Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Vliegongeluk - Anika op haar verjaardag gegroet


Die roudiens van Anika de Beer (16), die rooikop-meisie van Pretoria wat vandeesweek in ’n vliegongeluk dood is, word Saterdag, op haar verjaardag, gehou.

Die meisie sal veras word. Haar as sal op die plaas van haar oupa, Kobus Nieuwenhuis, in Krokodilspruit bewaar word.

“Ek sou haar graag wou begrawe, maar volgens die begrafnisondernemer is die toestand van die begraafplase baie swak en dit is gevaarlik,” sê haar emosionele pa, Andries (45).

Anika was haar ouers se enigste kind. Sedert haar dood was hulle nog nie weer in haar slaapkamer nie en het hulle net die deur toegetrek.

Andries en Rika de Beer neem Saterdag afskeid van hul enigste kind, Anika (16), wat Dinsdag in ’n vliegongeluk dood is. Sy sou Saterdag verjaar het. Foto: Felix Dlangamandla

Anika het Dinsdag in ’n Piper Cherokee 28A-180-vliegtuig van die Professional Flight Centre-vliegskool op die Wonderboom-lughawe opgestyg.

Die vliegtuig het kort ná opstyging in ’n oop stuk veld naby die Onderstepoort Veeartsenykundige Akademiese Hospitaal neergestort.

Sy is op die toneel dood verklaar.

Anika die ‘borrelkind’ en ’n nuwe liefde

Haar rooi hare en haar sproete het haar Anika gemaak, meen haar ouers.

“Sy was net ’n borrelende, liefdevolle kind wat baie vir ander mense omgegee het en verskriklik lief was vir diere,” sê ma, Rika (46), oor haar dogter wat ook haar beste vriendin was.

Volgens haar ouers het Anika enige geleentheid aangepak wat na haar kant toe gekom het en voluit geleef.

“In haar kort lewe het sy stof in baie ouer mense se oë geskop,” sê Andries.

“Sy het uitgeblink om my kind te wees. Ek kon nie vir ’n beter kind gevra het nie.”

Anika de Beer (16) se ouers, Andries en Rika, is verpletter oor haar skielike afsterwe. Sy was hul enigste kind. Foto: Felix Dlangamandla

Met haar sterk persoonlikheid het Anika geweet wat sy in die lewe wil hê.

Sy het in gr. 8 besluit om haar vlieglisensie te kry en haar passie vir dans opsy geskuif. Aan die einde van hierdie skooljaar het haar ouers haar by die vliegskool ingeskryf.

Waar hierdie skielike liefde vir vlieg vandaan gekom het, is ’n raaisel omdat niemand anders in die familie dié loopbaan nagestreef het nie, sê Anika se ma.

“Anika wou ’n kommersiële vlieënier geword het. Sy wou dit verder vat en nie net klein vliegtuie vlieg nie.

“Om te vlieg was haar lewe.”

Hierdie foto van Anika de Beer (16) is Vrydag geneem toe sy haar eerste solovlug onderneem het. Foto: Verskaf

Haar ouers was saam met haar by die lughawe toe sy verlede Vrydag haar eerste solovlug voltooi het.

“Sy het dit só mooi gedoen. Ná wat ek Vrydag gesien het, was die laaste ding in my kop dat ’n ongeluk sou kon gebeur,” sê haar pa.

Anika het Maandag en Dinsdag onderskeidelik haar tweede en derde solovlug onderneem.

Volgens haar ouers was sy met 24 en ’n half (van 45) uur in die lug al halfpad op pad na haar droom om haar vlieglisensie te kry.

Die ongeluk

Andries en Rika weet “bitter min” van die ongeluk en wag nog op die Burgerlugvaartowerheid (BLO) se verslag.

“Sy het ingekom om te land. Die lughawe was blykbaar ’n bietjie besig en toe het hulle gesê sy moet net weer sirkel,” sê Rika.

Hulle was albei by die werk toe die eienaars van die vliegskool se dominee hulle bel en na die lughawe ontbied omdat daar “ ’n voorval” was.

“Partykeer wens ek sy het nie daardie begeerte (om te vlieg) gehad nie, maar omdat dit vir haar só awesome was, sal ek nie sê ek is spyt ek het dit toegelaat nie,” sê Rika.

“Miskien diep in my hart wens ek sy het nie daarin belanggestel nie. Sy het gesterf soos wat sy gelewe het – op haar gelukkigste.”

Die pad vorentoe

Die Hoërskool Montana, waar Anika de Beer ’n gr. 11-leerling was, het Donderdag ’n minuut van stilte vir haar gehou nadat sy Dinsdag dood is. Foto: Verskaf
Die Hoërskool Montana het ’n fotoraam van Anika de Beer (16) gemaak en blomme daarby neergelê. Foto: Verskaf

Vir nou neem Anika se ouers dit dag vir dag en bly staande danksy ’n “verskriklike goeie” ondersteuningstelsel.

“Dit maak die seer in hierdie stadium draaglik, maar ek wens dit nie vir my grootste vyand toe nie,” sê Rika.

“Dit bly seer – dit is ’n deel van jou wat net weggeruk word. ’n Mens wonder hoe jy gaan aangaan, maar sy sou wou hê ons moet ons lewe leef.

“Elke ding wat jy sien, herinner jou aan haar. Dit is bitter moeilik.”

Die Hoërskool Montana, waar Anika in gr. 11 was, het Donderdag ’n minuut van stilte vir haar gehou.

“Haar maatjies is stukkend. Almal het so uitgesien om vandag (Donderdag) vir die eerste keer in amper drie maande weer bymekaar te wees,” sê Rika.

Laaste woorde van ’n ouer
Anika de Beer (16) saam met haar ouers, Rika en Andries, by die Wonderboom-lughawe. Foto: Verskaf

“Ons gaan haar ontsettend baie mis en sal haar nooit vergeet nie,” het Anika se ouers in trane gesê.

“Sy was ons wonderkind.

“Sy het ons trots gemaak en ek wens ek kon dit vir haar sê,” sê Anika se pa.

Meer oor:  Anika De Beer  |  Pretoria  |  Hoërskool Montana  |  Vliegongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.