Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Skaap dink sy’s ’n lam-brador!

Bokkie, bring vir skapie, ons gaan see toe!

Honde moet deesdae maar bedees meeding met skaap se kind vir hul base se aandag op die strand.

Die afgelope feestyd was daar op so­siale media sommer baie foto’s van mense wat met ’n troetelskaap op die strand ontspan.

Rapport het Vrydag afgesit Pringlebaai toe, waar die ooi Montana ’n groot celeb­rity is. Haar “ouers” is Binkie en Gary Lees, onderskeidelik die eienaar van ’n tuisskool en ’n ingenieur.

Binkie se leerlinge was vier jaar gelede op ’n skaapplaas in Swellendam toe hulle ’n vroeggebore lammetjie sien “wat iets fout het met haar bene, en basies dood is”.

Die egpaar het die dier ingeneem en versorg.

Sy kan hekke en die yskas oopmaak.

“Ag, sy was maar net vel en been, verskriklik klein,” sê Binkie. “Ek’t nog gedog hier weet ek nou niks van skape nie, toe neem my labradortjie, Moonshine, haar net aan – en daar het die liefde begin.”

Gary sit eenkant, streel oor die skaap se kop.

’n Skaapboer het hulle gewys hoe om die skapie te red. Hulle het bottels en formulemelk gaan koop. Die kinders het ingespring en vier en ’n half jaar later is Montana deel van die gesin.

Die skaap Emma is al tien jaar by haar baas, Marie le Roux. Foto: Facebook

“Ek dink Montana dink sy is ’n hond, ja, sy’s my ‘lam-brador’,” sê Binkie. “Sy het eers elke dag skool toe gegaan, maar dit het nie mooi gewerk nie, want sy het die kinders se boeke geëet.

“Nee, sy is lieflik en baie slim. Sy kan hekke oopmaak, kospakkies oopmaak en die yskas oopmaak. Sy en Moonshine het al saam weggeloop, dan stap hulle dorp toe, strand toe, dan kom hulle weer terug.

“Soggens moet jy haar koppie vryf, ‘hallo’ sê en mielies voer. Sy is ook mal oor lusern en duinebossies. Ons gee haar ook opgesnyde beet en pampoen in ’n bak. Sy drink natuurlik baie water.

Snoepie en haar baas, Willem Richards van Fisherha
Snoepie en haar baas, Willem Richards van Fisherhaven, ontspan op Onrus se strand. Foto: Facebook

“Ons moet haar ook skeer, ja, sommer self. Drie keer ’n jaar . . . Dit vat ’n hele dag, maar ons gee haar Rescue Remedy dat sy kalmeer!”

Binkie lag uit haar maag uit.

“Sy gaan ook nie ín die see nie. As ’n lammetjie het sy wel, ja. Die kinders is mal oor haar en sy oor hulle.

“As die mense inkopies doen, gryp sy soms hul sakke. Sy het eendag in die dorp ’n vrou se samoesa uit haar sak gesteel. Gelukkig was dit nie ’n lamsvleis-samoesa nie! Sy is baie stout, maar nie dom nie, hoor. Liefdevol. As sy ons nie sien nie, dan blêr sy.

Moonshine die Labrador, het hom oor Montana, ontferm.

“Op die strand is daar soms mense wat nog nooit aan ’n skaap geraak het nie, dan vat hulle so aan haar. Die honde ruik-ruik aan haar en los haar dan.”

Binkie vertel Montana het al op die einste strand per ongeluk in ’n fotosessie met ’n model en in ’n troue beland.

“Wel, sy het by ’n huwelikseremonie op die strand op die rose afgepyl. Toe sit die mense rosies in haar bandana en toe is sy deel van die troue!

“Sy bring regtig vreemdelinge nader en is ’n aanknopingspunt vir gesels. Saterdae op markte is Montana ook daar. Sy is die grassnyer van die dorp!”

Montana kom aangehardloop.

“Kom ons hardloop see toe,” sê Binkie en gryp die dier.

“Sy’s oorgewig, maar vreeslik vinnig!” lag sy.

Meer oor:  Troeteldiere  |  Skaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.