Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Langasems hardloop vir plaas-slagoffers
Bennie Roux spring Dinsdag weg op ’n roete oor sowat 250 km deur die Vrystaat om geld vir traumaberading in te samel.Foto: verskaf

’n Groep atlete gaan van Dinsdag af sowat 250 km in die Vrystaat aanpak om die slagoffers van plaasaanvalle te ontmoet, ’n bewusmaking te skep vir hul trauma en geld vir berading in te samel.

Die #HardloopVirHoop-projek is ten bate van AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid. Die organisasie sê die eenheid lewer ’n unieke en persoonlike diens aan die slagoffers van geweldmisdaad en veral aan die slagoffers van plaasaanvalle.

Bennie Roux (41), ’n ultramarathonatleet van Centurion, sê die saak lê hom na aan die hart want hy het self vriende en familie wat al op plase aangeval is.

Roux is die dryfveer agter die projek en nooi ander atlete om hulle by hom op die roete aan te sluit.

Roux se oom en tante, Hendrik en Marie Roux, is in 2018 op hul plaas buite Reitz aangeval.

Roux en die atlete wat hom ondersteun, spring Dinsdag uit Villiers weg en hardloop met ’n grondpad tot in Frankfort.

Hy gaan om 13:30 ’n muntlegging by die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort hou.

Hulle sal van Woensdag 23 Oktober hardloop vanaf die Frankfort-gholfklub tot in Reitz, waar hy om 13:30 ’n muntlegging by die Hoërskool Reitz sal hou.

Donderdagoggend spring hulle weer by die skool weg en hardloop dan tot by die Christen-sentrum in Bethlehem.

Op 25 Oktober hardloop hulle vanaf Lavender Hill op die N5 buite Bethlehem tot in Fouriesburg.

’n Poeierverfpretloop (colour run) word om 12:00 by die Fouriesburg Intermediêre Skool gehou.

Op die laaste dag van die roete sal hulle die Roosfees op die Oranje Gasteplaas bywoon.

AfriForum vra dat mense Roux ondersteun deur plasings en artikels op sosiale media te deel.

Mense kan ook geld vir AfriForum se traumaberadingsentrum skenk deur Roux per kilometer te borg. AfriForum sê hy het ook pakkette waardeur borge vir ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat kwalifiseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.