Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Só lyk kelnerin wat tamaai fooitjie kry, én verloor
Ilse Groenewald

Die kelnerin van Wellington wat verlede naweek ’n fooitjie van R19 600 by ’n klant in die kroeg ontvang het, wou tot nou toe nie haar naam bekend maak nie, omdat sy bang was vir negatiewe kommentaar en “dat die hele storie suur sou raak”.

Maar nadat die aanvanklike berigte oor haar verskyn het, waar sy onder die skuilnaam Lisa praat, het sy “eintlik net positiewe reaksie gekry” en besluit om nou haar gesig te wys.

Ilse Groenewald (23) van Wellington sê sy het nooit gedink so iets sal met haar gebeur nie.

“Ek het hom soos enige ander mens behandel,” sê Groenewald oor die man wat vir haar die tamaai fooitjie gegee het.

Die man se vrou het die volgende dag die kroeg Breezy Hill gevra om die geld terug te betaal. Die eienaar het dit gedoen. Groenewald het uiteindelik net R100 van die fooitjie van byna R20 000 gekry.

“Die dag nadat ek die tip gekry het, het ek en my kêrel gaan uiteet. Terwyl ons by die restaurant sit, het ek uitgevind ek gaan nie die geld kry nie,” vertel Groenewald, die naasjongste van ses kinders.

“Ek was natuurlik teleurgesteld, en dit was nie lekker nie. Maar dit is maar die lewe. Een deur gaan toe en dan gaan ’n ander weer oop. Jy moet maar die beste daarvan maak,” sê sy.

“Omdat ek een van ses dogters is, het my ouers maar vir ons elkeen net ’n bepaalde bedrag sakgeld gegee. As ek meer wou hê, moes ek daarvoor werk.”

Drie kelnerinne van Breezy Hill met die hempies aan waarop staan #NoemMyLisa.

Groenewald het toe op 16 op wynplase begin werk, en hier en daar bemarking gedoen. Dit het uiteindelik haar liefde geword, maar het ook kantoorbestuur by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie gestudeer.

“Nadat ek geswot het, het ek nie mooi geweet presies waarheen ek op pad is nie. Ek het myself probeer vind. Toe kry ek werk by Breezy Hill, en ek het vir hulle bietjie bemarking begin doen.”

Ilse Groenewald (23) van Wellington.

Dit is juis haar vernuf met bemarking wat Groenewald gedryf het om ná die fooitjie-voorval ’n bemarkingsveldtog onder die skuilnaam “Lisa” te begin.

“Ons het ’n gelukkige trekking gehou by die kroeg, en spesiale hemde laat maak vir die kelners. Agterop die hemde staan #NoemMyLisa. Ons het vir niemand gesê wie regtig Lisa is nie.”

Groenewald sê die storie was eintlik ’n lekker grap tussen die personeel by die kroeg, en die eienaar het selfs saamgespeel deur ’n T-hemp te dra waarop staan “No tip for Lisa”.

Groenewald sê sy voel jammer vir die man wat vir haar die fooitjie gegee het.

“Ek sal hom beslis nie dagvaar vir die geld nie. Ek wil nie geld vat van iemand wat dit dalk nodig het nie. Hy het net ’n fout gemaak,” sê Groenewald.

Meer oor:  Paarl  |  Kelnerin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.