Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Rasherrie - Man in video ‘nie ’n slagoffer’

’n Winkeleienaar van eNtokozweni (Machadodorp) in Mpumalanga en sy gesin het Johannesburg toe gevlug toe die gemeenskap sy winkel aan die brand gesteek en gedreig het om hom dood te maak.

Dit kom nadat twee mans, onderskeidelik van ’n veiligheidsmaatskappy en van die gemeenskap-polisiëringsforum, self in die tronk gegooi is nadat hulle glo wou toesien dat die polisie ’n man in hegtenis neem wat ’n werknemer van die winkel aangeval het.

Werknemer aangerand

Redwhan Ismail het Maandag ’n veiligheidsmaatskappy en die polisie gebel toe drie mans een van sy werknemers voor sy winkel begin aanrand het.

Volgens Ismail het drie ouens sy werknemer platgetrek en hom geskop. Wayne Swart (20), ’n wag van die veiligheidsmaatskappy JHDPS, het saam met Bruce Botha (29), ’n lid van die gemeenskapspolisiëringsforum, opgedaag om ondersoek in te stel.

Die polisie het ook opgedaag, maar lede van die gemeenskap het hulle gekeer om die aanranders in hegtenis te neem, beweer Ismail.

“Daarom wou hulle (Swart en Botha) die man van die toneel wegneem sodat die polisie hom later kon ondervra.”

Hulle het daarna na my huis gekom en klippe deur die vensters gegooi. Ek moes met my vrou en kinders na Johannesburg vlug.

’n Gedeelte van die voorval is afgeneem en op sosiale media geplaas en het sedertdien ’n rasseherrie ontketen.

Die video

Op die video kan gesien word hoe Botha en Swart die man by die straat afsleep en op die bakkie laai. Daar kan ook gehoor word hoe gemeenskapslede hulle van rassisme beskuldig.

Die polisie het Swart en Botha dieselfde dag in hegtenis geneem en hulle het Dinsdag in die landdroshof op Belfast op ’n aanklag van aanranding verskyn.

Die saak is uitgestel tot Vrydag wanneer ’n aansoek om borgtog gebring gaan word, sê kol. Mtsholi Bhembe, polisiewoordvoerder.

Werknemer moes uit hospitaal vlug

Volgens haar het Ismail se werknemer, wat met gebreekte ribbes in die Waterval Boven-hospitaal opgeneem is, ook ’n klag teen die “slagoffer” op die video by die polisiekantoor ingedien. Die meriete van die saak sal eers ondersoek word voordat daar dalk teen die man opgetree word, het Bhembi gesê.

Ismail het gesê sy werknemer moes egter kort daarna uit die hospitaal vlug omdat hy doodsdreigemente ontvang het.

Doodsdreigemente

Ismail het Maandagaand ’n saak van intimidasie by die polisie aanhangig gemaak omdat hy deur die loop van die dag doodsdreigemente gekry het.

Dinsdag het gewelddadige betogings op die dorp oor die “aanranding-video” begin.

Volgens Bhembe is twee voertuie uitgebrand en die pad tussen eNtokozweni en Carolina is versper.

Ismail se winkel is ook uit vergelding afgebrand.

“Hulle het daarna na my huis gekom en klippe deur die vensters gegooi. Ek moes met my vrou en kinders na Johannesburg vlug.”

Die eienaar van JHDPS sê hy vrees ook vir sy en sy gesin se veiligheid. “Ek het gehoor dat sommige mense my huis wil afbrand,” sê hy.

Die gemeenskap se rol

Volgens hom het Botha en Swart nie Maandag verkeerd opgetree nie.

“Hulle het nooit die man geslaan nie. Die gemeenskap wat opgetree het, het dinge eintlik vererger. Dit is toe dat die man wat aangekeer was, van die bakkie afgeval het. Hulle het ook klippe gegooi. Een klip het ’n man getref en dit is hoekom hy op die grond gelê het.”

Ismail beweer die voorval het gebeur omdat hy ’n vrou uit sy huurhuis geskop het omdat sy nie die huur kon bekostig nie. Sy het glo die huis opgeknap.

“Dit is verkeerd dat die twee mans in hegtenis geneem is terwyl die man op die video nog op vrye voet is.”

ANC kap 'rasgedrewe' aanval

Intussen het die ANC in ’n verklaring uitgevaar teen die “afstootlike misdadige gedrag van twee wit mans wat op video vasgevang is terwyl hulle ’n swart man wreed, in wat blykbaar ’n rasgedrewe aanval is, aanrand”.

“Hul skaamtelose verontagsaming van die polisiebeamptes op die toneel, wat duidelik met hulle probeer redeneer, toon hul afkeer van die wet,” lui die verklaring.

“Sulke optrede het geen plek in ons samelewing nie en diegene wat meen dat hulle bo die reg verhewe is, moet skaam wees om hulself Suid-Afrikaners te noem. Geen burger mag eie reg gebruik nie, maak nie saak wat hul agtergrond is nie. Ons verwelkom die vinnige optrede deur die polisie om die verdagtes in hegtenis te neem.”


Meer oor:  Machadodorp  |  Mpumalanga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.