Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Leeutrop van 6 vang dalk tot 3 stropers

Die menslike oorskot wat in ’n leeukamp op ’n wildreservaat in die Oos-Kaap aangetref is, is moontlik dié van twee of drie mense, sê Nick Fox, eienaar van die Sibuya-wildreservaat.

Hy dink hulle was op die reservaat naby Port Alfred om renosters te stroop en het hulle in die reservaat se trop van ses leeus vasgeloop.

“Hulle was gewapen met onder meer ’n grootkaliber-geweer met ’n knaldemper, ’n byl, ’n draadtang en hulle het kosvoorraad vir ’n paar dae gehad. Dit is alles tekens van ’n bende wat renosters wil doodmaak om hul horings te verwyder.”

Die foto verskyn op die Sibuya-wildreservaat se Facebook-blad onder die opskrif: “Die koning van die Sibuya-trop”.

Hy sê die stropers het Sondagnag of Maandag in die vroeë oggendure by die reservaat ingekom deur ’n grensheining te knip.

Maandag omstreeks 04:30 het een van die reservaat se teenstroperhonde haar hanteerder se aandag probeer trek deur kwaai te blaf. Fox sê die hanteerder het die leeus hoor brul en gedink dit is wat die hond gesteur het. Die hanteerder het nie onraad vermoed nie. “Dit is nie ongewoon om leeus in die aand te hoor nie, maar dit blyk nou of die hond iets ongewoons in die leeus se kamp gehoor het.”

Dinsdagmiddag eers het ’n veldwagter wat op ’n wildrit was, op die oorskot afgekom.

Fox, die polisie, die teenstropingseenheid en Indalo, die Oos-Kaapse wildreservaat-vereniging, is na die toneel ontbied.

Fox sê ses leeus word in die kamp aangehou waar die oorskot gevind is.

“Dit is duidelik die stropers het hulle vasgeloop in die trop van ses leeus en sommige van hulle, indien nie almal nie, is doodgemaak.”

Sibuya se veeartse het vroeg Woensdagoggend die trop leeus met verdowingspyle geskiet, om die polisie en speurders ’n kans te gun om die toneel te fynkam.

Die polisie het op die geweer, byl, draadknipper, handskoene, draftekkies en rugsak met kos en water in, beslag gelê.

Lwandile Sicwetsha, woordvoerder van die LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, sê die departement wag op die uitslag van DNS-toetse.

Fox sê hulle het Woensdag en Donderdagoggend die reservaat deurgesoek ingeval nog ’n persoon iewers vasgekeer is, maar die soektog het niks opgelewer nie.

In die afgelope jaar het stropers probeer om by die reservaat se diere uit te kom, maar sedert 2016 het hulle nie daarin geslaag nie.

In Mei 2016 is twee van die reservaat se witrenosters doodgemaak en ’n derde een het die aanval oorleef, maar is blind gelaat en het later gevrek.

“Ons is nou net baie gelukkig en dankbaar die stropers het nie die kans gekry om ons diere te volg óf beseer nie,” het Fox gesê.

Kapt. Mali Govender, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie sal ’n geregtelike doodsondersoek doen.

Meer oor:  Nick Fox  |  Sibuya  |  Stropers  |  Wildreservaat  |  Leeus  |  Vang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.