Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Veearts red wild in betonoerwoud

Sommige buitelanders se indruk dat daar wilde diere in die strate van Johannesburg ronddwaal, word dikwels as belaglik beskou.

Dit is natuurlik deels waar – ’n mens word nou nie deur ’n jagluiperd gejaag op pad na die Gautrein-stasie toe nie.

Een van die baba-muskeljaatkatte by die Johannesburgse sentrum vir wilde diere. Foto: Ashleigh Pienaar

Maar agter die stad se struike, in sy blaarryke bome en voorstedelike tuine, skuil ’n magdom wilde skepsels wat leef op dit wat die stad bied: van rotte en muise tot Parktown prawns (molkrieke) en kleiner insekte.

Vlermuise en uile word gereeld in woonbuurte opgemerk, maar die besige Goudstad bied ook ’n tuiste aan jakkalse, muskeljaatkatte, meerkatte en hier en daar selfs ’n ystervark of ’n rooikat.

As jy die baie eksotiese wild wat as troeteldiere aangehou word, bytel, kry jy ’n stad wat sy reputasie as een van die wêreld se grootste stedelike oerwoude gestand doen.

In Glenferness, aan die buitewyke van die stad naby Midrand en net verby bodorpse winkelsentrums en korporatiewe geboue, vind jy ’n kort grondpad wat na die Johannesburgse sentrum vir wilde diere lei. Dié sentrum is ’n eerste in sy soort deurdat dit ’n hospitaal wat inheemse wild gratis behandel, finansier.

Met die eerste oogopslag is die plek maar beskeie, met geen ooglopende tekens van die verskeidenheid wild wat in sy klomp kampe versorg word nie.

Dr. Karin Lourens is die sentrum se inwonende veearts en een van die stigters, saam met Penelope Morkel en Nicci Wright, twee wildrehabilitasiespesialiste.

Die sentrum het sy deure in Maart verlede jaar geopen.

Assistente en vrywilligers help ook om die hospitaal se wiele geolie te hou.

Hoewel Lourens byna twee dekades ’n veearts in die stad was, spesialiseer sy die afgelope sewe jaar in wilde diere.

Sy werk ook aan haar meestersgraad wat fokus op die normale serumchemie en hematologie-vlakke in die Afrika-ietermagog.

Lourens is gretig om al die diere waarna sy en haar span kenners omsien, bekend te stel.

Die otter

Die eerste ontmoeting is ’n ses maande oue groototter wat uit haar skuiling kruip en gretig haar mense-besoekers ontvang.

Sy skuur teen jou soos ’n huiskat en krul van plesier wanneer haar magie gekrap word, terwyl sy soos ’n klein hondjie aan jou vingers knibbel.

“Haar eienaars het haar aan ’n leiband gehou en deur winkels in Fouriesburg met haar gaan stap voordat sy deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gekonfiskeer is,” sê Lourens.

Die sentrum het toe die otter ingeneem.

Die proses om haar sover te kry dat sy onafhanklik kan leef, kan tot twee jaar duur.

Een van die pasiënte, ’n silwerjakkals.Foto: Ashleigh Pienaar

“Hulle bly vir twee jaar by hul ma’s (in die natuur) en moet geleer word om te eet en te swem.”

Wanneer sy ’n jaar oud is, sal hulle haar blootstel aan ’n groter kamp waar sy sal woon tot haar vrylating, verduidelik Lourens.

Ná ’n bietjie aanmoediging sal sy uiteindelik weer deel word van die natuur.

En dít is wat die sentrum vir al sy diere doen. Dit is nie ’n dieretuin waar jy diere kan kom vryf of ’n troeteldierwinkel vir eksotiese diere nie.

Elke dier wat kan herstel of grootgemaak word tot op ’n toepaslike ouderdom, word in die natuur vrygelaat.

Volgens Lourens sal wilde diere, veral soogdiere, nooit werklik ten volle getem word of aan mense gewoond raak nie. “Hulle word redelik vinnig weer wild.”

Die sentrum huisves tans sowat 60 diere – van skilpaaie en vlermuise tot ’n ystervark en ietermagogs.

Die meeste diere van mense gered

“Die meeste diere is gekonfiskeer,” sê Lourens.

Veral meerkatte is gewilde troeteldiere totdat hulle stout en aggressief word. “Mense besef nie hulle is tropdiere wat daarvan hou om bymekaar te wees nie.”

Dit verduidelik waarom hulle aggressief word wanneer hulle alleen aangehou word, en dikwels ander troeteldiere of mense sal aanval.

En om hulle weer bloot te stel aan ander meerkatte kan tot agt maande duur, want hulle is van die aggressiefste diere op aarde.

Om die draai van die meerkatkamp is ’n silwerjakkals, wat aangehou is deur mense wat gemeen het dit is ’n gewone jakkals.

Nadat sy deur haar eienaars se honde verskeur is, is sy na ’n veearts in Fourways geneem en toe in die sentrum opgeneem.

Nie al die diere is egter by mense afgeneem nie.

“Ons het byvoorbeeld jakkalse in Soweto gevind.”

In ’n ander kamp nader ’n nuuskierige muskeljaatkatjie ons.

Sy kom moeiteloos teen ’n boomtak af om haar onbekende besoekers te bekyk. Dié muskeljaatkat is een van vier wat tans in die sentrum woon.

Terwyl haar drie maats toekyk, kom skuur die dapper muskeljaatkatjie haar kop teen my hand en verwelkom ’n paar vrywe oor haar gespikkelde pels.

Haar optrede kan maklik met dié van katte vergelyk word, maar muskeljaatkatte is nie naastenby familie van katte nie.

“Muskeljaatkatte kom oor Johannesburg heen voor,” sê Lourens.

“Hulle is nagdiere en bly in bome. Hulle leef op knaagdiere en veral Parktown prawns. Dís hul gunsteling. Mense wat hoenders aanhou, tel wel probleme met hulle op. Hoenders is soos KFC vir muskeljaatkatte.”

Doodgemaak vir liggaamsdele

’n Blouaap-paartjie verwelkom ons volgende, hoewel die mannetjie nie gelukkig is met my daar nie.

“Hy weet jy’s ’n man,” verduidelik Lourens.

“Hy hou nie daarvan dat jy hier is nie. As jy ’n baard gehad het, sou dit nog erger gewees het.”

’n Baba-ystervarkie word gevoer.Foto: Ashleigh Pienaar

Ek is heimlik dankbaar dat ek die vorige dag geskeer het . . .

Buiten dat hulle as troeteldiere aangehou word, word blouape dikwels deur sangomas doodgemaak vir hul liggaamsdele.

“Soms word hul arms afgesny terwyl hulle nog leef.”

Díe apies is na die sentrum gebring ná ’n klopjag deur die DBV en die polisie.

Die apies beland uiteindelik in ’n rehabilitasiesentrum in Tzaneen wat in primate spesialiseer.

Hier word hulle ’n maand lank in kwarantyn gehou om te verseker dat hulle nie aan tuberkulose – wat hulle van mense kry – ly nie.

’n Nylkrokodil-baba loer uit sy kampie. As voormalige “eksotiese troeteldier” is hierdie reptiel een van baie wat by rehabilitasiesentrums beland wanneer die eienaars besef hulle kan nie na die diere omsien nie – veral as hulle groot word.

“Wanneer hulle 1,5 m lank word, bel mense ons paniekbevange om hulle te kom haal . . . Hulle is baie gevaarlik. Hulle eet byvoorbeeld katte.”

Volgens Lourens lê die probleem daarin dat mense nie permitte nodig het om eksotiese diere as troeteldiere aan te hou nie. “Jy kan ’n tier aanhou as jy wil. Jy kort net permitte vir inheemse diere.”

Lourens het ’n broertjie dood aan instellings wat wilde diere “rehabiliteer”, maar hulle nie weer in die natuur vrylaat nie en hul liewer as toeristeaantreklikhede aanhou.

‘ ’n Toevlugsoord is net ’n dieretuin’

“Terwyl baie van hierdie oorde goeie bedoelings het, is dit nooit ’n goeie idee om ’n wilde dier groot te maak om deur die publiek gevryf te word nie. ’n Toevlugsoord is net ’n ander naam vir ’n dieretuin.

“Elke dier wat ons inneem, moet in die natuur vrygelaat word. As sy gesondheid nie kan herstel nie, moet hy van kant gemaak word.”

Ek en my 13-jarige metgesel maak toe kennis met drie nonnetjiesuile – een van ’n paar uilsoorte wat by die sentrum behandel word.

“Uile is wonderlik om peste te beheer, want hulle leef op muise en rotte.”

In ’n aparte kamp loer gespikkelde-ooruile na ons met hul groot, deurdringende helder oë.

Hulle word gereeld in Johannesburg opgemerk.

“Stedelike gebiede trek baie wilde diere omdat dit so vuil is. Dit trek ongediertes waarvan die wilde diere leef.”

Nadat ons verskeie soorte vlermuise gesien het, ontmoet ons vir Porcie, ’n jong ystervarkie wat nuuskierig aan die punte van my skoene kom knibbel.

Hy skarrel rond en ek maak ’n punt daarvan om uit die pad van sy penne te bly.

“Hulle skiet nie hul penne soos pyle uit nie,” stel Lourens my gerus. “Hulle sal hulself instoot in wat hulle ook al bedreig en die penne sal agterbly.”

Lourens se ware liefde is die ietermagog, ’n dier wat sy noukeurig bestudeer en met mag en mening wil bewaar.

Teen die muur van die spreekkamer hang ’n indrukwekkende skildery van dié dier wat teen ’n Afrika-sonsondergang afgeëts is. Die skildery is onderteken deur ene Johan Lourens, ons gids se pa.

Lourens maak ’n groot houtboks oop en vir die eerste keer sien ek die manjifieke ietermagog in lewende lywe.

Dié spesifieke een is afgeneem by ’n man wat dit vir R1 miljoen wou verkoop.

Ietermagogs word volgens Lourens teen ’n kommerwekkende tempo gestroop omdat hul skubbe ’n medisinale waarde in Oosterse lande het – net soos die renosterhoring.

Om so naby aan ’n ietermagog te wees, is ’n surrealistiese ervaring. Hy lê opgekrul in sy houtboks en lig sy kop effens toe ek met my hand oor sy skubbe vryf.

Die skubbe voel vreemd, amper soos honderde groot toonnaels. Dit is ’n billike vergelyking, aangesien menslike naels en die ietermagog se skubbe albei van keratien gemaak word.

“Hierdie jaar alleen het ons 60 ton skubbe gevind – dis 400 000 diere wat doodgemaak is,” sê Lourens.

“Tel olifante, renosters en leeus bymekaar . . . jy kom nie naby daardie getal nie.”

Volgens Lourens is dit onmoontlik om te bepaal hoeveel ietermagogs in die wêreld oor is. Hulle is nagdiere en woon ondergronds en in beskutte gebiede soos grotte.

“Hul skubbe is so sterk dat ’n volwasse leeu dit nie kan penetreer nie. Dis hoe hulle nou al vir 80 miljoen jaar kon oorleef, want hulle het geen natuurlike vyand in die natuur nie.

“Nou het hulle net een vyand: mense.”

Die sentrum maak vir sy oorlewing slegs staat op skenkings en benodig minstens R80 000 per maand om sy deure oop te hou.

Om na die ietermagogs om te sien, kos R1 000 per dag per dier.

Dié skenkings kom almal van private individue.

“Ons grootste doelwit is om ’n korporatiewe borg betrokke te kry. Ons gebruik ons eie voertuie (om diere te verskuif) en ons het duur toerusting.”

Lourens sê sy is dol op haar werk. “Elke dag is anders. Dis nooit vervelig nie en ek is lief vir elke deel daarvan.”

Soos ons met die grondpad terugry na Mainstraat, met die Pick n Pay en KFC langs die pad in Lone Hill, voel dit onwerklik om te dink dat ons minute tevore nog midde-in ’n soölogiese mengelmoes in die middel van ’n betonoerwoud was.

Dié diere sal, danksy die toewyding van Lourens en haar span, eersdaags terug wees waar hulle hoort: in die natuur. - News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.