Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Publiek wag ure vir diens in Kaapse polisiekantoor
Die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor was Donderdag glo minstens 20 minute onbeman. Foto: Verskaf

Donderdag om 17:35 was daar net een polisielid in die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor besig om ’n vorm in te vul. Nêrens was enige ander polisiebeampte in sig nie, en ná 18:00 was die kantoor glo minstens 20 minute lank heeltemal onbeman.

Dít is die toneel wat minstens drie uur lank in een van die besigste polisiekantore in Kaapstad afgespeel het, terwyl lede van die publiek toe al twee uur lank gesit en wag het om gehelp te word.

“Ek het net ingekom vir ’n saaknommer ná ’n ongeluk,” sê Richard Schroeder (26).

Hy was langer as twee uur in ’n tou. “Daar was mense voor my. Hulle het seker net twee mense gehelp. Hier was twee vroue wat gewerk het. Een van die vroue het net opgestaan en buitentoe gegaan. Sy het weer teruggekom net voordat haar skof geëindig het.”

’n 35-jarige man, wat anoniem wil bly omdat hy in verband met ’n voorval by die werk in die polisiekantoor was, sê hy is “gefrustreerd en bitter moeg”.

“Ek is hier oor gesteelde goedere en het omstreeks 15:45 hier ingestap. Dit is nou 18:10 en ek is nog nie gehelp nie.”

’n Polisielid wat dagskof gewerk het, het voor 18:00 vir die mense in die polisiekantoor gesê dat sy skof nou eindig en dat die nagskof se mense binnekort sal oorneem.

“Hulle is net besig met die parade en sal dan kom,” het hy gesê voordat hy geloop het.

Dié polisielid het mense glo tussen 15:00 en 18:00 gehelp.Foto: Verskaf

Een van die vroue wat gesit en wag het, wou weet hoe lank dit sal neem. “Net ’n paar minute,” het die polisielid glo gesê en is toe vort.

Daar was byna 20 minute lank geen polisielid by die ontvangstoonbank nie en toe het een ingestap en “volgende” geskree.

Die mense wat in die polisiekantoor was, het Donderdagaand aan Netwerk24 gesê dat ’n polisielid in gewone klere na hulle toe gekom het en ’n nommer gegee het wat hulle kan skakel as hulle ontevrede met die diens is.

Voordat hy geloop het, het die polisielid gesê dit is die stasiebevelvoerder se nommer en die publiek is welkom om ’n klag in te dien.

“Ons het die nommer geskakel, maar toe skakel die persoon sy selfoon af,” sê een van die vroue wat in die polisiekantoor gewag het.

Een van die mans het daarna opgestaan en in die polisiekantoor gegil dat die polisie die publiek moet help.

“Skuus, kan julle ons kom help? Hier is mense wat al vier uur lank wag en niemand help ons nie.”

Minstens twee polisielede het daarna om 18:25 uit die kantoor gekom en die publiek begin help.

Netwerk24 verneem dat ’n man met ’n oranje hemp glo in daardie tyd ingestap het, sy dokumente self gestempel het en weer uitgeloop het.

“Daar was omtrent drie polisielede naby die man. Dit was nogal erg. Niemand het dit raakgesien nie,” het een van die ooggetuies gesê.

Een van die vroue wat gesit en wag het om gehelp te word, het blykbaar ook voor 18:00 opgestaan, verby die ontvangstoonbank geloop en na agter gegaan waar die polisie is, sonder dat iemand haar gekeer het.

Dié vrou het toe glo gaan vra wanneer iemand gestuur sal word om voor in die polisiekantoor te kom help.

Netwerk24 het die video en foto’s na die provinsiale polisiekantoor gestuur.

Brig. Novel Potelwa, polisiewoordvoerder, het laatmiddag gesê die polisiebestuur in die Wes-Kaap neem met kommer kennis van die situasie. 'n Senior amptenaar is aangewys om dit te ondersoek.

"Die uitslag van die ondersoek sal bekend gemaak word. Die polisie bly verbind daartoe dat lede van die publiek wat polisiekantore besoek vinnig en professioneel gehelp word. As enigiemand nie die vereiste dienspeil handhaaf nie, sal beslissende stappe gedoen word."

Een van die polisielede wat mense begin help het. Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.