Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Later aandklok enigste ligpunt vir restaurante

Die regering het voorstelle om die restaurantbedryf te red Donderdag verwerp.

Dit kom nadat die Restaurant-vereniging van Suid-Afrika (Rasa) ’n daadwerklike poging aangewend het en met voorstelle na die regering gegaan het om die bedryf van algehele ineenstorting te red. Die voorstelle is ’n week gelede aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, oorhandig.

Kubayi-Ngubane het Donderdag op ’n mediakonferensie verskeie nuwe aankondigings gedoen. Die enigste verandering onder die kwessies wat Rasa met die minister bespreek het, was om die aandklokreël tot 22:00 aan te skuif.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. Foto: Argief, Lindile Mbontsi

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, moet egter oor die drankverbod besluit. Op ’n vraag van Netwerk24 aan die minister, spesifiek oor Rasa se drankvoorstelle, het sy gesê: “Daardie versoek is nie toegestaan nie.”

Sy het gesê sy kon wel die aandklokreël verleng.

Wendy Alberts, Rasa se uitvoerende hoof, sê die voorlegging en betogings was om ’n kommunikasielyn tussen die bedryf en die regering te bewerkstellig. Uit die veranderinge wat Donderdag aangebring is, blyk dit dat daar nie ten volle oor al die aspekte besin is nie.

Alberts het verlede Woensdag die voorlegging ingedien en volgens haar sal dit restaurante in staat stel om beheerde alkoholverkope voort te sit. Rasa het voorstelle oor individuele dranklisensies, ’n later aandklokreël en gewysigde regulasies vir die verkoop van alkohol in laerisikogebiede aan die regering voorgelê.

Restaurante landwyd het verlede week aan betogings deelgeneem om die aandag op dié sektor te plaas wat in duie sal stort indien die regering nie dringende aanpassings aan die inperkingsregulasies maak nie. Talle restaurante moes reeds hul deure sluit en werknemers afdank.

Volgens Alberts het 400 000 mense in die bedryf hul werk verloor. Gesinne sukkel finansieel en kan nie ’n bestaan maak nie.

Volgens van dié restauranteienaars is die verbod op alkohol die grootste probleem omdat die verkoop daarvan saam met kos van kardinale belang is. Dit maak gewoonlik sowat 50% van gaste se rekening uit.

Die aandklokreël het mense ook afgeskrik om uit te eet.

Intussen het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gesê die drankverbod sal gereeld geherevalueer word.

Haar stelling kom van haar eedsverklaring wat deel uitmaak van die hofsaak waar die wynbedryf die grondwetlikheid van die verbodregulasies uitdaag. Die saak word later in Augustus aangehoor.

Alberts het bevestig hulle het nog geen antwoord op hul voorlegging van die minister ontvang nie.

Meer oor:  Rasa  |  Mmamoloko Kubayi-Ngubane  |  Ligpunt  |  Restaurante  |  Aandklok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.