Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Warm ontvangs vir netbalsterre

Dit was net groen en goud in die internasionale wagarea op die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park waar die Suid-Afrikaanse netbalspan aangekom het.

Spanlede het van Dinsdagoggend af in Suid-Afrika aangekom met die laaste lede wat omstreeks 17:00 hul verskyning gemaak het.

Familie, vriende en ondersteuners het die Proteas luidrugtig terug verwelkom van die Wêreldbeker-toernooi in Liverpool, Engeland.

Die atmosfeer was feestelik met fluitjies, ’n koperblaasorkes en die skare se gesing.

Dit was gister net groen en goud in die internasionale wagarea op die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park waar die Suid-Afrikaanse netbal-span opgedaag het.Foto’s: Felix Dlangamandla

Die Proteas het goeie spel gelewer en vierde geëindig, waar hulle ’n aantal kere in die verlede met die vyfde plek tevrede moes wees.

Dit is die eerste keer sedert 1995 wat die Proteas deurgedring het na die halfeindronde.

Johannes Siduki, ’n lid van die Mamelodi Brass Band, meen dat die Proteas tydens die toernooi ’n aangename atmosfeer in die land geskep het.

“Ons is baie trots op die span en hoopvol dat hulle nommer een sal wees in die volgende Wêreldbeker-toernooi,” sê hy.

Die volgende WB-toernooi vind in 2023 in Kaapstad plaas.

Die Mamelodi-koperblaasorkes is ook deel van die groep wat hulself Superfans noem.

Die Superfans is groot ondersteuners van alle nasionale sportspanne.

“Ons bemoedig alle Suid-Afrikaners aan om alle nasionale spanne te ondersteun en nie hoop te verloor nie,” sê Siduki.

Bongiwe Msomi, kaptein van die Suid-Afrikaanse netbalspan wat in Liverpool, Engeland, aan die Wêreldbekertoernooi deelgeneem en vierde geëindig het, word op die lughawe terugverwelkom.

Mama Joy van Johannesburg wat ’n lid is van die Superfans, sê die Proteas het goed gespeel, maar dat hulle nie munt geslaan het uit hul teenstanders se foute nie.

Sy voeg by dat hul konsentrasie hulle moontlik in die steek gelaat het.

“Hulle kon met goud huis toe gekom het, maar hulle is steeds kampioene,” sê Joy.

Howard Motloung van Vosloorus sê die volgende Wêreldbeker is “ons s’n” met dié dat dit op Suid-Afrikaanse grond plaasvind.

Lede van die Hoërskool Jeugland in Kempton Park se eerste netbalspan het ook nie die geleentheid laat verbygaan om die Proteas terug te verwelkom nie. “Ons het die geleentheid gehad om te kom met albei hande aangegryp. Alle nasionale spanne wat goed presteer, verdien ’n groot verwelkoming,” sê Mia de Beer, ’n matriekleerling van dié skool.

Volgens Danelle Spies, ook in gr. 12 in die Hoërskool Jeugland, het die Proteas baie goed gevaar in vergelyking waar hulle voorheen geëindig het.

“Hulle het bly opstaan,” sê Danelle.

Sy en Mia is positief dat die Proteas die eerste of tweede plek sal verower met die volgende WB-toernooi.

’n Netbalspan van die Vuyani Primary School in Brakpan aan die Oos-Rand het ook die Suid-Afrikaanse “netbalsterre” op die lughawe ingewag.

“Ons is gelukkig met hul spel. Hulle het só hard probeer,” sê Octavia Mtshali, afrigter van die o-13 netbalspan.

Op ’n mediakonferensie in Kempton Park Dinsdagaand het Nathi Mthethwa, minister van sport en ontspanning, gesê die Proteas is nommer een vir Suid-Afrika.

Bongiwe Msomi, die spankaptein, het gesê die vroue het goed gespeel, ten spyte daarvan dat daar soms wedstryde direk ná mekaar gespeel is.

Sy is trots op haar hele span.

netbalspelers
Die netbalspelers is deur opgewonde ondersteuners in die aankomsaal ingewag. Foto: Felix Dlangamandla
proteas
Die spanlede is luidrugtig in Suid-Afrika terugverwelkom. Foto: Felix Dlangamandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.