Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Te veel hasies, te min spasie!

Die Oos-Rand het ’n hasie-plaag.

Die bekende Bunny Park in Benoni is al in 2015 toegemaak weens gesondheidsprobleme onder die diere in die park. Die hekke is gesluit, maar nie al die hase is verwyder nie.

Nou het hase – vermoedelik uit dié park, wat ’n gewilde skooluitstappie-bestemming vir Gautengse skole was – so aangeteel dat Oos-Randers hulle oral opmerk.

Nie almal is ewe opgewonde oor die wollerige diertjies in hul tuine nie.

Maar een inwoner, Tania Forest-Smith, ontferm haar oor die hase wat ander inwoners by haar huis aflaai: “Ek weier geen haas nie,” sê Forest-Smith, wat tans 38 hase by haar huis het. Sy werk vir ’n organisasie wat diere beskerm.

Forest-Smith soek voortdurend nuwe huise vir die hase en het saam met twee plaaslike tatoeëer-kunstenaars ’n geldinsameling begin om hase aan die Oos-Rand te laat steriliseer.

‘Ek weier geen haas nie.’

“Ek het intussen nog twee peetma’s vir die hase gekry,” sê sy. “Een peetma het al meer as tien hase in haar huis, die ander een het al meer as 50.”

Forest-Smith se verbintenis met die hasepark strek al ’n lang pad.

Daar was ook ’n koei in die park, Mister Brown, waarvoor sy so lief was dat sy ’n tatoeëermerk van haar op haar regtermaermerrie laat aanbring het met die koei se geboorte- en sterfdatum.

Die Ekurhuleni-metro wat vir die hasepark verantwoordelik was, trek skouers op oor die probleem. Jaco Burger, hoof van parke in die metro, het aan Rapport gesê: “Is jy mal in jou kop? Daar is glad nie meer hase in daai park nie.”

Die hoof van parke in Ekurhuleni sê daar is nie meer hase in Bunny Park nie. In die vervalle troetelplasie in die park tel Rapport egter meer as tien in ’n baie klein area.Foto’s: Deon Raath

Maar met Rapport se besoek aan die verlate park was daar meer as tien hase wat in ’n klein stukkie van die park rondgehop het.

Themba Gadebe, woordvoerder van Ekurhuleni, erken daar is wel nog hasies in die park, maar “slegs 50 hasies wat reeds gesteriliseer is”.

Tiaan Kotze, ’n DA-raadslid in Ekurhuleni, sê hy het ’n verslag waar die park se eie personeel bevestig daar is eintlik 180 gesteriliseerde hase in die park. Die werkers wat daar woon, het ’n groot probleem om kos te verskaf omdat daar ’n groot klomp “ander hase” ondergronds in dié area woon. Hulle is nog nooit gevang of gesteriliseer nie. “Die verslag is vanjaar op 25 April, tydens ’n munisipaliteitsvergadering, bekend gemaak.”

Toe die park gesluit is, sou al die hase aanvanklik na Johannesburg se dieretuin geskuif word. Maar die metro het besluit om eerder die hase as “skenkings” aan die publiek te gee.

Gadebe sê die hasepark sal in Julie volgende jaar weer oopgemaak word.

“Daar sal steeds slegs 50 gesteriliseerde hase toegelaat word,” hou hy vol. “Hulle sal glad nie vry rondhardloop nie, maar ons sal hulle in hokke aanhou.”

Hasies en tatoes. Tania Forest-Smith gaan saam met Adam Steel van Benoni se tatoe-winkel Be Art Tattoos help om die hasies van die Oos-Rand se verlate Bunny Park te red.

Forest-Smith sê die moddergooiery oor waar die hase vandaan kom, is nie die belangrikste nie. Sy wil hê hase en mense moet in harmonie saamleef.

Sy het op haar eie al meer as R40 000 bymekaar gemaak om die wilde hase te laat steriliseer, maar dit is nie genoeg nie.

Dit kos R1 100 om ’n haas te steriliseer, maar die Dierebeskermingsvereniging in Benoni is bereid om haar te help teen R350 per haas.

Be Art Tattoos, ’n tatoeëersalon reg langs die hasepark, het ingespring om te help.

Hierdie tatoe-manne sien gereeld hoe die hase die kerke in dié gebied se beddings verniel omdat hulle honger is.

“Ek sien elke dag hase wat hier uitkom,” sê Adam Steel, een van die eienaars van Be Art Tattoos. “Ons wil graag geld insamel om te help.”

Hulle gaan begin met ’n pretdag op 30 Junie in Pretoriaweg met kosstalletjies, motoruitstallings en ruk-en-rol-konserte.

jaco.nel@rapport.co.za

Meer oor:  Benoni
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.