Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lenasia-grondbesetters: ‘Niemand kan ons wegjaag’

Grondbesetters in Lenasia het Woensdag die plaaslike owerhede uitgedaag om hulle te keer om strukture op ’n stuk grond op te rig.

“Hulle (die metropolisie) kan maar alles kom afbreek, ons gaan alles weer net so opbou,” sê Thabo Njisane (28), een van die grondbesetters.

’n Gespanne atmosfeer het geheers toe Netwerk24 by ’n stuk grond aankom met honderde piepklein sinkhuisies daarop naby die K43-pad in Lenasia-Suid.

Twee grondbesetters sit op ’n rusbank nadat die metropolisie Woensdag hul sinkhuisie op ’n stuk grond naby die K43-pad in Lenasia-Suid afgebreek het. Foto: Werner Beukes

Die metropolisie is oorgehaal vir enige geweld. Uitgesette grondbesetters raap en skraap om stukke van hulle platgeslane huise te red. Hulle stap daarmee na reg oorkant die pad na ’n ander informele nedersetting.

“Tsk,” klik ’n vrou se tong.

Sy loop kopskuddend met ’n kruiwa nader om haar besittings te gaan haal. Die teerpad is besaai met klippe en glasstukke. ’n Boomstomp lê voor een van die metropolisie se gepantserde voertuie.

’n Vrou stap met ’n kruiwa oor die pad in Lenasia-Suid om haar besittings te gaan haal nadat meer as 300 onwettige strukture Woensdag hier afgebreek is. Foto: Werner Beukes

Njisane sê hy het sy “erf” op die stuk grond vir R500 gekoop.

“Ek het nie ’n vaste werk nie en moes vir ’n lang tyd hier en daar loswerkies doen om die erf te koop. Niemand kan ons hier wegjaag nie,” sê Njisane.

Maar wie het die grond dan aan hom verkoop? Hy wil nie sê nie.

“Ek is te kwaad oor wat hier gebeur om nog verder te praat,” het hy aan Netwerk24 gesê.

“Ek gaan net wag (totdat die metropolisie weg is) en dan weer terugkom.”

’n Ander onwettige besetter, wat nie haar naam wil noem nie, sê sy het R2 000 betaal vir “haar” grond.

“Daar het oor die jare heen niks gekom van al die regering se beloftes vir huise nie. As dit donker word, gaan ek terug om my huisie weer aanmekaar te sit.”

Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, sê die afbreek van onwettige strukture in Lenasia, Ennerdale, Lawley, Unaville en Orange Farm sal voortgaan.

“Woensdag is meer as 300 onwettige strukture net in Lenasia-Suid afgebreek. Ek is nie bewus daarvan dat enigiemand seergekry het nie. Die K43 en die R558-paaie was vir ’n wyle gesluit om motoriste se veiligheid te verseker, maar is later heropen.”

Grondbesetters beweer hulle het betaal vir die grond in Lenasia-Suid waarop hul onwettige strukture Woensdag afgebreek is. Sommige het gestaan en wag vir die metropolisie om te verdwyn sodat hulle van vooraf hul huisies kon oprig. Foto: Werner Beukes
Meer oor:  Onwettige Strukture
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.