Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Legendariese Ewie Cronjé gegroet
Ryk Neethling sr., Hester Parsons, Ewie Cronjé se dogter, en Ryk Neethling met Ewie gedenkdiens in Bloemfontein. Foto: Facebook/ Ewie Cronje Memorial

Dit was ’n besonderse naweek in Bloemfontein vir die geliefdes van die legendariese Ewie Cronjé (80) vir wie Saterdag ’n gedenkdiens gehou is nadat hy in Mei aan maagkanker gesterf het.

Frans Cronjé, sy seun, sê dit was ’n naweek wat afsluiting vir die familie gebring het.

Cronjé is onder meer as die vader van Vrystaat-krieket, soos deur die verslaggewer Cobus Claassen beskryf, gereken.

San-Marie Cronjé, Ewie Cronjé se weduwee. Foto: Facebook/ Ewie Cronje Memorial

’n Gedenkdiens is Saterdagoggend, ’n dag ná die oud-Proteakrieketkaptein Hansie Cronjé sy 51ste verjaardag sou vier, vir hom in die Woodland Hills Gemeenskapskerk onder leiding van ds. Anton Meiring gehou.

Die familie het op dié dag ook Cronjé se nissie in die gedenkmuur by Grey-kollege langs dié van sy seun Hansie geplaas. Hansie het in 2002 in ’n vliegongeluk gesterf.

Frans sê die familie kon ook Saterdagmiddag die dokumentêr wat Netflix oor Hansie vervaardig en nog nie uitgereik het nie kyk.

Weens inperkingsregulasies was dit nou eers vir die gesin moontlik om ’n samekoms vir die gedenkdiens te hou.

“Dat dit nou al ’n paar maande later is, het ook gemaak dat, hoewel dit emosioneel is, dit ’n bietjie anders is as wat hy pas oorlede is.”

Frans sê dit was ’n wonderlike naweek.

“Dit was lekker om soveel goeie vriende en familie te sien wat regtig van ver af gekom het.”

Die familie-ete Vrydagaand. Van links is, voor: Marié Cronjé, Cronjé se kleindogter, en Bertha du Plessis, voorheen Cronjé se skoondogter; middel: Jacques du Plessis, Bertha du Plessis se man, Frans Cronjé, Hester Parsons en Alexandrea Parsons, Cronjé se kleindogter; agter: James Parsons, Cronjé se kleinseun, Daniel du Plessis, Bertha du Plessis se seun, San-Marie Cronjé, Jac du Plessis,Bertha du Plessis se seun en Gordon Parsons, Cronjé se skoonseun. Frans se vrou en seun, René en Ewie, kon ongelukkig nie die naweek meemaak nie.

Bertha du Plessis, Hansie se weduwee wat later weer getrou het, en haar gesin was onder diegene wat die geleentheid bygewoon het. Du Plessis, Jacques, haar man, en hul twee kinders, Daniel en Jac, het ook die Vrydagaand saam met die familie geëet.

Die Olimpiese swemkampioen Ryk Neethling en sy pa, Ryk sr., het ook die diens bygewoon.

Frans sê van sy pa se klasmaats het die diens bygewoon en Cronjé se rolbalvriende het ’n erewag in hul rolbalklere buite die kerk vir hom gevorm.

Frans prys Meiring vir sy preek en dat hy sy pa so goed in sy laaste dae bygestaan het en steeds sy ma, San-Marie, bystaan.

“Sy boodskap was dat die wedloop van die lewe se wenpaal nie hier is nie – soos jy hom hierso hardloop, hou jy aan nadat jy dood is.

“In sport is daar een wenner, in die lewe is daar nie net een nie,” vertel Frans.

Hy sê dit het baie goed by sy pa se lewe as sportman ingeskakel, maar ook by diegene wat die diens bygewoon het, waarvan die meerderheid sportmense was.

Saterdag binne die Woodland Hills Gemeenskapskerk met Ewie Cronjé se gedenkdiens.

Cronjé se dekade lange vriend, Johan Volsteedt, oudskoolhoof van Grey-kollege en voormalige Vrystaatse krieketafrigter, het ’n huldeblyk aan hom gelewer.

Frans sê sy pa het Volsteedt die afgelope 20 jaar herinner dat hy op sy begrafnis moet praat.

Volsteedt het op die diens gesê almal wat Cronjé geken het, was van staanspoor vir hom lief – hy het nie vyande gehad nie.

“Hy het homself nie te ernstig opgeneem nie en sy sin vir humor het oud en jonk na hom toe aangetrek. Sy kwajongstreke het getuig van sy borrelende lewenslus,” het Volsteedt gesê.

“Ewie was lief vir sy naaste, liewer vir sy gesin en liefste vir sy Skepper. Hy was ’n nederige, sagmoedige wintie wat met homself kon spog en spot!”

Frans en sy suster, Hester Parsons, het ook aan hul pa hulde gebring.

Parsons het gepraat oor die feit dat niks vir hul pa te veel moeite was nie, sê Frans.

“Ek gesê daar was nooit ’n dag wat ons enigsins getwyfel het in ons ouers se liefde nie en ons gesin net baie goed oor die weg gekom het,” sê hy.

Met ma San-Marie gaan dit baie goed onder die omstandighede.

“Sy is gesond en baie fiks en op en wakker. Ek dink ook die naweek was vir haar goed gewees – net om finaal ook afskeid te neem.”

Die Parsons-gesin het ook van David Parsons, Hester se skoonpa, op die diens afskeid geneem. David is ook tydens die inperking in Engeland oorlede.

Hester Parsons lewer ’n huldeblyk aan haar pa, Ewie Cronjé, op sy gedenkdiens in Bloemfontein.
Frans Cronjé praat op sy pa, Ewie Cronjé, se gedenkdiens.
Pa en seun Ewie en Hansie Cronjé se nisse is langs mekaar in die gedenkmuur by Grey-kollege gebêre.
Ewie Cronjé se nissie is langs dié van sy seun, Hansie, in die gedenkmuur by Grey-kollege geplaas. Foto: Facebook/ Ewie Cronje Memorial
Meer oor:  Ewie Cronjé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.