Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Skaam’ Binga vier sy verjaardag

Binga was effens oorweldig deur al die aandag en “maats” wat Woensdag saam met hom sy “sweet sixteen”-verjaardag gevier het.

Hy is eintlik ’n skaam tiener en nie regtig ’n partytjiedier nie.

Binga, die verjaardagseun, maak sy geskenk oop met sy rug na die mense. Op 16 is ’n gorilla-tiener maar nog effens skaam vir al die aandag. Foto: Deaan Vivier

Dié gorilla-mannetjie het sy helder toegedraaide geskenkpakkie onder die arm geknyp en eenkant in die koelte gaan sit waar hy nie sy verjaardag-lekkernye hoef te deel nie.

Sy liggaamstaal was duidelik: “Myne. Alles net myne.”

Die ander drie gorillas het immers hul eie pakkies gekry.

“Ek het vanoggend vir hom gesê hy moenie dat die ander hom ontstel nie. Ons het voor die partytjie deur die tralies van sy nagkamer gesels. Ek het hom gelukgewens en sy ore en rug gevryf,” sê Radion Khoza, natuurbewaarder by die nasionale dieretuin in Pretoria.

Hy ken die 176 kg-Binga sedert dié in 2010 van ’n dieretuin in Switserland aangekom het. Die verjaardagseun is daar gebore.

Binga en sy drie huismaats, Louis, Bosenga en Asali, is deel van die hoogs bedreigde westelike laaglandgorillas in Sentraal-Afrika, waar die kanse op oorlewing skraal is weens habitat-vernietiging en stroping vir “bosvleis”.

Hier in die dieretuin kon hy al ’n merkwaardige 16 lewensjare haal. As bonus kon hy sommer ook twéé geskenkpakkies kry voordat die ander drie gorillamanne dit kon onderskep.

Binga het eers half-vererg die blare wat die pakkie moes versteek, eenkant gegooi, toe versigtig die rooibostee in ’n plastiekbottel uitgehaal en eenkant gesit.

Sy yslike, rubberagtige vingers het om die piesang gevou waaraan hy gesmul het.

Binga gryp sy tweede verjaardagpakkie voordat een van die ander drie gorillas dit vat. Hulle het immers hul eie pakkies gekry. Foto: Deaan Vivier

Die papaja was ook ’n treffer, net soos die joghurt nadat hy die foelie-oortreksel eers afgetrek, toe afgelek en toe neergesit het, voordat hy met sy wysvinger die lekkerny uitgegrawe het.

“Binga is ’n baie slim gorilla,” spog Khoza.

“Hy is die eerste een wat uitdagings en stimulasie-takies bemeester. Hy is egter baie besitlik oor sy goed, soos die kos,” verduidelik hy wanneer Binga met ’n stywe rug wegstap toe een van die ander gorillas naderkom.

Kort duskant die gorillas se kamp het die jongste partytjieganger, Happy die seekoei, homself vroeg van die verrigtinge verskoon.

Hy is net twee jaar oud en nog net ’n week by die dieretuin, en het dus meer gemaklik met sy kop onder die water gevoel.

Happy die tweejarige seekoei het as nuweling en die jongste ’n lae profiel op Binga se verjaardagvieringe gehandhaaf, ten spyte van die ysvrugte wat aangebied is. Foto: Deaan Vivier
Die Kaapse aasvoëls het met knarsende gelukwensings hul bydrae tot die joligheid gelewer. Foto: Deaan Vivier

Hy het sy partytjie-eetgoed buite die openbare oog geëet.

Diesel die luiperd was die partytjie se katjie van die baan.

Daar was twee bont sokkerballe in sy kamp om mee te speel. Die balle het nie lank oorleef nie.

Charlie en Landa, die twee olifante, het met uitgestrekte slurpe die verrigtinge gade geslaan, wagtend op húl versnaperings.

Charlie was egter watersku en glad nie beïndruk dat die appels in sy plaspoel gegooi word om hom na die water te lok nie.

Landa moes dit vir hom nader hark.

Die Kaapse aasvoëls was in die sewende hemel: Hulle het met flapperende vlerke hul vars kos – en nie ander se oorskiet nie – ingewag terwyl hulle knarsend vir Binga doer duskant gelukwens.

‘Partytjie-pakkies’ stimuleer diere

Tracy Rehse, bestuurder van diere-insameling en bewaring by die dieretuin, sê die “partytjie-pakkies” is eintlik deel van hul program om die diere te stimuleer.

“Dit is nie genoeg om diere in aanhouding net te voer nie. Hulle moet gestimuleer word en soveel moontlik aktiwiteite doen soos wat hulle in die natuur sou doen.

“Ons gee hulle dus uitdagings, takies, wat hulle dwing om te dink – van die voëls, roofdiere tot die reptiele en seekat,” verduidelik sy.

Kos sal dus so verpak word dat die diere die bokse moet oopskeur. Ander kere word dit oor ’n kamp heen versprei of “weggesteek” sodat hulle daarvoor moet soek, soos in die natuur.

Speelgoed, soos Diesel se sokkerballe, dien dieselfde doel.

Die sokkerbal was nie lank bestand teen Diesel se slagtande nie. Foto: Deaan Vivier
Hoewel albei sokkerballe wel vir Diesel die luiperd bedoel was, het hy dit selfs nadat hy dit pap gekou het, besitlik vasgehou. Foto: Deaan Vivier
Diesel die luiperd het hom min aan die ander diere gesteur, nadat hy twee sokkerballe in sy kamp gekry het. Foto: Deaan Vivier



Meer oor:  Johannesburg  |  Dieretuin  |  Verjaarsdag  |  Gorilla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.