteur van die tydskrif DEKAT, het die beskadigde granietblad vervang — volledig met die letterwerk soos van ouds.

DEKAT ondersteun kuns, taal en kultuur en as sulks is dit vir ons ’n voorreg om ’n bydrae te lewer om ons erfenis te bewaar.”

Die gerestoureerde borsbeeld van Kruger sal by die Voortrekkermonument in Pretoria ’n ereplek inneem.

Hoekom het die beeldhouer graniet gebruik

Müller sê: “Dis een van die hardste klippe op aarde, maar jy kan dit sag maak en terselfdertyd ’n persoonlikheid daaraan gee. Dis ’n element wat nie kan vergaan nie. Dis vir ewig. Die graniet is ook eie aan Afrika en ’n metafoor vir die hardheid en ongenaakbaarheid van die kontinent. Hy (Kruger) was ook hard. Hy was van kleins af in die oorlog. Daar is dus ’n simbiose tussen hom en die materiaal.”

Jacques Müller, ’n beeldhouer van Pretoria, het slegs ’n epoulet op oudpres. Paul Kruger se regterskouer uit die marmer gekerf en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR)-wapen op dié serp het hy byna soos ’n watermerk subtiel op die onderste marmerklip ingraveer. Foto: Ischke de Jager
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Jacques Müller, beeldhouer van Centurion, en Hannes Noëth, bestuurslid van die Krugergenootskap, by die onthulling van die nuwe klipmonument en grafsteen van oudpres. Paul Kruger in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria. Foto: Ischke de Jager
Oudpres. Paul Kruger se beeld is uit graniet gekerf.Foto: Ischke de Jager
Die beskadigde granietblad van oudpres. Paul Kruger se graf.
Oudpres. Paul Kruger se nuwe klipmonument en grafsteen is Woensdag, op die 193ste herdenking van sy geboorte, onthul. Foto: Ischke de Jager

Meer oor:  Jacques Müller  |  Oudpres. Paul Kruger  |  Graf  |  Beeld  |  Vandalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.