Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lees: Briewe aan Sunita in brandondersoek

Die uitslae van die polisie se forensiese toetse wat gedoen word om onder meer te bepaal of Sunita en Jacques van Dyk pille gedrink het voordat hulle in ’n brand in hul huis op ’n plaas in Wellington dood is, kan binne die volgende paar weke afgehandel word, berig News24.

Daar word gehoop dat die toetse ook lig sal werp op die omstandighede rondom die egpaar se dood, wat nou die fokuspunt van minstens twee ondersoeke geword het.

Die ondersoeke kyk onder meer na die egpaar se intieme verhoudings en ook ’n reeks briewe.

Buiten die polisie se ondersoek na Sunita (31) en Jacques (30) se dood, is ’n tweede (private) ondersoek ook gelas.

Luidens News24 is bokse pille, waarvan een ’n soort kalmeerpil is, glo ná die brand, wat in die vroeë oggendure van 10 Mei uitgebreek het, in die Van Dyk-huis gevind.

Een van die briewe wat deel uitmaak van die private ondersoek, is glo deur ’n vriendin van Sunita geskryf en verwys ook na pille.

Sunita en Jacques van Dyk

In die brief sê die vriendin, wat volgens bronne glo buitengewoon na aan Sunita was, hoe sy “groen van jaloesie is” omdat Sunita saam met ander vriende weggegaan het en dat sy hoop dat een van hulle “ook die pille uit jou sak sal haal en vir jou sal gee”.

Die brief verskaf nie verdere besonderhede oor die pille nie.

Verskeie ander raaiselagtige faktore het ook in die saak aan die lig gekom.

Dit sluit in dat die egpaar nie probeer het om uit die brandende huis te vlug nie. Hul hond, Skollie, is dood in die gang van die huis gevind.

Dit blyk ook nie of Sunita en Jacques probeer het om deur die badkamervenster te ontsnap nie.

Die paartjie se lyke is in die badkamer gevind, met Sunita in die bad met min klere aan.

Luidens bronne is daar aanduidings dat potensiële bewyse ná die brand van die toneel af verwyder is. Dit is onbekend of dit opsetlik verwyder is.

Die oorsaak van die brand is nog onbekend, en terwyl die paartjie ingevolge die lykskouing aan rookinaseming dood is, is onverklaarbare beserings aan Sunita se liggaam gevind.

Dit het verlede week aan die lig gekom dat daar beserings aan Sunita se nek was, wat volgens ’n ingeligte bron ooreenstem met dié van iemand wat verwurg is.

Die inligting het die private ondersoek tot gevolg gehad, met Jacques se familie wat ’n private speurder aangestel het om ondersoek in te stel na die oorsaak van die brand en die omstandighede daar rondom.

Daar word glo gekyk na ontmoetings wat Sunita voor haar dood gehad het, haar verhoudings, veral met iemand wat glo op die oog af behep met haar was, asook briewe, boodskappe en telefoonoproepe, wat Sunita kort voor haar dood ontvang en gestuur het.

News24 het van die briewe onder oë gehad wat Sunita van ’n vrou ontvang het met wie sy glo vir sowat twee maande bevriend was. Die briewe sluit die een in waarin na die pille verwys word.

Nog ’n handgeskrewe brief bevat ’n gedrukte aanhaling, blykbaar van Bob Marley, wat op die papier geplak is.

Briewe wat deur ’n vriendin aan Sunita van Dyk gestuur is. Foto: News24

Die aanhaling begin met die woorde: “Only once in your life, I truly believe, you find someone who can completely turn your world around.”

Die handgeskrewe deel meld dat die gedrukte aanhaling die skrywer aan twee mense laat dink: Sunita en die skrywer se man.

’n Getikte brief sê dit is presies twee maande sedert die skrywer en Sunita vriende geword het, en dat dit die wonderlikste twee maande ooit was.

Die skrywer hoop hul vriendskap gaan “net groei en groei – soos die blomme wat jy vir my gegee het”.

Die brief lees dat die skrywer twee koppies gekoop het, een vir haar en een vir Sunita.

“So elke keer wat jy tee drink, moet jy aan my dink en ek sal aan jou dink.”

Die brief lees dat die skrywer tien koppies koffie of tee ’n dag drink.

Vier pienk harte sluit die brief af.

Die tweede ondersoek – deur die polisie – behels die forensiese toetse. Die polisie het verlede week gesê ’n forensiese verslag is nog nie ontvang nie.

Dit het drie weke voor haar dood aan die lig gekom dat Sunita, ’n onderwyser by die Laerskool Paarl Gimnasium, ’n buite-egtelike verhouding gehad het.

Meer oor:  Jacques Van Dyk  |  Sunita  |  Briewe  |  Lees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.