Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: 'StopnGo' swaai nou stert by nuwe huis

“Vanaand slaap dié pragtige hond voor my bed.”

So sê dr. Elize Dyason (92) van Benoni aan die Oos-Rand nadat sy Dinsdag die rondloperhond StopnGo met ope arms in haar huis verwelkom het.

Netwerk24 het verlede week berig oor dié hond wat liefde gaan soek het by ’n stop-ry-beheerpunt langs die R28 aan die Wes-Rand.

Dyason sê toe haar Beeld Saterdagoggend afgelewer word en sy die berig lees, het sy dadelik die nommer onderaan die storie gebel.

Stopngo, oftewel George, by sy nuwe huis in Benoni aan die Oos-rand. Foto: Simon Sonnekus

“Die hond se hartseer oë het my aangeraak. Ek het geweet hier is meer as genoeg liefde en vreugde in my huis en daarom was ek vasberade om hom aan te neem.”

Dyason het hom ’n nuwe naam gegee – George.

Dis goed, want hy het in elk geval nie gereageer wanneer hy StopnGo genoem is nie.

Dyason het allerhande planne met die nuwe liefde in haar lewe.

“Vir jare is ek en William, ’n poedel, alleen in die huis en die nuwe toevoeging is beslis baie opwindend.

“Eers gaan ons vir George by die veearts uitkry, dan moet ons hom leer hoe om in die motor te ry en dan moet hy ook daaraan gewoond raak dat hy nou ’n huishond is.

“Ons is tweetalig (Afrikaans en Engels) hier in die huis, so nou kan William ook vir George ’n bietjie Engels leer,” skerts Dyason.

Chavani Construction wat die hond aan Dyason oorhandig het, is baie bly hy het nou ’n permanente huis.

“Dit is vir ons ook ’n blye dag – ons het gehoop om ’n goeie huis vir StopnGo te kry en kyk, hier het dit nou ’n werklikheid geword.

“Tannie Elize was feitlik die eerste oproep wat ek ontvang het. Behalwe dat sy gretig was om die hond aan te neem, is sy baie lief vir diere,” sê Kobus Swart van Chavani.

Elize Dyason (92) van Benoni, George se nuwe eienaar. Foto: Simon Sonnekus

Volgens Dyason is sy die gelukkige een.

“Die konstruksiewerkers het my lewe vernuwe en ek weet die reuse, pragtige hond gaan sommer baie gelukkig by ons wees.”

George – of StopnGo, soos die werkers hom gedoop het – het in Maart by die stop-ry-beheerpunt naby Poortjie rondgedwaal.

Van Chavani se werkers het vir hom kos gegee en hy het elke dag teruggekom.

“Hy was baie siek, verskriklik maer en kon skaars loop – ná ’n week het van die werkers wat die beheerpunt beman, my gebel om te sê ons moet die hond help. Ons het dadelik die hond gaan haal en na die konstruksieterrein gebring,” het Swart Vrydag gesê.

George het ook ‘n nuwe boetie, naamlik William die poedel. Foto: Simon Sonnekus
George het klaar die hart van Dyason se helper, Lizzy Msiza gesteel. Foto: Simon Sonnekus

Chavani het ’n pad in die omgewing gebou.

Die tydelike konstruksieterrein is langs die Lido Country Lodge.

Hulle het die hond gedokter en kos gegee, en hy het op die konstruksieterrein in ’n buiteband geslaap.

Die konstruksie-onderneming se projek sal na verwagting in Desember voltooi wees en daarom het hulle iemand gesoek om die hond aan te neem.

Dyason het die personeel van Chavani genooi om te kom kuier en koffie te drink.

“Dan kan jul kom loer of ek tog mooi kyk na George – moet ook nie vergeet om vir Bettie saam te bring nie.”

Bettie Khoza is ’n konstruksiewerker van Chavani wat na die hond op die konstruksieterrein omgesien het. Sy het vir hom kos gegee en met hom gespeel.

“Ek wil net graag hê hy moet ’n goeie huis kry,” het Khoza Vrydag gesê.

Meer oor:  Benoni
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.