Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Laeveldse baken dalk gesluit weens beweerde bedrog

Die toekoms van eBundu Lodge, ’n bekende baken in die Laeveld sowat 10 km buite Nelspruit, is in die weegskaal.

Die restaurant van die eBundu Lodge buite Mbombela. Foto: eBundu Lodge

Dit volg nadat twee van sy eienaars, Sibusiso (41) en Ntombizodwa Tshabalala (32), Dinsdag op aanklagte van bedrog en geldwassery in die landdroshof in Mbombela (Nelspruit) verskyn het.

Luidens ’n verklaring deur die Valke in Mpumalanga is die egpaar Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle glo in September 2018 vervalste fakture uitgereik het.

“Die fakture, van meer as R200 000, was vir dienste wat nooit gelewer is nie en die geld is na bewering sonder die medewete van die derde vennoot (Willem Janson) in hul persoonlike rekeninge inbetaal,” lui die verklaring.

Die egpaar het in 2018 die beherende belang in die lodge verkry na ’n hofgeding met Janson, wat toe alleeneienaar was. Janson het steeds ’n belang van 33% in die lodge.

Wiekus du Toit, Janson se regsverteenwoordiger, sê Janson moes sy ander belange verkoop nadat die hof bevind het ’n geskrewe kontrak tussen Janson en eBundu (die egpaar se maatskappy), is afdwingbaar.

“Die kontrak het beslis die onderneming moet Janson R40 miljoen betaal en dat hy in ruil daarvoor ’n belang van 33% in die onderneming sou besit. Daar is slegs R20 miljoen betaal en die Tshabalala-egpaar word nou deur Janson vir nog R12 miljoen gedagvaar,” sê Du Toit.

Janson en sy vrou, Enesta, het die lodge in 1988 geopen en vir meer as 30 jaar bestuur.

Hulle was kontraktueel verbind om deel te wees van die bestuur van die onderneming, maar die Tshabalala-egpaar wou hulle nie toelaat nie.

Volgens hom is personeel verbied om met hom en Enesta kontak te hê en is hy dikwels toegang tot die eiendom geweier.

Janson sê die skrif is al vir meer as ’n jaar aan die muur en dat die lodge selfs voor die Covid-19-pandemie “al op wankelbene gestaan het”.

“Dit is vir ons ’n groot ramp – nie net vir ons nie, maar ook vir die personeel en soveel mense wat ons oor die jare besoek het. Dis ’n baken in die Laeveld wat nou tot niet is,” sê Janson.

Ntombizodwa het egter ontken dat eBundu insolvent is of nie sy skuld kan delg nie.

Volgens haar het Janson se dagvaarding van R12 miljoen “geen meriete nie en ons het reeds Janson gedagvaar vir meer as R34 miljoen”.

Ntombizodwa sê hulle sal nie op enige ander bewering reageer nie.

Die Tshabalala-egpaar is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat en sal op 22 September weer in die hof verskyn.

Meer oor:  Bedrog  |  Geldwassery  |  Laeveld  |  Toerisme  |  Lodge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.