Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Verdra mekaar,’ sê raadslid op LGBT-optog
Die Boston Gay Men’s Chorus in die eerste LGBT-Pride-optog op George. Foto: Jackie Kruger

’n Pleidooi vir verdraagsaamheid teenoor alle mense is Dinsdag op die eerste LGBT (lesbies, gay, biseksueel en transgender)-Pride-optog op George gelewer.

Die Boston Gay Men’s Chorus van Amerika het aan die optog in Yorkstraat deelgeneem en buite die munisipale kantore opgetree. Die koor is tans op sy eerste besoek aan Suid-Afrika en bestaan uit gay mans.

Daar was geen teken van George se burgemeester, Melvin Naik, by die verrigtinge nie. Naik het verlede week in ’n uitsending op Heartbeat FM, die plaaslike Christelike radiostasie, gesê weens sy Christelike oortuigings en Bybelse waardestelsel kan hy nie die konsert van die koor Dinsdag in George goedkeur nie.

Ná Naik se uitlatings het die DA se federale regskommissie gesê hy gaan ondersoek na die diskriminerende uitlatings van die burgemeester instel.

Die koor is Dinsdag ná die optog deur George se onderburgemeester, Charlotte Clarke, en Sean Snyman, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskaps- en maatskaplike ontwikkeling, in die munisipale kantore verwelkom.

Verskeie mense het aan die optog deelgeneem en daar was ook ’n blaasorkes en tamboermeisies. Van die koorlede het tydens die optog gesê dit is fantasties om op George te wees.

Snyman het onder meer in sy toespraak gesê hy verwelkom die koor in die naam van verdraagsaamheid.

Volgens hom plaas mense hul medeburgers steeds in bokse. “Mense moet kan saamleef. Baie keer as mense iets nie verstaan nie, veroordeel hulle dit.”

Hy het ’n pleidooi gelewer dat mense verdraagsaam en gewillig sal wees om mense te aanvaar wat verskillende waardes as hulle het.

Hy het verwys na die gestremde en gay gemeenskap en gesê húlle sien mense vir wie hulle is.

“Hulle is verdraagsaam en diskrimineer teenoor niemand nie.”

Hy het ook die koor bedank dat hy gehelp het om George se toekoms te verander.

Die koor het onder meer “Shosholoza” onder groot toejuiging van omstanders gesing.

Die koor tree Dinsdag om 18:00 in die Conville-gemeenskapsaal op George op. Toegang is gratis.

Naik het vroeër onder meer in ’n verklaring gesê die verrigtinge verloop soos beplan en dat sy persoonlike mening geen invloed daarop het nie.

Meer oor:  George  |  Lgbt  |  Gay  |  Optog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.