Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lang pad na herstel vir meisie (4) ná leeu haar gryp

’n Lang pad na herstel lê nog vir ’n vierjarige meisie voor nadat ’n leeuwyfie haar kloue in die meisie se kop ingeslaan het terwyl haar pa haar vergeefs probeer beskerm het.

Pieter de Beer, die pa van Dina-Marie, sê haar toestand is stabiel, hoewel dit nog ’n lang pad is voordat sy uit die waakeenheid van die Netcare-Union-hospitaal in Alberton ontslaan sal word.

Een van die jong leeus op die Weltevrede-leeuplaas buite Heilbron in die Vrystaat, waar ’n vierjarige meisie ’n ernstige kopbesering opgedoen het nadat ’n leeu haar en haar pa deur die heining aangeval het. Foto: Verskaf

’n Deel van haar skedel is verwyder om die druk op haar brein te verlig. Haar kopvel, wat afgeruk is, kon nog nie geheg word nie. Sy is in ’n geïnduseerde koma en haar ouers is by haar.

’n Familielid sê die hele gesin is geweldig getraumatiseerd.

Pieter, sy vrou, Ansia, en Dina-Marie was met vakansie langs die Vaalrivier en het besluit om Sondag, voordat hulle huis toe ry in Pretoria, by die Weltevrede-leeuplaas naby Heilbron 'n draai te maak.

“Ons het by die kamp ingegaan sodat sy een van die welpies kon vertroetel.”

Skielik het ’n leeuwyfie in die hok langsaan deur die heining na hulle gegryp.

“Sy het ons vasgetrek, ek kon glad nie beweeg nie.”

Hy het gevoel hoe die dier se kloue deur die draad oor sy kop en langs sy nek kap, en toe na sy dogter toe. Haar kopvel is afgeruk en die leeu se klou het haar skedel deurboor.

Sy is per lugambulans na Alberton gebring.

De Beer sê die probleem met dié soort wond is dat die vel wat van haar kop afgeruk is, nie dadelik geheg kan word nie.

“Die bakterieë in die leeu se naels skep ’n groot kans vir sepsis.”

Hy het agt diep kapwonde in sy nek en bors opgedoen.

Dit is die tweede soortgelyke aanval in minder as ’n week op dié plaas.

Charlene van Wyk, die bestuurder van die leeuplaas, het die voorval bevestig.

Een van die tienerleeus op die Weltevrede-leeuplaas buite Heilbron in die Vrystaat waar ’n vierjarige meisie ernstige kopbeserings opgedoen het nadat ’n leeu haar en haar pa deur die heining aangeval het.Foto: Verskaf

Prinses, ’n tweejarige leeuwyfie, het hulle deur die draad aangeval. Sy word as ’n tienerleeu beskou omdat ’n leeuwyfie eers op vierjarige ouderdom volwassenheid bereik.

“Ons gebede is by die meisie, ons weet sy is stabiel en ons hoop en glo saam sy sal beter word.”

Sy sê die leeuplaas se voorsorgmaatreëls was in plek.

“Dit was ’n fratsongeluk op ’n begeleide toer. Die gids het gesê hulle moet net wegstaan van die draad af, want die leeu staan agter hulle. Tien sekondes daarna trek die leeu toe die pa en die dogtertjie nader.”

Die reëls is duidelik aan die besoekers uiteengesit voordat hulle die leeus besoek het, sê sy.

“Dit bly wilde diere. Die gidse het voor die tyd voorgestel dat jong kinders uit die kampe bly.”

Karin Roets, mede-eienaar van die leeuplaas, sê Prinses sal nie van kant gemaak word nie.

“Dit was ’n ongeluk. Die mense wat so geskok is en kommentaar op die berigte lewer, moet hul goeie gedagtes bymekaarmaak en eerder vir die gesin bid.”

’n Man is verlede Woensdag ook deur ’n leeu hier aangeval, maar hy het volgens Van Wyk net geringe skrape opgedoen.

Vroeër is berig dat leeuwyfies twee susters van drie en vyf jaar oud op 5 Januarie 2010 op dié plaas aangeval het.

Meer oor:  Alberton  |  Aanval  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.