Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Terug op moederaarde ná byna 80 dae in wynvat

Vernon Kruger (52) het “soos ’n sprinkaan” gevoel toe sy voete ná bykans 80 dae in ’n wynvat 26 m hoog in die lug uiteindelik weer aan moederaarde raak.

“Alles het baie kort en klein voorgekom. Ek was gewoond aan die hoogte,” sê hy.

Ná presies 78 dae, 23 uur en 14 minute het Kruger, ’n kommersiële duiker van Plettenbergbaai, sy tydelike tuiste verlaat.

Hy het Saterdag tussen 11:00 en 11:30 uit die vaatjie geklim wat op ’n 26 m hoë paal in Dullstroom, Mpumalanga, gemonteer is.

Hy is per helikopter teruggebring grond toe nadat hy byna drie maande vroeër ook met ’n helikopter in die vaatjie neergelaat is.

“Dit was nogal skrikwekkend, want dit was baie winderig. Hulle het gesukkel om my uit die wynvat te kry.”

Vernon Kruger het Saterdag uiteindelik sy 500 liter-wynvat in Dullstroom, Mpumalanga, met die hulp van ’n helikopter verlaat. Foto: Michele Meacher
Vernon Kruger maak gereed om uit die wynvat te klim. Die 500 liter-wynvat is op ’n 26 m-paal in Dullstroom, Mpumalanga, gemonteer.Foto: Michele Meacher
Vernon Kruger is met ’n helikopter in die wynvat gelaai en bykans 80 dae later weer met die hulp van ’n helikopter daaruit gehelp.Foto: Facebook/Michele Meacher

Die oomblik toe hy gras onder sy voete voel, het hy plat gaan lê en hom uitgestrek – iets wat hy nie in die vaatjie kon doen nie.

“Ná twee sekondes het hordes mense na my gekom,” vertel Kruger.

Toe is hy blitsig in ’n ambulans gelaai en na ’n stil plek geneem vir ’n ondersoek. Alles was darem piekfyn, behalwe dat sy voete effens geswel was.

Kruger het ook ’n “dronk gevoel” ervaar.

“Ek het gedink my liggaam gaan sterk wees omdat ek daagliks oefeninge gedoen het daar bo. Maar toe ek eers op die grond kom, was ek ’n bietjie wankelrig,” sê hy.

Noudat hy weer terug op die aarde is, voel die hele ervaring soos ’n droom.

“Dit voel nie asof dit ek was wat daar bo was nie. Ek begin nog self gewoond raak aan die idee.”

Saterdagaand is Kruger eers ná middernag bed toe ná ’n partytjie.

“Ek het gebad en heerlik geslaap – dit was fantasties.”

Die oomblik toe Vernon Kruger se voete grond raak, het talle mense op hom toegesak om hom geluk te wens met sy rekord.Foto: Facebook/Michele Meacher
Vernon Kruger op pad terug grond toe nadat hy bykans 80 dae in ’n wynvat in die lug gewoon het.Foto: Michele Meacher
Vernon Kruger se laaste oomblikke in die wynvat voordat die helikopter hom kom haal.Foto: Michele Meacher

Verbeter rekord

Kruger is op 14 November per helikopter opgeneem na die eikehoutwynvat op die paal. Die bloekomhoutpaal is sowat 3 m diep in die grond geplant en met drie kabels gestut.

Reeds op die 67ste dag (20 Januarie) het hy sy eie Guinness-wêreldrekord verbeter, maar besluit om langer te bly.

Kruger het in 1997 sy eerste rekord op 29-jarige ouderdom opgestel toe hy 67 dae en 14 minute in ’n 500 liter-wynvat op ’n paal van 21 m deurgebring het.

Dié keer was die paal 5 m langer as 22 jaar gelede, maar die wynvat was dieselfde grootte.

Hy het vroeër gesê die vaatjie is baie klein en dat hy skaars kan opkrul om in ’n fetusposisie te lê.

Kruger het besluit om hierdie uitdaging weer aan te pak om ’n verskil te maak in die lewe van Suid-Afrika se kwesbare kinders. Benewens dat hy sy eie rekord wou verbeter, samel hy geld in vir die Belfast-kinderhuis en Epilepsie Suid-Afrika (Mpumalanga en Limpopo).

Wanneer die son te erg raak, het Vernon Kruger onder ’n sambreel geskuil. Maar hy sê die son het hom nogtans gebrand in die bykans 80 dae in die wynvat. Foto: Michele Meacher
Vernon Kruger kon selfs vleis braai in die wynvat danksy ’n braaier wat oor die kant van die vat gehaak het. Foto: Michele Meacher
Vernon Kruger maak vroeër reg om te slaap in die 500 liter-wynvat nadat ’n erge storm Dullstroom in Mpumalanga getref het. Foto: Michele Meacher
Vernon Kruger op pad terug grond toe in ’n helikopter nadat hy bykans 80 dae in ’n wynvat in die lug gewoon het.Foto: Michele Meacher
Amper daar! Vernon Kruger waai na omstanders op pad terug grond toe. Foto: Michele Meacher

Goeie en slegte tye

Vir Kruger was die hoogtepunte die dag toe hy in die vaatjie geklim het, die dag toe hy sy eie wêreldrekord verbeter het, en die dag toe hy uit die wynvat geklim het.

Die belangstelling van die publiek het hom ook “soos ’n koning” laat voel daar bo.

Die laagtepunt was egter sowat ’n maand gelede toe hy vir ’n tydperk baie siek was.

“Ek het vir sowat vyf dae koors gehad. Toe raak ek baie negatief,” sê hy.

Met sowat vier seisoene in een dag was die weersomstandighede in Dullstroom ook nie grappies nie.

“Ons het baie donderstorms gehad. Dit het in ’n stadium vyf dae aaneen gereën en toe kon ek nie opstaan en uitstrek nie – ek moes net daarbinne sit,” sê Kruger. “Dit was moeilik en ek het ’n bietjie teneergedruk geraak.”

Nog ’n uitdaging was die vragmotors wat snags op die hoofpad naby die paal verbygery het.

Op die vraag of hy dit weer sal doen, sê hy: “Nee, ek dink dit is nou genoeg!”

Die wynvat is wel nog op die paal. Dit kan moontlik as ’n gedenkteken in die dorp bly.

Intussen word alle nodige bewyse en dokumente bymekaar gemaak sodat Guinness sy wêreldrekord amptelik kan maak.

Meer oor:  Vernon Kruger  |  Mpumalanga  |  Dullstroom  |  Wynvat  |  Rekord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.