Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Trane rol toe Koben (16) sy hond Rex vasdruk
Rex laat sy kop rus op sy eienaar, Koben, se skouer. Foto: ANNELIZE HOFMEYR
Koben Hofmeyr en sy hond, Rex, het mekaar drie maande gelede gesien. Foto: ANNELIZE HOFMEYR
Die bokserhond Rex wag vir Koben Hofmeyr, sy baas, om huis toe te kom. Foto: ANNELIZE HOFMEYR
Koben Hofmeyr gee sy hond, Rex, ’n stewige druk. Foto: ANNELIZE HOFMEYR

Die trane het gerol toe Koben Hofmeyr (16), wat in Mei sy nek in ’n rugbywedstryd beseer het, Woensdagaand die eerste keer in drie maande weer sy geliefde hond, Rex, teen hom kon vasdruk.

Koben het toestemming gekry by die Mediclinic Muelmed se rehabilitasie-eenheid in Pretoria, waar hy aansterk, om die langnaweek by sy ouerhuis in Louis Trichardt in Limpopo te kuier.

“Sy grootste bekommernis was dat Rex hom nie gaan onthou nie,” sê Annelize Hofmeyr, sy ma.

Rex het Koben toe nié vergeet nie en met sy voorlyf teen sy baas se skoot in sy rolstoel geleun toe hy Woensdagaand laat by die huis aangekom het.

Koben het Rex omhels en die bokserhond het sy kop liefdevol op sy skouer laat rus. “Dit was ongelooflik om te sien,” sê Annelize.

Sy sê die gesin is vol “vreugdevolle verwagting” vir Koben se eerste kuier by die huis sedert Mei. Dit is Donderdag presies drie maande sedert Koben sy nek beseer het.

“Daar is ook maar ’n benoudheid oor hoe hy gaan voel. Sedert sy ongeluk het alles handomkeer verander,” sê Annelize.

Koben moet steeds met ’n rolstoel oor die weg kom, maar het al goeie vordering in sy herstelproses gemaak.

Hy was die kaptein van die Hoërskool Louis Trichardt se o.16-rugbyspan toe sy nek in ’n wedstryd in Bela-Bela (Warmbad) teen die Hoërskool Warmbad beseer is.

Hy het sy C4- en C5-nekwerwels beseer en sy C6-nekwerwel is ontwrig.

Koben het geen gevoel van sy bors af ondertoe gehad nie. Hy moes twee operasies in die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria ondergaan.

Hy het stelselmatig die gevoel in sy bolyf, arms en hande teruggekry.

Annelize Hofmeyr en haar seun, Koben, kort nadat hy sy nek in Mei beseer het. Foto: VERSKAF

Danksy die intensiewe rehabilitasie, wat fisio- en arbeidsterapie insluit, kan hy al sommige van sy tone aan albei voete beweeg. Hy kan ook al sy bene van die vloer af lig, sy eie skoene vasmaak en homself uit sy rolstoel lig om op ’n bank of bed te sit.

Hy oefen nou om sy spiere sterker te maak en om self te kan staan.

Koben het onlangs in ’n video wat sy pa op Facebook geplaas het, gesê “ek sit soos ’n gewone kind, ek dink nie eens meer daaraan dat ek verlam is nie.”

Intussen het weldoeners ingegryp toe die gesin se mediese fonds aangedui het dat dit nie meer ná Augustus vir Koben se rehabilitasie sal kan betaal nie.

Annelize sê Koben sal ten minste tot Oktober rehabilitasie moet ondergaan.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.