Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Tieners vlieg oor Afrika met selfgeboude vliegtuig

’n 17-jarige leerling aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp is reg om van die Kaap na Kaïro te vlieg met ’n vliegtuig wat sy, met die hulp van 20 ander leerlinge, gebou het.

Megan Werner het Vrydagmiddag saam met van die tieners wat saam met haar aan die projek gewerk het, op die Kaapstadse Internasionale Lughawe met die media gepraat oor hul planne.

Hulle het Donderdag van Johannesburg af in Kaapstad aangekom nadat hulle sowat ses maande lank by Tedderfield Air Park suid van Johannesburg aan die vliegtuig gebou het.

Megan Werner het saam met 20 ander tieners ’n vliegtuig gebou. Sy en twee medevlieëniers vertrek Saterdag op hul reis van Kaapstad na Kaïro.Foto: Verskaf

Die 20 leerlinge, wat oor naweke en vakansies aan die vliegtuig help bou het, is deur ’n streng keuringsproses en is uit sowat 1 000 aansoekers gekeur.

Megan se ma, Belinda Werner, sê haar dogter “was nog altyd anders”.

Sy het as 12-jarige ’n inspirasieboek vir tieners – Ek maak die verskil – geskryf, maar gevoel sy wil iets groter doen. Dit is hoe sy op die idee gekom het om van die Kaap na Kaïro te vlieg in ’n vliegtuig wat gebou is deur tieners met geen ervaring in lugvaart nie.

Megan hoop om op dié manier aan ander tieners te wys dat enigiets moontlik is as jy jou hart daarop sit en daarvoor werk.

Megan sê die feit dat hulle reeds tot hier gekom het, is vir die span ongelooflik. Al was daar terugslae, het hulle dit dag vir dag gevat. Hulle “lag nou vir uitdagings” want hulle wéét hulle kan dit oorkom.

Hulle het ’n monteerstelsel vir ’n Sling 4-skroefvliegtuig met ’n enjin van 114 perdekrag gekoop. Een van die tienerbouers, Keamogetswe Seemela (15), vertel sy kon nie eens boor toe sy met die bouwerk begin help het nie.

Sy vertel dat hulle ’n deel van die vliegtuigromp reeds met klinknaels vasgeheg het toe die ingenieur wat hulle gehelp het, hulle daarop wys dat dit verkeerd om gedoen is.

Daar is altesame 17 000 klinknaels in die vliegtuig.

Die Sling4-vliegtuig met ’n enjin van 114 perdekrag, wat Werner saam met 20 ander tieners gebou het.Foto: Verskaf

Seemela vlieg saam met die drie vlieëniers tot by die Victoria-watervalle in die viersitplekvliegtuig.

Dié leerling van die Hoërskool Noordheuwel moet egter dan terugkom omdat sy eksamen moet skryf.

Megan, ’n matriekleerling, het vanjaar haar vlieglisensie gekry. Haar pa, Des, is ook ’n vlieënier.

Die boek Ek maak die verskil wat Megan Werner as 12-jarige geskryf het. Dit is onder meer in Engels en Russies gepubliseer. Foto: Verskaf

Haar medevlieëniers na Kaïro is Hendrik Coetzer (18) en Abel Dlamini (21).

Hulle styg Saterdagoggend vroeg van die Kaapstadse Lughawe op met hul eerste landing op Lüderitz in Namibië, waar hul doeaneklaring gedoen sal word.

Hulle sal teen sowat 240 km/h en teen ’n hoogte van gemiddeld 8 000 vt (2 400 m).

Die vliegtuig se maksimum vlieghoogte is 12 000 vt (3 600 m).

Van Lüderitz vlieg hulle na Sossusvlei, waar Megan die eerste motiveringspraatjie van hul toer sal lewer.

Hoewel die drie jong vlieëniers alleen vlieg, word hulle van ’n tegniese ondersteuningspan vergesel.

Hul roete van altesame 10 130 km gaan van Namibië na Zimbabwe, Malawi, Tanzanië, Kenia, Ethiopië en Eritrea. Op pad terug doen hulle Uganda, Rwanda en Zambië aan.

Hulle verwag om teen middel Julie terug in Suid-Afrika te wees.

Die groep het op BackaBuddy, ’n skarefinansieringswebtuiste, R350 000 ingesamel om hul reiskoste te dek.

Meer oor:  Hoërskool Noordheuwel  |  Megan Werner  |  Krugersdorp  |  Kaapstad  |  Kaïro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.