Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Wat soek ’n volstruis by my huis?’

“Het jy ’n permit vir die volstruis in jou erf?”

So het ’n boer vir Des van Noordwyk van Uitzicht in Durbanville, Kaapstad, Maandagmiddag tot sy verstommenis by sy huis kom vra.

Van Noordwyk besit glad nie ’n volstruis nie.

Sy vrou, Michelle, het Dinsdagoggend aan Netwerk24 gesê dat ’n volstruis by ’n plaas in die omgewing ontsnap het en by hul huis agter hul veiligheidshek vasgekeer is.

“Ons woon ’n entjie van die plase af, maar een van die volstruise het ontsnap en raak toe in ons erf agter die hek vasgekeer.”

Michelle sê wagte van ’n veiligheidsmaatskappy het die volstruis nadat sy ontsnap het agternagesit en haar met hul motors probeer aankeer.

’n Volstruis het gaan toevlug soek by die Van Noordwyk-gesin van Durbanville.

Die volstruis het duidelik ander planne gehad.

“Die volstruis het by ons oprit ingehardloop en toe sluit die veiligheidsbeamptes haar in ons erf toe,” sê Michelle.

Sy sê haar man was by die huis, toe ’n boer kom klop het en gevra het of hy ’n permit vir die volstruis het. Van Noordwyk kon sy ore nie glo nie.

Hy het ook vir Michelle laat weet dat hy hul kind by die skool moet gaan haal, maar sommer sal stap omdat die volstruis by hul motor vasgekeer was.

Michelle sê die volstruis het omstreeks 17:00 se kant by hul huis aangekom en is eers 20:00 weg nadat die mense van die plaas haar met ’n sleepwa kom oplaai het.

“Ons moes ons buiteligte afskakel en die boer het ’n flitslig gebruik om die volstruis tot in die sleepwa te lei. Sy het so twee keer in ons hek vasgeloop, maar die boer kon haar uiteindelik daar inkry.”

Meer oor:  Durbanville  |  Ontsnap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.