Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Landbou-gemeenskap geskok oor Karaan se afsterwe

Die landbousektor in Suid-Afrika was Woensdag geskok oor die dood van die bekende landbou-akademikus prof. Mohammad Karaan (52) ná ’n kort siekte.

Karaan was ’n voormalige dekaan van die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit agri-wetenskappe.

In huldeblyke wat Woensdag ingestroom het, is Karaan as ’n gelowige mens en ’n briljante akademikus beskryf.

Karaan was met sy afsterwe aan die US se departement landbou-ekonomie verbonde.

“Ek is sprakeloos. Dis werklik skokkende nuus om van prof. Mohammad Karaan se ontydige afsterwe te hoor,” het prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, gesê.

“Hy was ’n besonder gewaardeerde en geliefde kollega wat nie net by die US nie, maar ook nasionaal en internasionaal diep spore getrap het. Dis werklik ’n baie groot verlies en ons gedagtes gaan uit na sy familie. Ons wens hulle sterkte toe in hierdie hartseer tyd.”

Diep spore in landbou getrap

Karaan is in 2010 as kommissaris van Suid-Afrika se Nasionale Beplanningskommissie aangestel, wat die taak opgelê is om ’n Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) vir Suid-Afrika op te stel.

Ek is sprakeloos. Dis werklik skokkende nuus om van prof. Mohammad Karaan se ontydige afsterwe te hoor.

Hy het voorheen onder meer gedien as voorsitter van die Nasionale Landboubemarkingsraad, die ministeriële komitee vir landboubemarking in Suid-Afrika en die ministeriële komitee wat die Suid-Afrikaanse Wynbedryftrust ondersoek het. Hy was ook ’n raadgewer vir die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou.

Hy is heraangestel om vir ’n tweede vyf-jaar-termyn as lid van die beplanningskommissie te dien. Hy het gedurende sy eerste termyn van 2010 tot 2015 ’n belangrike rol gespeel in die skryf van ’n hoofstuk in die NOP – Visie 2030 en hoe om ’n geïntegreerde en inklusiewe landelike ekonomie vir die land te vorm.

“Ons eer sy nagedagtenis as leier, versoener, ware landbouman en vriend,” het prof. Danie Brink, huidige dekaan van die fakulteit agri-wetenskappe, gesê.

“Sy dood is ’n absolute verlies vir die landbougemeenskap van Suid-Afrika in die breë, en ook spesifiek vir ons fakulteit. Deur sy menswees het hy mense vanuit verskeie kringe byeengebring. Sy hart was in die landbou, en hy het geglo in die uitbou daarvan.”

Karaan het al sy kwalifikasies aan die US verwerf: ’n BSc (Agric) in 1990, ’n MSc (Agric) in 1994 en ’n PhD (Agric) in 2006. Hy het sy loopbaan as ekonoom by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika begin voordat hy na Stellenbosch teruggekeer het as die destydse Landelike Stigting se hoof van navorsing.

Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur: Maties Sport, sê Maties Sport en Maties Rugby het ’n groot gees verloor.

“Ons gaan sy leierskap, geduld, ongelooflike vermoë om te luister en sy redelikheid mis. Hy het ons toegelaat om anders te dink, groot te droom en ons in uitdagende tye aangemoedig om vorentoe te kyk. Hy het groot drome vir ons Maties Rugbyklub gehad, juis vanweë die rol wat die universiteit speel in die ontwikkeling van rugby deur die fokus op afrigteropleiding en gemeenskapsontwikkeling te plaas.

“My anker by die universiteit is weg, maar ons spesiale jare as kollegas en vriende, en sy herinneringe aan my doel, sal my dra deur die moeilike tye wat voorlê.”

Dr. Jerome Slamat, ’n kollega van Karaan, het by navraag gesê die professor was ’n nederige, vriendelike en gelowige man.

“Hy was ’n uiters begaafde persoon en laterale denker. ’n Verenigende figuur wat lief was vir sy land en sy mense. Ek het die hoogste respek vir hierdie besonderse man gehad. Dis ’n verlies vir die land en veral vir die landbou-sektor.”

’n Slag vir landbou

Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, het gesê die Wes-Kaap het nog ’n waardige leier in die landboukringe verloor.

“Hy was by uitstek ’n wetenskaplike op die gebied van landbou en sy insette is wyd gewaardeer. Sy nalatenskap op die gebied van landbounavorsing en -ontwikkeling is enorm en hy was wyd vir sy bydrae oor die hele Suid-Afrika erken,” het Meyer gesê.

Volgens Meyer het Karaan ’n groot bydrae op die terrein van agri-ondernemings gelewer.

“Hy was by uitstek ’n wetenskaplike op die gebied van landbou en sy insette is wyd gewaardeer.

Agri SA het gesê Karaan se skielike heengaan is ’n groot slag vir landbou.

“Hy was inderdaad ’n geliefde en hoogs gerespekteerde mens,” het Pierre Vercueil, president van Agri SA, gesê.

“Nie net was hy ’n kenner wat groot agting plaaslik sowel as internasionaal geniet het nie, maar hy het ook sy passie vir landbou met oortuiging uitgeleef. Sy bydrae op velerlei terreine, veral wat betref sy betrokkenheid by die Nasionale Beplanningskommissie, die stigting van Asuf (die eenheidsforum vir die landbousektor), die US-landboudepartement en vele ander instellings, was van onskatbare waarde. Die landbousektor eer sy bydrae en bou voort op sy nalatenskap.”

Die landbou-organisasie Saai het gesê Karaan het baanbrekerswerk op akademiese, politieke en ekonomiese gebied in die landboubedryf verrig.

“Hy was die stem van redelikheid in ’n spanningsvolle era waarin daar oor die hoe, die wat en die waar oor grondhervorming besin moes word. Hy het die landbousektor op ’n voortreflike wyse op die Nasionale Beplanningskommissie gedien en was die argitek van hoofstuk 6 van die NOP (die sogenaamde Karaan-plan),” het dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, gesê.

Karaan was die seun van die hoogs gerespekteerde Islamitiese geleerde wyle moulana Muhammad Yusuf Karaan en Hajja Zuleikha.

Sy broer moefti Taha Karaan dien op die Moslem Juridiese Raad (MJC).

Die MJC het ook sy medelye met die Karaan-familie betuig.

“Van al die prestasies van prof. Karaan is die beste dat hy die Koran uit sy kop uit geken het en daarmee volgehou het om die Strand se Moslemgemeenskap tydens Ramadaan in Tarawih-gebede te lei,” het die MJC gesê.

Karaan word oorleef deur sy vrou, Basheerah, en kinders Zayne, Kamilah, Tauriq, Burhan en Adam.

Meer oor:  Mohammad Karaan  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.