Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: 'Toe klou die luiperd se kake om my kop’

‘Ek het net die kakebeen hier oor my kop voel sluit.”

En het Rhea Myburgh (66) nie tóé geval nie, het sy dalk nie vandag nog gelewe om te vertel hoe die luiperd haar in die Moremi-wildreservaat in Botswana aangeval het nie.

Sy en haar man, Pierre, het verlede maand van Bettysbaai in die Wes-Kaap deur Botswana op pad na die Caprivi gereis.

Op 22 Mei het hulle saam met ’n groep uit die Paarl op ’n bootvaart op die Okavango-delta gegaan.

Toe hulle van die boot afklim, het hulle ses skote by ’n lodge daar naby gehoor. “Sjoe, dit was vreemd, maar ons het nie veel daarvan gemaak nie,” sê Rhea.

Eers later sou hulle uitvind ’n luiperd het vroeër die oggend ’n werknemer by een van die lodges langs die Xakanaxa-kamp, ’n klipgooi van waar die Myburghs gekampeer het, aangeval en doodgebyt. Later die dag het die dier ’n tweede werknemer aangeval.

Die Myburghs is vir aandete genooi en het omstreeks 21:30 begin terugstap na hul boswa, so 50 m verder. Hulle het ’n aanbod om hulle daar te gaan aflaai van die hand gewys.

Ons het maar begin toewerk met wat beskikbaar was...

Rhea het skuins agter Pierre gestap. So ses meter van die boswa af het die luiperd haar feitlik geluidloos van agter bespring en aan die agterkop beetgekry.

Rhea vertel sy het dadelik besef dit kan ’n hiëna of ’n luiperd wees. Dis toe dat sy kakebeen oor haar kop sluit.

“Wat my lewe gered het, is toe die dier my bespring, het ek onder hom uitgeval. Hy was dit dalk nie te wagte nie.” Pierre het omgeruk toe hy Rhea hoor skree. Hy het die agterlyf vol kolle oor sy vrou gesien voordat die dier opgespring en in die bosse verdwyn het. Alles was binne twee sekondes verby, sê Rhea. Die luiperd het sy greep verloor en hul gille het hom laat vlug.

Sy het dadelik opgestaan. Pierre het sy sakdoek uitgepluk en op haar bloeiende kopwond gedruk terwyl hulle geskree het.

Die toergroeplede het dit gehoor en was blitsig daar.

’n Chirurg, dr. Stefan Rost, en ’n radioloog, dr. John-Henry Corbett, het dadelik beheer oor die situasie oorgeneem en gevra vir gesteriliseerde water in vlekvryestaalhouers om die kopwonde skoon te maak voordat hulle die steke begin insit het.

Dr. Stefan Rost sit onder ’n flitslig steke in Rhea Myburgh se kopwonde.

“My tannie, dit gaan seer wees,” het Rost vir Rhea gesê.

Die wonde is onder ’n flitslig en ’n flou maan sonder enige verdowing geheg.

Die adrenalien het teen die pyn gehelp. Sy het net aan die baie hande om haar vasgeklou.

Rost het aan Rapport gesê almal het maar geskrik. “As jy bloed sien, druk jy maar toe met wat jy kan. Op daai oomblik het ek en John-Henry nie meer aan die luiperd gedink nie, ons het maar begin toewerk met wat beskikbaar was. Definitief nie van ons mooiste werk nie, net bly sy is nie erger beseer nie.”

Rhea sê: “Die twee dokters is absoluut my helde. Hulle het vir my pynstillers en antibiotika gegee. Die ondersteuning en bemoediging van ons nuwe vriende en Pierre het my deur die ervaring gedra.”

Sy was dié nag bekommerd dat die luiperd kon terugkeer omdat hy haar “geproe” het.

Die volgende oggend het beamptes van Botswana se natuurlewe-owerheid en soldate opgedaag en die Myburghs se verklarings afgeneem.

Hulle wou die egpaar daar en dan Maun toe laat vlieg, maar omdat Rhea reg gevoel het en nie wou hê Pierre moet hul boswa alleen op die slegte pad terug bestuur nie, het hulle die aanbod vriendelik van die hand gewys.

Op pad het hulle verneem die luiperd is gejag en doodgeskiet.

’n Dagreis verder het die egpaar Maun bereik, maar “alles was toe”.

Hulle is na Okavango Air Rescue verwys, waar Rhea se wonde skoongemaak en van die steke vervang is. Sy is ook teen klem-in-die-kaak en hondsdolheid ingespuit.

Hier is ook vasgestel die dier se tand het weefsel in haar mond geskeur. “En dit is waar jou reis stop,” het die dokter droogweg opgemerk.

Twee dae later het die Myburghs in Pretoria aangekom, waar ’n oor-neus-en-keelspesialis ook ’n wond in Rhea se oorkanaal behandel het.

Aan die einde van wat vir die egpaar ’n “mediese toer” geword het, is Rhea se steke op Mosselbaai uitgehaal. Dié dokter het verklaar “alles verloop mooi”.

Volgens Rhea het die dankbaarheid dat sy lewe en die moeite wat mense gedoen het “die skrik geneutraliseer”.

Pierre sê op hul volgende toer vat hy “steke” saam.

Die egpaar waarsku mense om versigtig te wees: “Jagdiere verloor hul vrees in die donker. Hulle het ’n vrees vir die mense, maar sodra daai donkerte kom, verdwyn die vrees.”

Meer oor:  Botswana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.