Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Leeuaanval: 'Dis geskiedenis, net letsels is oor'

“Ek het groot geskrik en ek het letsels op my skouer oor.”

So sê Reinhard Heuser (36), professionele jagter en eienaar van Kwalata Wilderness in Limpopo, twee jaar nadat hy deur ’n leeu aangeval is.

Noordelike Nuus het kort ná die leeuaanval dié foto van Reinhard Heuser gepubliseer. Die wonde aan sy linkerskouer waar die leeu hom gebyt het, is duidelik sigbaar. Foto: Noordelike Nuus

’n Video van die aanval, wat Dinsdag eers op Facebook gedeel is, het vandeesweek groot opskudding veroorsaak.

Teen Donderdagmiddag is die video reeds byna 150 000 keer gekyk en meer as 2 800 keer gedeel.

Die video wys hoe Heuser en ’n groep jagters in Maart 2015 op ’n leeumannetjie skiet terwyl hy op hulle afstorm.

Die leeu het Heuser aan sy linkerskouer beetgekry en hom afgetrek grond toe. Een van die ander jagters het die leeu eindelik doodgeskiet om sodoende Heuser se lewe te red.

Hy wou nie verder oor die voorval kommentaar lewer nie.

“Dit is deel van my geskiedenis en ek het aangegaan met my lewe. Nie een van my kliënte het seergekry nie, net ek. Daarom is dit nou tyd om aan te beweeg.”

Volgens Noordelike Nuus wat destyds volledig oor die voorval berig het, het dit op ’n plaas van 4 000 ha naby Bray in Noordwes gebeur.

Heuser het sy oorsese kliënte na die plaas in die Kalahari geneem om onder meer buffels te jag, lui die berig.

Jacques Spamer, wat Heuser bygestaan het, het aan Noordelike Nuus gesê dat hulle in die leeu vasgeloop het waar hy onder ’n bos sowat 20 m van hulle af gelê het.

Voordat hulle kon terugbeweeg, het die leeu hulle gestorm.

Spamer wou nie Woensdag kommentaar oor die video lewer nie en sê hulle “is nou oor dit”.

Heuser is daarna na die Mediclinic Bloemfontein geneem waar die byt- en krapwonde, wat “meestal net vleiswonde” was, aan sy skouer behandel is.

Prof. H.O. de Waal, van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement vee-wild-en-weidingkunde, het Woensdag gesê die video sal mense herinner dat ’n wilde dier nooit onderskat moet word nie.

“ ’n Leeu is nie bang nie. Dit bly ten alle tye ’n lewensgevaarlike dier.”

WAARSKUWING: Nie vir sensitiese kykers


Meer oor:  Limpopo  |  Geskiedenis  |  Leeuaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.