Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Tannie Evita het al in ’94 geweet Cyril sal wen

Tannie Evita Bezuidenhout, “die bekendste wit vrou in Suid-Afrika en in die ANC”, het al in 1994 geweet dat pres. Cyril Ramaphosa leierskap verstaan.

Ramaphosa was in 1994 ’n gas op die M-Net-program Funigalore wat deur Bezuidenhout aangebied is. Ramaphosa leer in dié episode vir Bezuidenhout hoe om forel te vang en die vis gaar te maak.

“Die feit dat Ramaphosa nie vir Madiba opgevolg het nie, was ’n teleurstelling,” sê Bezuidenhout. “Ek het hom dopgehou en gehoop hy kom terug na die mynveld van politiek.”

Tannie Evita Bezuidenhout was teleurgesteld toe pres. Cyril Ramaphosa nie vir oudpres. Nelson Mandela opgevolg het nie. Foto: Verskaf

Bezuidenhout sê toe sy destyds vir Ramaphosa gesê het dat hy eendag president gaan wees, het hy net mooi geglimlag.

Sy stuur vir Ramaphosa koeksisters om sy werk makliker te maak.

“Sy hande is vol ná die agt jaar van Zumafikasie van ons land. Die hele Suid-Afrika ly aan trauma,” sê sy. “Hy (Ramaphosa) moet op baie vlakke versigtig te werk gaan.”

Bezuidenhout sê dit voel asof sy uit ’n leeftyd van griep strompel noudat oudpres. Jacob Zuma nie meer president is nie. “Nou kan ons ten minste asemhaal.

“Toe ek sien ons president het onlangs in ’n ekonomiese sitplek op ’n kommersiële vlug sonder blou ligte, Guptas, of umshini-wams gevlieg, het ek weer besef: ons het ’n nuwe kans gekry om dinge reg te doen.”

Bezuidenhout is bekommerd oor die bekommernis van mense wat grondhervorming sien as die begin van die einde.

Sy sê die politici in die ANC en EFF wat mense aanspoor om grond te gryp behoort in die tronk te wees, nie “die arme siele wat gedink het hul tyd van huishou is hier nie”.

“Buitendien, onthou niemand dat ‘land grab without compensation’ die grondslag was vir die apartheidregime nie?” vra sy. “Kan ons dit wraggies weer doen? Ek twyfel.”

Bezuidenhout se raad vir mense oor grondhervorming is: “Voer jou diere, beskerm jou water, snoei jou heinings, fokus op vandag.”

Sy sê die regering moet deur voorbeeld lei omdat die meeste oop grond in die land aan hom behoort.

Oor die droogte in die Wes-Kaap sê Bezuidenhout, wat op Darling woon, sy hou haar by 50 liter per dag.

“Ek moet sê ek is siek en sat vir die fifty shades of grey water.”

Ek neem almal op ’n groot trek van 1652 tot waar ons vandag is en daar is baie goggas, spoke en d*****s waaroor ’n mens liggies met ’n skerp lem kan skuur.

Sedert Bezuidenhout in die parlement gedien het, het dinge baie verander.

“Ons het nooit die polisie in die Volksraad destyds toegelaat nie,” sê sy. “Hulle was alreeds daar toe ons inloop.

“As die parlement wel ’n gewilde realiteitsprogram op televisie word, sal meer mense besef wat aangaan in die hart van die nasie, en miskien geïnspireerd wees om self betrokke te raak in die politiek om dinge beter te laat verloop.”

Oor Floyd Shivambu van die EFF wat onlangs ’n joernalis by die parlement gegryp het, sê Bezuidenhout dit is presies wat Hitler en sy makkers destyds gedoen het. “Hulle het uiteindelik verloor. Die EFF skiet homself in die voet.”

Sy hou duimvas vir Patricia de Lille. “Sy is ’n ou vegter wat nie gevangenes neem nie. Die DA moet oppas. Tannie Pat sal hulle almal laat les opsê.”

Bezuidenhout sal Sondagaand by die Suidoosterfees haar staatsrede lewer wat sy al vir 21 jaar by Evita se Perron op Darling op ’n Sondag uitvoer.

“Ek neem almal op ’n groot trek van 1652 tot waar ons vandag is en daar is baie goggas, spoke en d*****s waaroor ’n mens liggies met ’n skerp lem kan skuur,” sê sy.

  • Tannie Evita Praat Kaktus word Sondag om 18:00 in die KykNET-teater in die Kunstekaap uitgevoer.
  • Kyk hier na die onderhoud wat Tannie Evita destyds met pres. Cryil Ramaphosa op haar program, Funigalore, gevoer het:
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.