Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Van Coke se video-boodskap laat trane rol

Die musikant Francois van Coke het in ’n video-boodskap sy medelye betuig met die tienerseun van Gauteng wat die naweek sy ouers in ’n motorongeluk verloor het.

Francois van Coke aan die woord op die video wat hy vir die beseerde Jonathan de Vos en Catherine Myburgh gestuur het. Foto: Skermgreep

Jonathan de Vos (15) en sy suster, Chanté (6), van Henley-On-Klip naby Meyerton, is wees gelaat nadat hul ouers, Sylvia (38) en Francois (36), Saterdag vroegoggend verongeluk het.

Die ongelukstoneel.

Francois het tussen Sasolburg en Heilbron vermoedelik beheer oor hul Ford Ranger-bakkie verloor en in ’n boom vasgery. Die egpaar is op die toneel dood verklaar.

Jonathan en sy vriendin, Catherine Myburgh (15), was ook in die ongeluk en het ernstige beserings opgedoen. Chanté was by die De Vos-kinders se peetouers, Yolanda de Vos en Clive Coetzer. Die De Vos-kinders sal voortaan by die egpaar, ook van Henley-On-Klip, woon.

Van Coke het sy medelye teenoor Jonathan en sy familie betuig en die tieners ’n spoedige herstel toegewens.

“Hey Jonathan en Catherine, dis Francois van Coke hier. Baie jammer om oor jul ongeluk te hoor,” lui van Coke se boodskap.

“En Jonathan, baie jammer om te hoor oor jou ouers. My innige simpatie vir jou en die res van jou familie. En vir julle twee, ek hoop julle word vinnig gesond. Alles van die beste daar.”

Van Coke het by navraag aan Netwerk24 gesê ’n vriend van Jonathan het hom op Instagram gekontak en toe het hy die video vir hom per e-pos gestuur.

Jonathan de VosFoto: Facebook/Hoërskool Marais Viljoen High
Catherine Myburgh Foto: Facebook/Hoërskool Marais Viljoen High

Volgens Clive Coetzer, die familiewoordvoerder, was Jonathan aangedaan toe hulle Maandagmiddag vir hom die video in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton wys.

“Die trane het oor sy wange gerol.”

Jonathan, asook die res van die familie, is groot aanhangers van Van Coke, sê Coetzer.

Coetzer sê dit gaan baie beter met Jonathan. Hy herstel nog in die waakeenheid nadat hy Sondagaand aan sy been geopereer is.

Jolene Myburgh van Alberton, Catherine se ma, sê haar dogter, wat in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein opgeneem is, is ook ’n groot aanhanger van Van Coke.

“Sy het nog nie eens die video gesien nie, omdat sy onder verdowing is. Sy weet nie eens sy is in Bloemfontein nie.”

Hulle sal later die video vir haar wys, wanneer sy “meer by” is.

“Hierdie video sal regtig haar dag maak,” sê Myburgh.

Volgens haar het die operasie Dinsdag aan Catherine se gesig en arm goed verloop.

Sylvia en Francois de Vos, wat in die ongeluk gesterf het.

Intussen het die Hoërskool Marais Viljoen ’n plasing deur Nicole Pretorius, ’n familievriend van die Myburghs, op hul Facebookblad geplaas om geld vir Catherine se mediese koste in te samel.

“Haar ouers benodig R20 000 om haar dringend na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton te laat oorplaas,” lui die plasing. Die tieners is albei gr. 9-leerlinge aan dié skool.

*Om ’n bydrae te maak tot die fonds wat vir die De Vos-kinders gestig is, vir onder meer Jonathan se mediese koste, kontak Coetzer by 061 480 5712 of Coetzerclive@gmail.com.

* Om ’n bydrae te maak tot Catherine se mediese koste, kontak Myburgh by Jolenemyburgh75@gmail.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.