Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: 4 leeus byna vrek weens vete

Vier leeus is Sondag erg beseer toe ’n sleepwaentjie se wielmoere glo weens ’n familievete losgedraai is en dit omgeslaan het.

Tobie Bird sê hy en sy vrou, Christolien, en hul dogtertjie van vier het die naweek ’n familiesaamtrek buite Wesselsbron in die Vrystaat bygewoon.

Bird het die leeus Saterdag in die Oos-Vrystaat gaan oplaai en het beplan om Sondag vanuit Wesselsbron verder te ry.

“Ons was op pad Kalahari toe met die leeus en het saam met ons familie gekuier voordat ons Sondag vroeg, wanneer dit koeler is, verder sou ry,” sê Bird.

Vier leeus is erg beseer toe die waentjie waarin hulle vervoer is, omgeslaan het.Foto: verskaf

Daar was vier leeus in die houer met kompartemente op die sleepwa.

Bird sê iemand het ’n familielid en ’n vriend gesien waar hulle met die sleepwa se bande peuter. Hy sê die jong mans het klippies in die bandkleppe gedruk sodat die bande stadig kan afblaas. Bird het die een man gekonfronteer waarna hy om verskoning gevra en die wiele weer opgepomp het.

Die leeus weeg saam meer as 1 200 kg.

Bird sê hy kon Sondag voel die sleepwa loop nie reg nie, maar hy kon nie vasstel wat die probleem is nie.

“Ek het ’n paar keer gestop, maar kon niks kry wat skort nie,” sê Bird.

Die bebloede krat waarin die leeus was.Foto: verskaf

Die sleepwa het egter op ’n grondpad, ’n ent buite Kuruman, erg begin swaai.

Die sleepwa se hak het van die bakkie se sleepstang losgeruk en dit het omgeslaan.

Bird sê hy het gesien een van die wiele se moere was losgedraai en dit het tot die ongeluk gelei.

Hy kon nie die leeus se hokke oopmaak nie omdat hy nie gereedskap by hom gehad het om dit oop te maak nie. Hy was ook bang die leeus ontsnap en het die kratte toe gelos.

“Die leeus het glad nie beweeg nie en ons het gedink hulle is vrek,” sê Bird.

Daar was ook geen selfoonsein op die plek waar die sleepwa omgeslaan het nie en hy moes ’n ent stap om te kon bel.

Bird sê hulle het ure langs die pad gesit sonder enige drinkwater omdat hy die water wat daar was, gebruik het om die leeus te probeer afkoel.

Die koper van die leeus, wat nog ’n hele paar honderd kilometer verder bly, het ’n boer in die omgewing gevra om Bird te gaan help.

“Met ’n gespook en die hulp van ’n groep plaaswerkers kon ons die leeus op ’n ander sleepwa laai,” sê Bird.

Die leeus is by die koper afgelaai, maar Bird sê die man kan nie vir die leeus betaal nie weens hul beserings. Hulle is erg beseer, die wyfie se stert het byna afgebreek en hulle sukkel om te loop.

Bird sê hy het meer as R400 000 se skade gely.

Hy beplan om 'n klag van poging tot moord in te dien.

Meer oor:  Tobie Bird  |  Wesselsbron  |  Vrystaat  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.