Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Skok in swembad: ‘Die Here gee haar terug’

Klein Kaylin, wat in Desember vir ’n paar minute “dood” was nadat sy in ’n swembad beland het, is Dinsdag, op haar derde verjaardag, uit die hospitaal ontslaan.

Rapport het haar en haar ma, Juanita Dedekind (30) in Middelburg in Mpumalanga gaan besoek.

“Alle eer aan God. Die Here het haar vir ons terug gegee. Dit gaan baie beter met Kaylin. Sy is bietjie onvas op haar voete, maar die dokters sê dit is maar net die newe-effekte van die sterk medikasie waarop sy was. So ’n klein lyfie vat maar ’n rukkie om te herstel,” sê Dedekind.

Die skok van 23 Desember sit nog vlak in haar oë.

“Ons het net by die huis gekom van Voetpadkloof af waar ons vir die naweek was. Ons vier het hier in die sitkamer gesit en speel. Sy het letterlik net onder ons oë uit verdwyn.”

Sy sê haar moederlike instinkte het haar dadelik swembad toe laat hardloop. “Ons al drie het soontoe gehardloop. Haar sussie Ashley het haar eerste gesien. Toe dryf sy al.”

‘Sy is weer ’n normale dogtertjie.’

Dedekind en haar man Siegfried (39) kon nie enige teken van ’n polsslag of hartklop vind nie, maar het nooit vir ’n sekonde ophou glo nie.

“My man het dadelik met noodbehandeling begin en nooit daarmee opgehou tot by die hospitaal nie.”

By Middelburg-hospitaal het die personeel ingespring en by die ouerpaar oorgeneem.

“Toe sê hulle daar is nie ’n polsslag nie, nie ’n hartklop nie, niks,” sê Dedekind.

Sy haal haar skouers op met ’n skaam, blondekop Kaylin wat snoesig teen haar nesmaak.

“Toe het hulle maar aangegaan en ons het letterlik in twee kamers gaan sit en bid en lewe gespreek. Op die ou einde kom die verpleegsters uitgehardloop om komberse te kry en toe sê hulle daar is ’n polsslag.”

Kaylin is in Middelburg gestabiliseer, onder verdowing geplaas en toe per helikopter na Johannesburg vervoer.

“By die Garden City-hospitaal het dr. Miles Bartlett en sy span haar vir 72 uur onder verdowing ’n verkoelingsproses laat ondergaan. Hulle hou die liggaam op 34 °C. Ná die 72 uur verby is, verhoog hulle haar liggaamstemperatuur elke uur met 0.2 °C tot dit weer normaal is,” sê Dedekind.

Vir ’n oomblik staar sy deur die glas skuifdeur na die swembad. “Terwyl ons daar was, het hulle nog twee kinders daar aangebring wat in die moeilikheid was. Een van drie en een van tien jaar oud. Die tienjarige kind het dit nie gemaak nie.”

Klein Kaylin het soos die gesprek aangegaan het, al meer selfvertroue gekry en ’n plastiekbal heen en weer tussen haar en haar ma gegooi.

“Haar motoriese vaardighede is amper 100%. Sy is weer ’n normale, gesonde dogtertjie, al sukkel sy wanneer sy moeg raak met haar balans. Ek kan nie vir jou sê hoe dankbaar ons vir God is nie.”

Meer oor:  Middelburg  |  Redding  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.