Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Waar is Afrikaanse gay rolmodelle?
Skeef

In die tweede aflewering van die dokumentêr Skeef vra Renaldo Schwarp waarom ons nie meer Afrikaanse gay mense op die kassie sien nie.

Daar blyk internasionaal heelparty gay rolmodelle te wees wat gemaklik is om oor hul seksualiteit te praat.

“Maar hoekom is dit nie die geval in Suid-Afrika nie? Waar is ons Afrikaanse gay rolmodelle?” vra Schwarp, die aanbieder van die dokumentêr.

Dié reeks vra moeilike vrae rondom gay-wees in Suid-Afrika. Dit kan in Junie op Netwerk24 gekyk word.

Deur die loop van die reeks praat Schwarp met ’n verskeidenheid gaste, insluitend die sanger Joe Foster, die komediant Marc Lottering en Charl-Johan Lingenfelder, die medeskrywer van die fliek Kanarie.

“Die mense wat die besluite in die media neem, is bang hulle verloor hul gehore. Daar is ’n finansiële ding betrokke,” verduidelik Lingenfelder, komponis en medeskrywer van die rolprent Kanarie, oor die tekort aan Afrikaanse gay rolmodelle in Suid-Afrika en waarom daar nie meer volronde gay karakters op die kassie te sien is nie.

Charl-Johan Lingenfelder.
Charl-Johan Lingenfelder.

“Afrikaners is baie geneig om, as hulle nie hou van iets wat jy doen nie, te sê: Ons gaan jou boikot!”

Kanarie vertel die verhaal van Johan Niemand (Schalk Bezuidenhout) wat as deel van die Kanaries-weermagkoor ’n baie persoonlike en aangrypende reis moes onderneem om vrede in homself en met sy seksualiteit te kry. Die rolprent is 90% op Lingenfelder se lewe geskoei.

Kanarie is ’n goeie voorbeeld van ’n rolprent wat in ’n klein mate iets reggekry het. Duisende mense se lewe is daardeur verander. Kanarie is eerlik. Kanarie is pynlik eerlik en omdat dit pynlik eerlik is, trek dit mense nader. Dit stoot hulle nie weg nie.”

Schwarp praat ook in die tweede episode met Bernard Buys, ook bekend as die fopdosser Betty Bangles. Betty Bangles was in 2017 die aanbieder van die werklikheidskompetisie vir plaaslike fopdossers op VIA.

“Toe ek eers met die show begin, was dit soveel meer as wat ek gedink het dit gaan wees,” sê hy.

Betty Bangles.
Betty Bangles.

“Ek het nie besef hoe baie dit vir kykers beteken het nie. Ek het boodskappe gekry van ’n meisie wat deur ’n lesbiese paartjie groot gemaak is. Sy is straight. Sy is nie gay nie, maar sy is gespot op skool en ’n lesbian genoem, omdat sy twee ma’s het. En hoe sy vir my vertel hoe my show vir haar gewys het haar familie is normaal.”

Schwarp het ook met Izelle Venter, kanaalhoof van VIA, gepraat en spesifiek gevra: Sal Afrikaanse kunstenaars geld verloor of minder werk kry as hulle openlik oor hul seksualiteit praat?

“As jy met groot besluitnemers praat, sal dit hulle twee of drie keer laat dink en ek dink dit is iets wat uitgedaag moet word,” sê Venter.

“Ek dink nie vir een oomblik moet mense die feit onderskat – en veral iemand soos ek wat gemaklik is met ’n gay leefstyl – dat dit ongelooflik moeilik bly vir mense om uit die kas te klim. Ek dink dis hoekom dit so belangrik is om in die media te weerspieël.”

Kyk die tweede episode hieronder:

Kyk ook episode 1 oor seksualiteit en geloof

In die eerste episode van die reeks vra Schwarp of ’n mens gay én ’n Christen kan wees.

“Ek het in ’n betreklik konserwatiewe Afrikaanse huishouding grootgeword en toe ek uit die kas kom, het ek opnuut besef die meeste tradisionele geloofstrukture weet nie eintlik wat om met mense soos ek te doen nie,” sê Schwarp aan die begin van die episode.

Hy praat onder meer in die episode met die Afrikaanse sanger, Joe Foster.

Joe Foster
Joe Foster. Foto: Verskaf

“Watter ander mens moet veg vir God? Watter ander mens moet veg vir God se liefde? Net gay mense moet veg vir God se liefde,” sê Foster.

“Want die res van ons is aanvaar, jou sonde vergewe. Maar iemand wat letterlik hul hele lewe moet vra: ‘Here, aanvaar my asseblief’ . . . daai soort mens is ’n mens wat jy moet ken, want dit is ’n mens met deernis, met baie lewenservaring.”

Kyk die eerste episode in die video hier onder:

Wat kan in die res van die reeks verwag word?

Dr. Zak Schabort.
Dr. Zak Schabort.

Schwarp vra in die derde episode van die reeks of dit moeiliker is om liefde te vind as jy gay is.

In die episode gesels Schwarp met dr. Zak Schabort,

’n Kaapse tandarts, oor liefde in die LGBTI+-gemeenskap.

“Ek dink dis miskien ’n bietjie gekompliseerd. Maar ek dink as jy jou waardes behou, kan jy wonderlike liefde vind,” sê Schabort.

“Ek dink nie ’n mens moet dit anders interpreteer as om straight te wees nie. Dis dieselfde beginsels. En wees die boyfriend wat jy wil hê.”

Hy praat ook onder meer met Schabort oor die aand toe hy vir sy pa vertel het hy is gay.

“Ons het dieselfde aand nog ’n lekker rooiwyntjie saam gedrink en besef dis nie so erg nie,” sê hy.

“Ek dink daai jaar het ook vir my die geleentheid gegee om vir hom te wys ek is maar nog net sy seun. Niks het verander nie. My sexual preference het dalk verander, maar ons is nog net so lief vir mekaar.”

  • Kyk Maandag 17 Junie die derde episode van Skeef op Netwerk24.

Schwarp praat in die laaste episode van die reeks met sy gaste oor die belangrikheid daarvan om uit die kas te klim.

Josh Harper (links) en Renaldo Schwarp.
Josh Harper (links) en Renaldo Schwarp.

Hy praat onder andere met Josh Harper van Pretoria. Harper het opslae gemaak toe hy met ’n man as metgesel na die Pretoria Boys’ High School se matriekafskeid is.

Hy het ook sy skool toegespreek oor sy seksualiteit en só amptelik teenoor die hele skool uitgekom.

“Van die seuns se kant, was die meeste ondersteunend. Natuurlik was daar ook homofobe. Ons het selfs ’n paar dreigemente gekry,” sê Harper.

Hy het voor die matriekafskeid ook ’n ekstra pak klere in sy skoolsluitkas gebêre vir ingeval iets met hom by die matriekafskeid gebeur.”

Hy het egter net lof vir die skoolbestuur en die ondersteuning wat hy gebied is.

“Toe ons by die matriekafskeid aankom, het die skare stil geraak. En toe ons op die rooi tapyt kom, onthou ek dat Ryan skielik my hand in syne geneem het. En toe het die skare begin hande klap.”

  • Kyk Maandag 24 Junie die laaste episode van Skeef op Netwerk24.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.