Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Stappers gered ná angsnag op Tafelberg

Drie bergklimmers, twee mans en ’n vrou, het Saterdag ’n angsnag bo-op Tafelberg deurgemaak nadat hulle verdwaal het en die verkeerde roete geneem het weens mis op die berg.

Die twee mans, onderskeidelik 51 en 28 jaar oud, en die 28-jarige vrou het altesaam nagenoeg 20 uur en 25 minute op die berg gewag om gered te word deur drie spanne van die Wildernis-soek-en-redding (WSAR).

Die drie het Saterdagoggend douvoordag, omstreeks 4:30 met hul staptog begin, en ses uur later hulp gevra toe hulle nie meer geweet het waar hulle was nie.

Om te probeer vasstel waar die drie is, is hulle gevra om selfoonfoto’s te neem van die omgewing rondom hulle en dit aan te stuur vir die persoon in beheer van die reddingspoging.

Geeneen van die stappers was beseer nie. Volgens inligting is twee van hulle van Wellington in die Wes-Kaap.

WSAR sê hulle het ’n tydelike basis by die onderste kabelkarstasie opgerig en van hier af het die eerste span met die kabelkarretjie teen die berg opgegaan om die drie aan die westekant van Tafelberg op te spoor.

“Nadat die reddingspersoneel van bo af na onder geabseil het, kon hulle die drie mense hoor roep. Maar die reddingspersoneel kon nie naby genoeg kom nie, so ’n tweede span moes abseil vanaf ’n ander punt nader aan die drie stappers,” lui die verklaring.

“Op hierdie punt het die weer gedraai en dit het al moeiliker geword om te sien. Dit het koud geword en begin reën.”

Weens hierdie toestande was dit nie ’n opsie om ’n helikopter te ontbied nie.

“Die nat toestande, die moontlikheid van hipotermie en kommer oor vallende rotse was van die gevare wat die gestrande stappers sowel as die reddingspersoneel in die gesig gestaar het.”

Die tweede reddingspan het geabseil van ’n plek nader aan die stappers en kon tot op ’n punt kom waar hulle met die stappers kon praat. Daar is toe vasgestel dat baie langer toue nodig was om by hulle uit te kom.

Toe is ’n derde span gestuur om addisionele tegniese toerusting te bring na waar die tweede reddingspan toe was.

Die drie mense het teen die tyd al baie koud gekry en was honger. Saam met die langer toue en ekstra toerusting het die derde reddingspan vir hulle warm klere, kos en drinkgoed gebring.

“As gevolg van die uiterste toestande en die feit dat die reddingshelikopter nie gebruik kon word nie, was dit duidelik dat die reddingspoging redelik lank sou aanhou. Die reddingspoging het deur die nag voortgeduur en om 6:45 Sondagoggend was die drie stappers en meer as 20 redders veilig van die berg af.”

Dit was met behulp van skenkings dat die reddingspan en die drie stappers iets gehad het om te eet en drink. Onder andere Jeff Ayliffe, ’n Kapenaar wat daarvoor bekend is dat hyhandstande op gewaagde plekke oor die land heen doen, het mense op Facebook gevra om van die eet- en drinkgoed wat die reddingspan nodig het, te skenk.

“As iemand in staat is om warm kos en drank vir die vrywillige reddingspan te voorsien, sal hulle dit baie waardeer,” het Ayliffe op Facebook geskryf.

“Baie dankie aan elkeen wat gereageer het of ’n bydrae gelewer het. Ons het vanaand voldoende hulpbronne vir die span,” het David Nel later op Facebook laat weet.

Ná die reddingspoging het WSAR in ’n verklaring ’n paar punte genoem waaraan stappers moet dink voordat hulle hul staptog aanpak:

  • Gebruik professionele gidse
  • Wees vertroud met die roete wat jy wil neem
  • Neem warm klere, ’n kaart, ’n fluitjie, ekstra kos en water in jou rugsak
  • Kies ’n roete wat geskik is vir al die lede van jou geselskap

Kyk hier na 'n deel van die reddingsdrama. 

Meer oor:  Tafelberg  |  Stappers  |  Redding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.