Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Strande verlate op vakansiedag

Buiten vir ’n paar drawwers, stappers en fietsryers op die promenade in Durban, was die strande Woensdagoggend verlate.

Selfs in die parkeergebiede langs die gewilde eThekwini-kusgebied, wat Umhlanga en Umdloti insluit, was net plek-plek enkele motors te sien.

Dit is ’n vreemde gesig vergeleke met vorige jare wanneer Versoeningsdag vir baie die begin van hul Desember-vakansie is en honderde mense tradisioneel na die strande stroom. Dit wou Woensdag voorkom dat mense gehoor gegee het aan pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat KwaZulu-Natal se strande as voorsorgmaatreël teen die verspreiding van die koronavirus op openbare vakansiedae gesluit sal wees.

Volgens die jongste inligting Maandag is bekend gemaak dat daar 19 220 aktiewe koronavirusgevalle in dié provinsie is.

Strande in die e-Thekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal was Woensdagoggend stil.

Parboo Sewpersad, metropolisiewoordvoerder van eThekwini, het Woensdagoggend gesê hulle het nog geen probleme met enige branderplankryer of hengelaar op die strande in hul gebied gehad nie.

“Ons planne is gereed en word uitgevoer. Die promenade is oop. Daar is mense wat draf en fietsry. Verskeie kennisgewings is uitgestuur en aangebring dat die strande gesluit is. Sekere punte word beman en mense gee gehoor daaraan.”

Die metropolisie het ook ’n lugvleuel ingespan om beter polisiëring op die strande te doen, terwyl die polisie se honde-, berede asook soek-en-reddingseenhede ontplooi is.

Die e-Thekwini-metropolisie beman die promenade en strande om seker te maak dat die regulasies nagekom word. Foto: Facebook, EThekwini Municipality

Mxolisi Kaunda, eThekwini se burgemeester, het die inwoners Woensdag in ’n verklaring versoek om die jaarlikse vakansiegangers na die stad te welkom.

Hy sê hoewel die promenade oop is, moet die Covid-19-regulasies steeds nagekom word. Volgens hom sal die aandklokreël van 23:00 tot 04:00 streng toegepas word.

Hy het die publiek ook daaraan herinner dat die strande weer op 25, 26 en 31 Desember, asook 1 tot 3 Januarie gesluit sal wees. Die pretpark op die stad se sentrale strandfront sal ook op hierdie dae gesluit wees.

In die Oos-Kaap, waar alle strande van 16 Desember tot 3 Januarie gesluit is, is ook geen ernstige probleme aangemeld nie.

Mvusiwekhaya Sicwetsha, woordvoerder van die Oos-Kaapse premier, het Woensdag gesê die provinsie se strande is stil en hy het die publiek vir hul samewerking bedank. Hy sê die fokus sal nou val op tavernes om te verseker dat die Covid-19-regulasies nagekom word.

’n Metropolisiebeampte in die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap laat ’n man opstote doen op Brightonstrand nadat hy glo op die strand gestap het. Foto: Lulama Zenzile
Hobiestrand en die kenmerkende Shark Rock-pier in Port Elizabeth se strandfront was Woensdagoggend heeltemal verlate. Foto: Lulama Zenzile

Die owerhede het wel op Brightonstrand in Port Elizabeth afgekom op enkele mense op die strand, en hulle as straf ’n paar opstote laat doen.

Hoewel die strande in Kaapstad oop is, het Bheki Cele, minister van polisie, Woensdag verskeie strande besoek om te verseker dat die nodige personeel ontplooi is om te sorg dat strandgangers die regulasies nakom.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Woensdagoggend aan Netwerk24 gesê hul spanne is op bystand, maar hulle was nog nie uitgeroep na enige voorvalle nie.

Meer oor:  Durban  |  Tweede Vlaag  |  Vakansie  |  Strande  |  Inperking  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.