Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Leeu-aanval: ‘My pa sou nie anders wou gaan’

“My kind, as ek eendag moet gaan, sal ek verkies dat dit deur my diere is.”

Leon van Biljon (70) het geweet hy gaan eendag na sy Hemelse Vader toe, en, sê sy dogter Leonette van Wyk, hy sou nie op ’n ander manier wou gaan nie.

Leon van Biljon saam met een van sy geliefde leeus. Foto: Mahala View Lion Game Lodge Facebook

Daarom het sy geen kwaad teenoor die leeu(s) wat haar pa Dinsdag by die Mahala View Lion Lodge, noord van Pretoria en duskant Cullinan, doodgebyt het nie.

Miskien wou die leeu wat sy slagaar van agter raak gebyt het, net speel. Miskien het die hand-grootgemaakte troppie van drie “opgetel” dat Van Biljon, wat siek was en medisyne gebruik het, die “swak skakel” is en hulle het net volgens hul natuurlike instink opgetree.

Wat ook al die rede, sê Van Wyk, sy weet hoe haar pa sy lewe gelei het, en sy leeus aan hulle en sy Skepper opgedra het.

“Dit is hoe die natuur werk en ons moet vrede daarmee maak, want my pa het vrede gehad,” sê sy.

Van Biljon het die drie leeuwelpies in 2006/7 gekry. Hulle was soos sy kinders, sê Van Wyk.

Rambo was die mannetjie. Van Wyk het vir Nikita haar naam gegee na aanleiding van Elton John se liedjie.

Haar pa se droë sin vir humor het die derde leeu se unieke naam tog gevolg gehad: Cat(kat)h.a(katha. Ri(katari)n.a (Catharina).

Die drie leeus wat Leon van Biljon grootgemaak het. Foto: Mahala View Lion Game Lodge Facebook

“Dit is hoe my pa haar naam sou uitspreek, met die woorde in hakkies by. Haar noemnaam was sommer Katryntjie,” glimlag Van Wyk deur haar hartseer.

Die leeus is grootgemaak op Mahala, ’n plaas binne die bosveldagtige Leeuwgedacht-bewarea, wat ook ander plase en lodges huisves.

Die weergawe wat die familie en vriende gehoor het, was dat Van Biljon vroegmiddag by die kamp in is om ’n stukkende draad reg te maak.

Hy het sy rug op die drie leeus gedraai en een het hom van agter aan die nek gegryp.

Daar was twee wyfies en ’n mannetjie in die kamp gewees. Een van hulle het aangeval, die ander twee het daarop gereageer.

Xander Loubser van die Ambu-Link-nooddienste sê hulle is omstreeks 12:30 na die lodge ontbied.

“Ek is telefonies ingelig dat twee leeus reeds doodgeskiet is, terwyl ’n derde leeu steeds by die pasiënt was en niemand by hom kon uitkom nie.

“Minute later het ek ’n oproep ontvang dat die derde leeu ook van kant gemaak is en iemand tot by die pasiënt kon kom,” sê Loubser.

Met die nooddiens se aankoms was Van Biljon reeds dood.

Hy het verskeie oop wonde gehad en baie bloed verloor.

Leon van Biljon tydens een van sy opvoedkundige praatjies oor leeus. Foto: Mahala View Lion Game Lodge Facebook

Een van die leeus het naby hom gelê.

Die polisie het omstreeks 15:00 op die toneel, waar bewarea-inwoners die toegangshek met voertuie afgesper het om dit te beveilig, aangekom.

Konst. Connie Moganedi, polisiewoordvoerder, sê ’n werker het vroegmiddag op die toneel afgekom waar twee leeus, ’n mannetjie en ’n wyfie, besig was om die man te sleep. ’n Derde leeu was ook in die hok.

Die werker het aan die skreeu gegaan, waarna bure kom kyk het.

Die polisie ondersoek ’n saak van ’n onnatuurlike dood, sê sy.

Van Wyk sê sy is nie self na die toneel nie. Haar suster, Vicky van Biljon, het haar van die voorval vertel nadat ’n werker van Mahala af gebel het.

Van Wyk het haar man en skoonseun gevra om soontoe te gaan.

“Ons het daardie plaas van niks af gebou, daar grootgeword.

’n Polisielid bewaak die hek na die bewarea waarin die Mahala View Lion Lodge geleë is.Foto: Deaan Vivier
Die polisie kom by die Leeuwgedacht-bewarea aan waar Leon van Biljon deur sy leeus doodgebyt is.Foto: Deaan Vivier

“My pa het die leeutjies grootgemaak. Hy sou by hulle slaap as ’n slang een pik. Hy het vir skoolgroepe opvoedkundige praatjies oor leeus en die verwantskap tussen God en dié diere gegee.


“Toe hy Mahala so twee, drie jaar terug verkoop, het hy verblyfreg behou en daar aangebly vir die leeus.

“Ons het aangebied dat hy by ons in die stad kom bly, maar hy het gesê hy wil nêrens anders woon nie, want hy werk vir God,” sê Van Wyk.

Die leeus het ook net vir Van Biljon in hul kamp toegelaat.

Sy en haar pa het onlangs nog gepraat oor sy gesondheid, dat leeus in hul verhemelte naby die neusgange ’n “Jacobson se orgaan” het, wat sekere reuke optel, soos sommige medikasie.

“My pa was ’n baie wyse man met baie lewenservaring, ’n sagte hart. Hy het op 70 met sy grys hare tot op sy skouers self soos ’n leeu gelyk. Sy dood is seer en ons gaan hom mis. Ons troos is daarin dat my pa vrede gehad het,” sê Van Wyk.

Vriende bring hulde

Leon van Biljon word deur sy twee dogters, skoonseun, vier kleinkinders en twee agterkleinkinders oorleef.

Vriende en inwoners van die bewarea beskryf hom as ’n “uitsonderlike” mens. Hulle dink nie hy sou wou hê dat sy leeus van kant gemaak moes word nie, sê van hulle.

Sy woonhuis was reg langs die leeukamp en hy het “al die jare” tussen sy leeus gaan loop, met hulle gespeel, sonder dat hulle hom iets aangedoen het.

Maxi en Hein Pretorius, wat ook in die bewarea woon waar Mahala geleë is, het Van Biljon sowat 35 jaar lank geken.

Hulle het Dinsdagmiddag gesê hul vriend was “baie, baie lief vir daardie leeus”.

Selfs “op sy ouderdom” sou hy betrokke by die gemeenskap wees en help waar nodig.

“Hy was ’n Godsman, ’n briljante houtwerk-kunstenaar. Sy deur was altyd oop en almal was welkom daar,” het die vriende gesê.




MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.