Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Leraar hang hom in kerk oor Covid

’n Predikant van die Wes-Rand het homself in sy eie kerk om die lewe gebring omdat die impak van die koronavirus op sy gemeente en die gepaardgaande armoede net te veel geword het.

Ds. Henk Calitz

Ds. Henk Calitz (40), ’n geliefde leraar van die Hervormde gemeente in Carletonville naby Potchefstroom en pa van vyf kinders, se lyk is verlede Vrydagoggend gekry.

Hy het homself in die kerksaal gehang.

“Mense se swaarkry tydens die inperking was te veel vir hom. Hy kon dit nie hanteer dat hy nie meer mense finansieel kon bystaan nie en hulle met al hul gemoedsprobleme kon help nie,” het sy suster Maritza van der Berg die afgelope week gesê.

“Dit was verder vir hom baie moeilik om sy preke voor ’n leë kerk te lewer wat vir uitsendings opgeneem is,” sê sy.

“Ek dink dit was als deel van ’n sameloop van omstandighede wat hom daartoe gedryf het om sy eie lewe te neem.”

Volgens Van der Berg het niemand besef hoe moedeloos haar broer gevoel het oor mense se probleme nie en dat dit deur die inperking vererger is.

Sy sê haar broer het nie aan depressie gely nie.

“Hy het altyd geglimlag en gelag en het homself te na gekom om ander mense te help. Hy was 100% ’n familie- en gemeenskapsmens en ’n mentor vir baie mense. Hy het veral ’n sagte plek vir bejaardes gehad.”

Calitz was voorheen ’n onderwyser en het die laaste sewe jaar as voorsitter van die Laerskool Dagbreek se beheerliggaam gedien.

‘Hy was ’n mentor vir baie mense.’

Hy was ook betrokke by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) op die dorp en het die Hoërskool Carletonville en die Laerskool Dagbreek se meisies se eerstehokkiespanne afgerig.

Van der Berg sê dit was vir haar moeilik om na hom toe te gaan met haar eie persoonlike probleme omdat sy geweet het dat hy soveel tyd aan ander mense se probleme moes bestee.

Sy sê haar broer het homself in die kerksaal afgesonder toe hy sy eie lewe geneem het omdat hy nie wou hê dat sy kinders op hom moes afkom nie.

Hy en sy vrou, Martie, en sy vyf kinders het in die pastorie reg langs die kerk gebly.

Elmarie Myburgh, die administratiewe beampte van die kerk, het op sy lyk afgekom.

Van der Berg sê haar broer het ’n selfmoordbrief gelos, maar het nie redes daarin gegee waarom hy sy eie lewe geneem het nie.

Sy sê niemand kan sê of hy dit beplan het nie.

Calitz was twee maande gelede in die nuus toe hy ’n hartroerende brief aan die media geskryf het oor hoe polisielede hom by ’n Covid-19-padblokkade afgetrek het en hom toe gevra het om vir hulle te bid toe hulle agterkom hy is ’n predikant.

“En daar staan ek tussen hulle. Doen ’n gebed in my beste Engels. Ek sê amen. Elkeen van hulle kom na my toe. Skud my hand. Sê dankie en ‘May the Lord bless you and your family’.

“Ek het tot in Carletonville met ’n knop in my keel gery. Trane wat vlak sit. Mag ons ook in hierdie tyd besef wat hulle vir ons beteken en ons gebede nodig het,” het hy in sy brief geskryf.

Myburgh sê dit was vir haar ’n groot skok toe sy verlede Vrydagoggend by die kerk aankom en Calitz aangetref het.

“Mense het opgekyk na hom en hy was altyd bereidwillig om na hul probleme te luister.

“Hy het uit sy pad gegaan om mense te help. Hy het die ander dag ’n splinternuwe yskas vir iemand gegee wat in nood verkeer het,” sê sy.

Dawid Nel, ’n ouderling by die kerk, sê baie lidmate en die dorp in die algemeen het die afgelope jaar swaar getrek.

Dis veral die stakings by die omliggende myne en die feit dat mense se inkomste weens die Covid-19-pandemie opgedroog het, wat tot die swaarkry bydra.

Hy sê dit het bykomende druk op Calitz geplaas om hierdie mense te ondersteun.

Hy sê Calitz het die pos as predikant in 2011 aanvaar.

“Jy kon altyd die passie en positiewe energie ervaar wat in hom was. Sy preke is elke Sondag met liefde en emosie aan ons gelewer.

“In die grendeltyd het hy uit sy pad gegaan om elke dag iets op te neem om ons positief te hou en ons te laat besef God is met ons. In tye van hartseer was hy altyd daar en het saam gehuil en in tye van blydskap het hy saam gelag.”

Bertus van Niekerk, ’n voormalige predikant van die gemeente, sê Carletonville is ’n “moeilike omgewing om in te werk”.

“Jy word blootgestel aan verskeie maatskaplike probleme waarvoor jy nie noodwendig opgewasse is nie. Predikante word opgelei om die Bybel te lees, maar uiteindelik moet hulle goed soos gesinsgeweld hanteer. Dit kan jou maklik moedeloos laat voel.”

Van Niekerk sê baie predikante ly aan ’n vorm van posttraumatiese stres weens die werk wat hulle doen. Min mense verstaan hoe diep predikante geraak word om met mense se pyn gekonfronteer te word, sê hy.

Volgens Van Niekerk is dit moeilik om jou rol as predikant te vervul in ’n omgewing wat agteruitgaan en waar die hele gemeenskap al hoe swaarder kry omdat mynbedrywighede besig is om weg te kwyn.

Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) se kommunikasiekommissie, sê Calitz het die gemeente vir nege jaar gedien.

“Hy was ’n stabiele mens vol simpatie en deernis vir sy medemens en daar was nooit enige spanning tussen hom en sy gemeente nie. Ons is daarom totaal en al uit die veld geslaan oor sy dood.”

Hy sê die gemeente is geweldig getraumatiseer deur die gebeure en dat daar gereël is vir berading vir gemeentelede.

Calitz se begrafnis vind Dinsdag by die kerk plaas.

Meer oor:  Henk Calitz  |  Carletonville  |  Selfdood  |  Hervormde Kerk  |  Predikant  |  Selfmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.