SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Man oorleef val van bykans 300 m

“Boeta, die bloed loop by jou oë, ore, neus en mond uit. Gee jy om as ek vir jou bid?”

Dit was die eerste woorde wat ’n sakeman van Bloemfontein gehoor het nadat hy 950 voet (290 m) ver geval het in ’n valskerm-ongeluk by Klerksdorp toe ’n ander springer op sy valskerm beland het.

Hannes Pieterse het sy nek, 12 ribbes en sy linkeronderbeen op vier plekke gebreek toe hy en Deon van Wyk, ’n Durbaniet, wonderbaarlik ’n valskerm-ongeluk oorleef het.

Hannes Pieterse (46) sê hoewel dit op 5 Augustus 2017 gebeur het, is dit nou maar die tweede keer dat hy daaroor praat.

Hy het sy nek, 12 ribbes en linkeronderbeen op vier plekke gebreek. En nogtans het hy “onverklaarbaar” oorleef.

Hannes Pieterse, ’n sakeman van Bloemfontein, het in 2013 begin valskermspring en in 2017 ’n fratsongeluk oorleef. Hoewel hy vir vyf jaar ná die ongeluk nie weer mag spring nie sodat sy rugmurg kan herstel, beplan hy om dit weer te doen.

Soos op enige ander dag, het hy as ervare valskermspringer die reëls met militêre dissipline gevolg.

“Een, klein fout, een grap, kan jou dood beteken.”

Hulle was nege mans in die vliegtuig en het ooreengekom om in ’n patroon te sweef eerder as om te spiraal.

Vier het eerste gespring, dan drie, dan twee, met vyf sekondes tussenin.

“Ek het gesien daar gaan Jorrie, daar gaan Junior, Janus, my vriend, so ek is volgende.

Sweef in ’n patroon

“Ons is uit die vliegtuig op 13 000 voet. Ons vryval saam tot op 4 500 voet, breek dan weg van mekaar en maak oop op 3 500 voet. Die valskerm neem sowat 1 000 voet om ten volle oop te maak, dus tot op 2 500 voet.

“Sodra jou valskerm oop is, kyk jy bo jou, langs jou, onder jou. Jy het in totaal vyf checks wat jy moet doen.”

Op 2 500 voet is jou valskerm oop. Tot op 1 000 voet (304 m) het jy vyf sekondes, dan móét jou nood-valskerm oop, of minstens getrek wees, sê hy.

“Die volgende oomblik, kom daar ’n ou regdeur my doek van bo af. Toe spiral hy in my in.

“Binne ’n sekonde trek ek by 750 voet (229 m). Te laat.”

Hy het geweet hier kom die dood.

“Ek het daardie 950 voet in sewe sekondes geval. Ons het die grond teen 140 km/h getref.”

Die ander valskermspringer, Deon van Wyk van Durban, het in sy toue verstrengel geraak en hulle het die grond saam getref.

Hannes Pieterse, ’n sakeman van Bloemfontein, kan nou eers praat oor ’n valskermongeluk wat hy en Deon van Wyk van Durban in 2017 oorleef het. Foto: Mlungisi Louw

‘Help my’

Die drie sekondes voordat hulle die grond getref het, het hy om hulp geroep.

“Daar’s net één manier, en dit is as daar ’n God is, dan moet ek nóú sê: ‘Help my.’ ”

Hy raak emosioneel.

“Ons het gehop. So hoog soos hierdie lessenaar. Niemand oorleef so ’n bounce, soos wat hulle dit noem, nie.

“Alles bars binne jou.”

Hy en Van Wyk is sover bekend die enigste mense in Suid-Afrika wat al só ’n hop oorleef het.

Hannes Pieterse Foto: Mlungisi Louw

Van Wyk het skedelbreuk opgedoen en albei sy sleutelbene en sy bekken gebreek.

Hulle het langs die landingstrook gelê, en hoewel Pieterse niks kon voel nie, het sy oë geknip. Toe besef hy hy leef.

Langs hom het Van Wyk geroggel en skielik ophou asem haal.

Christo Myburgh, een van die paramedici, het aangehardloop gekom en gevra of hy vir Pieterse kan bid.

“Hy het net sy hand so bo my gehou.”

Die “verskriklikste pyn” het deur sy lyf geskiet omdat die lewe terug gekom het.

Pieterse het in sy mond gekrap om iets uit te kry wat gekeer het dat hy kon asemhaal. Myburgh het gekeer toe hy besef dis dele van sy long.

Intussen het Van Wyk weer begin asemhaal.

Nog paramedici, wat ook gespring het, het nader gekom en die gebied afgesper.

‘Wees rustig’

Sy vrou is aangesê om langs hom in die ambulans te sit, want hulle het geglo dit sou hul laaste oomblikke saam wees.

In die Life Anncron-hospitaal was die twee valskermspringers in die trauma-eenheid en later die hoësorgeenheid.

“Ek het net hierdie teenwoordigheid ervaar wat vir my sê ek moet rustig wees.”

Dr. Antonie Botha is in die oggendure ontbied.

“Hy het my voet geknyp en gevra of ek sy hand kan voel. Toe ek ‘ja’ sê, het hy met die sagste gesigsuitdrukking gesê: ‘Ek weet nie hoekom jy kan nie. Ek weet nie hoekom jy leef nie. Jy moet volgens jou skandering verlam wees.’ ”

45 minute in die MRI-skandeerder was net genoeg tyd vir hom om oor sy lewe te besin en te bely oor al die mense wat hy al te nagekom het.

Verdere skanderings het gewys hy het 17 fakture, 12 gebreekte ribbes asook nekwerwels C2,C3,C4, C6 en C7 gekraak. C5 was gebreek. As dié nekwerwel met ’n millimeter geskuif het, sou hy verlam gewees het.

Hoewel ’n sak van sy weefsel in ’n stadium langs hom in die hospitaal gelê het, was daar niks fout met sy organe ná die ongeluk nie.

“As jy nie glo nie, moet jy maar begin. Dis al wat ek gehad het, daar is nie ’n ding soos luck nie.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Sakeman  |  Val  |  Oorleef
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.