Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Leë teater, maar wêreld luister

Van so ver as Kanada, Nieu-Seeland, Australië, Hongkong, Swede, Afganistan, Paraguay, Nederland en Taiwan het mense Saterdagaand ’n Afrikaanse musiekkonsert in Pretoria “bygewoon”.

Amanda Strydom maak musiek saam met Coenraad Rall en Susan Mouton op die gratis aanlyn konsert gister. Hulle sou dié konsert op die KKNK gehou het. Foto’s: Deon Raath

Hoe hard die meer as 26 000 mense in 65 lande hande geklap het, sal die kunstenaars nie weet nie, want die Atterbury-teater was dolleeg. Weens die gevaar van Covid-19 is die gratis aanlyn konsert sonder ’n gehoor gehou.

Amanda Strydom, Theuns Jordaan, Jannie Moolman, Jak de Priester, Johrné van Huyssteen, Ricus Nel, Kevin Leo en Ruhan du Toit was op die verhoog.

Corlea Botha sou ook daar gewees het, maar sy het vroegmiddag laat weet sy voel koorsig. Daarom was sy bang om tussen die ander sangers te wees, maar sy was darem gereed om haar liedjies op Skype te sing.

Die sangers het elk al meer as tien konserte vir die maand verloor.

Matthys Maree, ’n musikant wat vir die teater verantwoordelik is, sê hulle hoop om ’n inkomste uit aanlyn konserte te verdien.

Ruhan du Toit sing saam met Matthys Maree in ’n leë teater.

“Ons het nou ’n groot gratis konsert gehou, maar van volgende week af kan ons begin om konserte vir kykers te verkoop.”

Strydom sou op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gesing het, wat ook afgelas is. Nou is haar konserte tot in Junie gekanselleer.

“Dit is my lewe as ek sing. My man het intussen al afgetree, so ek werk alleen vir ons. Ek weet glad nie wat ek verder in die bedryf gaan doen nie.”

Strydom sê sy is darem dankbaar vir huiskonserte waar sy kan optree.

Moolman sou ook op die KKNK gewees het. Volgens hom begin die meeste sangers in Maart met optredes vir die jaar.

“Nou is daar niks en dan het ons skielik nie ’n inkomste nie.”

Moolman werk nou by die eiendomsagentskap Re/Max.

Volgens hom is konserte al waarmee sangers kan geld maak.

“Ek en Corlea Botha het vier jaar gelede ’n CD gemaak, Alle paaie lei na Rome. Ons het toe meer as 30 000 albums verkoop. Vandag gaan jy nie eers 2 000 albums verkoop nie.”

Nes die KKNK het die Atterbury-teater mense wat kaartjies gekoop het vir konserte wat nou van die baan is, die opsie gegee om die geld nogtans vir die kunstenaars te skenk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.