Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Uber-bestuurder ‘red ons lewe’

Haar Uber-rit het byna skeefgeloop toe vyf mans dié voertuig wou kaap, maar danksy die bestuurder se vinnige optrede het sy ongedeerd by haar bestemming aangekom.

Met ’n knop in haar keel vertel Michelle Loubser hoe dié bestuurder haar lewe gered het.

“Hy is my held,” het Loubser Woensdag gesê.

Sy was Saterdag saam met haar Uber-bestuurder, Phumlani Tshabalala, na ’n verjaarsdagpartytjie in Johannesburg se Maboneng-gebied op pad.

Michelle Loubser sê Phumlani Tshabalala, ’n Uber-bestuurder, is haar held nadat hy vermeende kapers in die stof laat byt het. Foto: Simon Sonnekus

Terwyl die voertuig by ’n rooi verkeerslig stilgehou het, het ’n groep mans hulle genader.

“Dit het so vinnig gebeur. Die een oomblik gesels ek en Phumlani oor ons families en die volgende oomblik sien ek hoe ’n man met ’n vuurwapen herhaaldelik teen die regterkant se venster kap en op ons skree,” sê Loubser.

Die verdagtes het aan die deure geruk en dit probeer oopmaak en met ’n voorwerp hard op die dak geslaan.

Phumlani Tshabalala, ’n Uber-bestuurder, sê hy is bly hulle is veilig nadat vyf kapers hom aangeval het. Foto: Simon Sonnekus

Met die glasstukke op sy skoot, nadat albei vensters aan die bestuurs- en die passasierskant stukkend geslaan is, het Tshabalala geweet hul lewe is in gevaar. Hy het dadelik voet in die hoek gesit.

“Ek wou seker maak dat ons veilig daar uitkom en dit is al waaraan ek kon dink.

“Daar was ’n voertuig voor my, maar ek het vinnig uitgeswaai en weggery,” sê Tshabalala.

Die voorval het omstreeks 17:30 gebeur.

’n Beskeie Tshabalala wat sedert Februarie ’n Uber-bestuurder is, sê hy is bly hulle het niks oorgekom nie.

“Ek moes op my voete dink en gelukkig kon ek wegry voordat iets ergers gebeur het.”

Vir diegene wat gedurig Uber-bestuurders slegsê, glo Loubser hulle beter nou twee keer dink.

“Phumlani se flink optrede is die rede dat ek daardie dag kon huis toe gaan met ’n klein skrapie aan my vinger en weer my gesin kon sien,” sê sy.

“Die mans was aggressief en ek het vir ’n oomblik gevries, want ek kon nie glo wat besig is om te gebeur nie, maar Phumlani was kalm en het kopgehou. Hy is nie net my held nie, maar iemand vir wie ek ewig dankbaar is.”

Tshabalala moes sy vensters vervang en die duike in sy voertuig is nog duidelik sigbaar, maar dit is die laaste ding waaroor hy bekommerd is.

“Ons is veilig en dit is al wat saakmaak,” sê hy.

Michelle Loubser was Saterdag op pad na Maboneng in Johannesburg, toe die Uber-motor waarin sy gery het, deur kapers aangeval is. Foto: Simon Sonnekus
Meer oor:  Heldedaad  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.