Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Leeu-aanval: ‘Ek sê elke dag dankie dat ek leef’

Elke jaar op 26 Julie vier ’n man van Bethlehem die feit dat hy nog leef.

En vanjaar vir die sewende keer, om presies 11:30, vier Ronnie Odendaal (69) sy “leeu-verjaarsdag” – die dag dat ’n groot leeumannetjie hom verskeur het.

“Ek dink baie terug daaraan,” sê hy.

“Dit was omtrent ’n ondervinding en om dit te kon oorleef . . . ek is elke dag daarvoor dankbaar.”

Ronnie Odendaal en sy vrou, Dawn. Foto: Verskaf

“Hulle (sy sewe kleinkinders) is nou groter en ken die storie al goed, maar wanneer hulle vra, vertel ek.”

Hy het destyds op die leeuplaas Mara in die Bethlehem-distrik gewerk.

Hy en die werkers was besig om vir die vyf leeus in die kamp kos af te laai en bene op te tel toe hy ’n SMS van sy baas af kry.

“Ek weet báie goed dat jy nié jou rug op ’n leeu draai nie. Die groot mannetjie, wat voorheen al een van die werkers minder ernstig gebyt het, het sowat 7 m van my af gestaan.”

Toe hy sy selfoon terug in die sakkie aan sy gordel wou sit, was die mannetjie by hom.

“Alles het só vinnig gebeur. Ek het na hom geklap en die hele binnekant van my hand is oopgeruk. Dis toe dat ek val en die leeu bo-op my spring.”

Die leeu het weefsel en spiere in sy linkerheup beskadig en in sy been ’n stuk been uitgebreek. Aan sy regterheup en -boud het hy vandag nog ’n letsel van sowat 30 cm by 20 cm.

Hy was vir langer as vier maande in die hospitaal ná komplikasies en het 20 eenhede bloed ontvang. In dié tyd het hy sowat 30 kg verloor.

’n Plaaswerker het dié dag tot sy redding gekom toe hy met die bakkie die leeus weggejaag het.

Ronnie Odendaal het sewe veloorplantings gehad ná die leeu-aanval. Dit is hoe sy heup vandag lyk.Foto: Maryke Swart
Dit is hoe Ronnie Odendaal se been vandag lyk. Dit herinner hom om elke dag dankbaar te wees. Foto: Maryke Swart

Odendaal het toe in die bakkie geklim en self sowat 600 m gery voordat hy flou geword het.

“In daardie 600 m gaan daar só baie dinge deur jou kop. Ek het net gedink dat ek nooit weer my kinders en my vrou gaan sien nie.”

Dawn, sy vrou van meer as 50 jaar, was die eerste persoon wat hy daarna gebel het.

“Al wat ek vir haar gesê het, is dat ek lief is vir haar.”

Vandag is die letsels en ’n effense mank stappie al wat hy ná die gruwelike aanval oor gehou het.

“Dit herinner my elke dag om dankie te sê dat ek leef.”

Meer oor:  Dankie  |  Leeuaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.