Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Pofadder kom kuier by kombuistee

’n Pofadder wat ongenooid by ’n kombuistee in Worcester opgedaag het, het groot konsternasie veroorsaak.

André du Preez van Silverfox Snake Rescues sê hy is Saterdagmiddag na ’n plaas by Brandwacht ontbied.

’n Groep vroue by ’n kombuistee het buite op die gras in ’n sirkel op kussings gesit en gewag vir die aanstaande bruid, Maré Smit, toe ’n pofadder doodluiters verby hulle geseil kom.

Lynn Viljoen, ’n gas, het die slang eerste gesien. Volgens Viljoen trou Smit en Rio Bezuidenhout op 1 Mei by die Nuy Kelder. Die troue is reeds drie keer uitgestel weens die koronaviruspandemie. Die twee het op 8 April (op Rio se verjaarsdag) reeds in die hof trou beloof aan mekaar. Sowat 20 gaste is toe gevra om Saterdag om 15:00 op die plaas bymekaar te kom. Die kombuistee was ’n verrassing.

Die rooi pyltjie dui aan waar die slang was. Chante Mostert, Salmaré van Dyk, Madri Hanzen en Bea de Klerk het ná die tyd lekker gekuier. Foto: Verskaf

Die bruid was nog nie daar nie toe Viljoen al geselsende agter Bea de Klerk se rug iets op die gras sien beweeg. Ná ’n paar sekondes het sy besef dit is ’n slang. Dié was toe al 2 m agter De Klerk en het nader gekom.

“My eerste reaksie toe ek gil, was ‘mother f**’. Ek het eers ná die tyd eers besef hoe lelik ek gevloek het. Salmaré van Dyk het gesê ek was so wit soos ’n spook. Toe ek sê ‘SLANGGGGGG’, het al die dames omgekyk en opgespring en in een rigting gehol en gegil.

“Maré se ma, tannie Rina Smit, het haar handsak gegryp en na die eienaar se huis gehol vir hulp. Ek het gegil dat almal net die slang moet dophou. André du Preez is dadelik gebel. Die plaaseienaar, Ilana Holtzhausen, en haar kinders het die slang dopgehou totdat André gekom het.”

Die slang was toe al deur ’n heining in ’n sloot.

Maré Smit, die bruid vir wie die kombuistee gehou is. Foto: Verskaf
André du Preez van Silverfox Snake Rescues besig om die pofadder te vang. Foto: Facebook/Silverfox Snake Rescues
Die pofadder van nader gesien. Foto: Facebook/Silverfox Snake Rescues
Die pofadder in die veld. Foto: Facebook/Silverfox Snake Rescues

Volgens haar het Du Preez en die bruid gelyktydig daar gestop. “Almal se aandag was so op die slang dat ons skoon van Maré vergeet het. Ons het later wel surprise geskree en toe heerlik verder gekuier.”

Du Preez het die slang van 1,11 m verwyder. Smit sê sy is bly sy het die herrie met die slang misgeloop.

• Kyk na ’n video van die slang op Facebook.

Meer oor:  Kombuistee  |  Worcester  |  Pofadder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.