Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Rivier van rooiwyn toe tenk in kelder omval

Meer as 50 000 liter rooiwyn het soos ’n rivier oor die gras gevloei toe ’n wyntenk in die Darling-kelders se parskelder Dinsdag omgekantel het. 

Die tenk het ook ander tenks langs dit omgestamp en die wyn van die 2021-oesjaar het by die kelder uitgevloei.

Wyn loop oor die gras by Darling-kelders. Foto: Skermgreep

Die struktuur waarop die tenk gestaan het, het vermoedelik meegegee, sê Riaan de Waal, besturende direkteur van Darling-kelders.

Niemand is beseer nie.

“Ons weet nog nie presies hoeveel wyn verlore gegaan het en wat die totale skade is nie, maar dit is ’n groot verlies,” sê hy.

Die Darling-kelders is op die R315-pad tussen Malmesbury en Darling en rooiwyn word dié tyd van die jaar daar in die parskelder gestoor.

Die tenk wat in die parskelder omgeval het.

Hy sê bespiegelings op sosiale media van sabotasie is ongegrond. Dit is ook nie waar dat 15 tenks omgeval het nie.

“Voorlopig lyk dit asof ses tenks van verskillende volumes beskadig is. Ons is besig om die skade te bepaal en wyn uit die tenks te pomp. Ek sal eers daarna kan bepaal presies wat die omvang van die skade is,” sê De Waal.

Hy sê nie al die tenks wat omgeval het, het leeggeloop nie. Van hulle is net gestamp en geen wyn het uitgeloop nie.

“Hoewel die verlies aan wyn ’n finansiële werklikheid is, is ons net bly niemand is beseer nie. Dit kon soveel erger gewees het,” sê die bestuur van Darling-kelders in ’n verklaring.

“Daar is geen onmiddellike gevaar vir die wynvoorraad nie en ons sal dié terugslag oorkom.”

’n Muur van die parskelder is beskadig toe die tenk omgeval het, waarna ’n rivier van wyn daar uitgestroom het. Foto: Skermgreep

De Waal sê die rooiwyn wat hulle verloor het, is tussen Januarie en Maart vanjaar geproduseer en sou rondom Oktober gebotteleer word vir die plaaslike en uitvoermark. Dit is ’n groot verlies wat vir hulle op ’n ongeleë tyd kom, maar hulle produseer sowat 6 miljoen liter wyn per seisoen. Die meeste daarvan is witwyn.

De Waal sê weens die staat van inperking en regulasies rakende die verkoop van wyn verlede jaar, is daar ’n groter oorskot van witwyn as rooiwyn. Hy sê die kelder het egter versekering vir sulke voorvalle en dié proses sal nou sy verloop neem. Hy verwag dit sal so drie maande neem.

Foto’s en video’s van die voorval is Woensdag wyd op sosiale media versprei.

Meer oor:  Rooiwyn  |  Rivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.