Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Só is man verwyder wat Toks se vrou glo klap

Die man wat die oud-Springbok Toks van der Linde se vrou, Carol, op ’n vlug van Johannesburg na Kaapstad geklap en ’n “horrible bitch” genoem het, is onder passasiers se luide toejuiging deur polisielede van ’n Mango-vliegtuig af begelei.

Die vliegtuig was Saterdag 12 Oktober op pad om van Lanseria-lughawe af na Kaapstad op te styg toe die voorval plaasgevind het.

Van der Linde het die man se onderonsie met ’n lugwaardin op video vasgevang, waarna hy Van der Linde na bewering aangerand het.

Sergio dos Santos, Mango-woordvoerder, het bevestig die vliegtuig was reeds aan die beweeg op die aanloopbaan toe dit teruggedraai het na die terminus by Lanseria om die man en sy metgesel af te laai.

Die polisie ondersoek ’n klag van aanranding, wat Van der Linde by haar eindbestemming in Kaapstad ingedien het.

Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, het Sondagmiddag gesê die ondersoek, wat na Diepsloot in Gauteng oorgeplaas is omdat dit die naaste polisiekantoor aan die voorval was, is nog onderweg.

Carol van der Linde is deur ’n man op ’n Mango-vlug geklap en ’n neerhalende aanmerking toegesnou. Foto: Facebook/Carol van der Linde

Volgens Muridili is niemand nog in hegtenis geneem nie – “die ondersoekbeampte neem nog verklarings af”.

Die nasionale polisiewoordvoerders hanteer navrae, want lughawens is ’n nasionale sleutelpunt.

In die een video wat Netwerk24 gesien het, loop die man in die vliegtuig se nou gang af en gaan haal sy bagasie uit die bagasieruim ’n paar rye verder.

Sodra hy die bagasieruim oopmaak, begin passasiers hande klap en fluit.

Die man kyk vir die polisielid by hom en hou sy hande in die lug asof hy oorgee. Dan lyk dit asof die polisielid hom toestemming gee om sy bagasie uit te haal.

Sy vroulike metgesel volg kort op sy hakke en begin ook haar bagasie uithaal. Sy sê iets onhoorbaar vir ’n passasier agter haar en loop dan agter die man aan.

Minstens twee polisielede begelei hulle van die vliegtuig af.

Die onderonsie met die lugwaardin

Die man en sy vroulike metgesel het volgens Van der Linde se Facebook-inskrywing van hul sitplekke elders in die vliegtuig na die leë sitplekke langs haar, langs die nooduitgang, geskuif.

Die lugwaardin wou hê hulle moes terugskuif, aangesien vlugpersoneel reeds die inligtingsessie oor die moets en moenies van ’n nooduitgang afgehandel het.

Die man het egter volgens Van der Linde se Facebook-inskrywing gemaak asof hy nie die lugwaardin se Engels verstaan nie.

Sy skryf in ’n Facebook-kommentaar die man “het my begin record toe ek die hostess sê hy kan Engels praat. Ek het dit vir my eie veiligheid en evidence gedoen siende dat hy daarmee begin het”.

In die video wat Van der Linde geneem het, kan gesien word dat die lugwaardin vir die man vra om “te bly sit” en sê hy kan opstaan sodra die vliegtuig tot stilstand kom.

Dit lyk nie asof hy toe al besef hulle gaan hom aflaai nie, want hy hou aan sê hy “kan nie beweeg” terwyl die vliegtuig beweeg nie en sê hy sal skuif sodra die vliegtuig in die lug is. Die man verfilm sy gesprek met die lugwaardin.

Die man se vroulike metgesel staan op en verdwyn uit die selfoonkamera se gesigveld.

Die man draai dan na Van der Linde en sê: “You can take my picture you horrible bitch . . . okay?

Dan klap hy haar met sy linkerhand. Dit lyk asof hy die selfoon uit haar hand klap.

Toks het self ook oor die voorval getwiet. In een van sy twiets skryf hy: “Ons het uitgevind hy is ’n prokureur. Teen die tyd weet almal wat hy aan my vrou gedoen het. #maat jy beter hardloop# (Ons) maak ’n saak teen hom. Dit is tyd dat mense leer.”

Volgens beskikbare, maar onbevestigde inligting, is die man moontlik ’n prokureur wat met derdeparty-eise werk.

’n Vroulike passasier, wat op Facebook sê dat sy saam op die vlug was, sê egter die man het vir haar gesê hy is ’n vlieënier.

Toks het Sondag gesê hy en sy vrou wil nie kommentaar op die voorval lewer nie.

Volgens Dos Santos het die Mango-span die korrekte prosedure gevolg en die passasiers se veiligheid voorop gestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.