Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Touwsrivier se leraar bou brûe

In sy nuwe amp as leraar in die NG gemeente Touwsrivier wil ds. Andrew Esterhuizen seker maak dat die storie vertel word van bruin en swart gemeenskappe se seer oor gedwonge verskuiwings en om tot tweederangse burgers gereduseer te word.

Baie mense voel die NG Kerk weet nie watter skade regtig aan bruin en swart gemeenskappe aangerig is nie, sê hy.

“Mense sê nou ek is ’n ‘brugbouer’, wat vrede tussen mense en oor grense moet help bring,” het Esterhuizen, voorheen van die VGK-gemeente Kraaifontein, Vrydag op dié Karoodorp gesê.

Sy aanstelling is ’n eerste in kerkgeskiedenis. Touwsrivier, wat net 160 lidmate het, glo dié gemeente se toekoms lê daarin om multikultureel te raak en moontlik om met die VGK-gemeente in die dorp saam te smelt.

Esterhuizen was die afgelope 25 jaar betrokke by gemeente­begeleiding en as “pastor vir die pastors”, oftewel pastorale berader vir predikante en hul gesinne.

“My hele loopbaan het my vir dié taak in my aftreejare in Touwsrivier voorberei,” sê hy.

Esterhuizen sê hy het twee opdragte van Touwsrivier se kerkraad ontvang: om “pastor” of herder vir die gemeente te wees, en om die gemeente te neem op ’n weg na ’n volhoubare multikulturele bedieningsmodel.

“Die gemeente kan nie meer net vir hulself bestaan nie, maar wil vir die hele gemeenskap oop wees,” sê hy.

Gerhard du Toit, voorsitter van die kerkraad, sê dit behoort vir geen kerkraad ’n probleem te wees om ’n man of vrou uit die VGK na die NG Kerk te beroep nie. “Dit is meer as 20 jaar die Nuwe Suid-Afrika in. Ds. Esterhuizen het ’n besonderse aanslag met kinders en gemeentelede.”

Esterhuizen glo sy aanstelling is deel van ’n lang proses van versoening tussen die voorheen aparte gereformeerde kerke.

“So vyf jaar gelede was daar ’n stroomversnelling. Die Wêreldbond vir Gereformeerde Kerke het aangebied om as fasiliteerder op te tree.

“Daar is besluit op ’n memorandum van ooreenkoms dat die verskillende kerke hulself verbind om een te word.

“Twee taakspanne is aangewys: een om gemeentes met die kerkordelike reëlings te help en die opstel van ‘tussen-orde’ en die ander om gemeentes voor te berei ‘om saam te reis’ en om menswaardigheid te bevorder.

“Dít gebeur nou op Touws­rivier,” sê Esterhuizen.

“Daar was al vorige pogings om die verskillende gemeentes saam te smelt, maar daar was nie duidelike riglyne in die Kerkorde nie. Nou maak die tussen-orde daarvoor voorsiening.

“Op Touwsrivier kan die NG- en VGK-gemeentes een word, en later ook die Ringe.”

Esterhuizen is vir ses maande aangestel, met die opsie om dit met nog ses maande te verleng.

Meer oor:  Touwsrivier  |  Predikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.