Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Passasiers nog langer gestrand op MSC

Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.


Richard Coleman, woordvoerder van Kaapstad se verkeersdienste, het Vrydagoggend by navraag gesê hawebeheer sal eers na 08:00 weer probeer om die skip die hawe te laat inkom, maar dit sal nog lank neem voordat die skip anker.

Hy het later laat weet die kaptein is eers bereid om anker te lig wanneer die wind verder gaan lê. Dit blyk nou dat die skip Saterdagoggend om 02:00 die hawe sal binnekom.


Die Kaapse suidoostewind het Donderdag weer gewys wie is baas toe dit verhoed het dat die luukse passasierskip MSC Musica in die Kaapstad-hawe kon invaar.

Die MSC Musica, met gesamentlik sowat 3 000 passasiers en bemanningslede aan boord, moes buite die hawe anker gooi.

Die Kaapstad-metro se verkeersdienste sê die weerstoestande word dopgehou om te sien wanneer dit veilig sal wees vir die passasierskip om by die hawe in te vaar.

Die MSC Musica wat wag vir die wind om te bedaar om by die Kaapstad-hawe in te vaar. Foto: Adrian de Kock

“Volgens die skeepskaptein van die MSC Musica moet die windsterkte tot onder 27 knope daal,” sê Richard Coleman, die stad se verkeerswoordvoerder.

Hy sê die kaptein sê die windsterkte was teen Donderdagmiddag 31 knope.

“Dit is moontlik dat die passasierskip later Donderdagaand of vroeg Vrydagoggend die hawe sal kan binnevaar. Indien dit Donderdagaand is, sal dit nie die middestad se verkeer beïnvloed nie, maar indien dit Vrydagoggend is, kan dit tot verkeersopeenhopings lei weens die groot getalle passasiers wat van die skip sal afklim.”

Die MSC Musica is in 2006 gebou en word deur MSC Cruises bedryf. Die skip het 16 passasiersdekke en 1 275 kajuite wat 2 550 passasiers kan huisves.

Passasiers aan boord van die skip het Donderdag op sosiale media geskryf dat hulle net buite die Kaapstadse hawe geanker is en steeds die oop see geniet.

Die MSC Musica moes buite die Kaapstad-hawe anker gooi weens die wind. Foto: Adrian de Kock

“Ons is al van 06:00 af terug in die Kaap, maar ons mag nie by die hawe ingaan nie omdat die wind te sterk is. Nou vaar ons maar op en af verby Robbeneiland totdat die wind bedaar,” skryf ’n passasier op sy Facebook-blad.

Pieter Crous en sy vrou, Gina, wat ook op die passasierskip is, sê dat hulle vir ’n paar uur op en af gevaar het totdat hulle omstreeks 10:00 tussen Seepunt en Kampsbaai anker gegooi het.

“Hier waar ons nou geanker is, is daar glad nie ’n sterk wind nie, maar elders is die see maar rof,” sê Crous.

Passasiers drom saam buite die terminaal in Kaapstad.Foto: Adrian de Kock

Hy sê verder dat die diens wat hulle steeds ontvang uitstekend is.

“Die span het alles weer vir ons oopgestel en ons het nuwe kaarte gekry wat ons kajuite oopsluit en soos ’n kredietkaart werk. Die bemanning het uit hul pad gegaan om ons verlengde tyd aan van boord die skip plesierig te maak. Daar is kos en drankies en die vermaak gaan voort.”

Die passasierskip het op 20 Januarie na Namibië gevaar en het Donderdagoggend in Kaapstad aangekom. Volgens MSC Cruises se webblad sou die passasierskip Donderdagaand uit Kaapstad na Port Elizabeth en Durban vertrek het.

MSC Cruises het nie onmiddellik op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Kaapstad-Metro  |  Msc Musica  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.