Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lekker in tronk . . . as jy rol speel in ‘7de Laan’

Die eerstehandse ervaring wat Vinette Ebrahim van tronke het, het haar gehelp om die mal Vivienne in 7de Laan so oortuigend te vertolk.

Vivienne en vyf ander “Laners” is tans te sien as tronkvoëls in dié sepie.

Vyf van 7de Laan se tronkvoëls. Agter staan Carina Nel (Amanda), Bertha le Roux (Emma/suster Miems) en voor is Deirdre Wolhuter (Mariaan), Vinette Ebrahim (Vivienne) en Hildegardt Whites (Bonita), vandeesweek by die 7de Laan-ateljee in Lonehill, Johannesburg. Foto: Elizabeth Sejake

“Kyk, ek kom uit die sewentigs – die struggle-tyd – en was nooit self in die tronk nie. Maar ek het vir mense daar gaan kuier en weet hoe dit daar gaan. Dis rof en jy doen wat jy moet om te oorleef,” sê Vinette.

Sy het ook jare gelede vir die kinderbeskermingsorganisasie Molo Songololo gewerk.

“Ek het toe onderhoude gedoen met twee pa’s wat hul kinders verkrag het. Ek was in Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad in. Sjoe, en dis donker en vuil. Jy ruik die sweet en jy voel aan hoe die gevangenes smag na ’n lewe daar buite. Maar tog het hulle hierdie ‘ek is nou hier, moenie met my f** nie’-houding.”

“Ek sê jou nou, daar sit ’n klomp masterminds saam en só word die volgende misdaad beplan.”

7de Laan-kykers het hulle die afgelope week vergaap aan die gekonkel en geknoeiery in die tronk in “Hillside” waar die karakters Amanda (Carina Nel), Vivienne, Bonita (Hildegardt Whites), Mariaan (Deirdre Wolhuter), Natalie (Daniella Deysel) en suster Miems (Bertha le Roux) saam in twee selle aangehou word.

Die 7de Laan-aktrises soos wat hulle in die tronktonele lyk. Van links is Mariaan (Deirdre Wolhuter), Carina Nel (Amanda), Emma of eerder “suster Miems”, soos sy in die tronk bekend staan (Bertha le Roux), Liefie (Martelize Kolver), Natalie (Daniella Deysel), Vivian (Vinette Ebrahim) en Bonita (Hildegardt Whites). Foto: Rohan Horn

Die aktrises was almal baie opgewonde toe hulle by die skrywers hoor van die tronkstorielyn. Vinette het wel gevra dat hulle darem moet onthou sy is al 61 en hulle moet haar “ou lyf” so ’n bietjie genadig wees.

“Maar toe kry ons die teks en elke tweede toneel is ’n geveg,” spot Vinette. Sy sê sy het gereeld met blou kolle huis toe gegaan in die drie weke wat die tonele verfilm is.

Deirdre voeg by dat sy self een dag tydens verfilming gedink het haar neus was dalk gebreek nadat Mariaan en Vivienne koppe gestamp het.

“Ons het so lekker gelag vir Vinette wat so mal geraak het. Ons het nie geweet sy het dit in haar nie,” sê Deirdre.

Kykers het hulle vandeesweek verkyk aan haar streke waar sy onder meer kop verloor het en gegrom het soos ’n dier en ou Bon-Bon (Vivienne se troetelnaam vir Bonita in die tronk) gemiaau het soos ’n kat.

Deirdre het self ervaring wat haar in haar vertolking gehelp het.

“Ek het jare lank as vrywilliger by die polisie gewerk waar ek gehelp het met ondersteuning en terapie vir slagoffers van geweld en dit was interessant om vir ’n slag aan die anderkant van die lyn te staan.”

Vinette het dit veral geniet om weer haar ander karakter, Charmaine, ’n ware “goody two shoes”, se skoene aan te trek. “Dit was so ’n lekker wegbreek. Dit het sommer gevoel of ek op ’n turbo-charged vakansie was.”

Nog ’n verrassing was die terugkeer van Bertha le Roux in die rol van Emma wat in die tronk bekend staan as suster Miems.

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Gevangenis  |  Sepie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.