Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Leraar se dogter ontslaan
Die Gerber-egpaar, Riaan en Gretchen.

Die dogter van die gewilde Vrystaatse leraar wat Dinsdagoggend verdrink het nadat hulle in die see by Margate in die moeilikheid geraak het, is Woensdag uit die hospitaal ontslaan.

Dr. Riaan Gerber en Anchen, sy dogter met haar belydenisaflegging op 8 Maart.

Dr. Riaan Gerber van die NG Moedergemeente in Vrede is oorlede nadat hy en sy dogter, Anchen, blykbaar deur ’n seestroom meegesleur is. Hy is op die strand dood verklaar.

Hy het Vrydag sy 47ste verjaardag gevier.

Anchen voel baie beter, sê Gretchen Gerber, haar ma en sy eggenoot.

Volgens Gerber het die personeel van die Shelly Beach-hospitaal, waar Anchen in die waakeenheid opgeneem was, goed na hulle omgesien. Sy is ook dankbaar vir almal se omgee in dié tyd.

Gerber sê sy is self nie seker wat presies gebeur het nie.

“Net hy en Anchen was in die see; ons ander was nog of op die strand of op pad daarheen.”

Daar was ’n teatersuster op die toneel wat dadelik gehelp het, sê sy.

Die egpaar se ander twee kinders, De Wet (19) en Juhann (8), was ook op dié vakansie wat saam met vriende onderneem is.

Die gebeure voel nog vir haar onwerklik.

Dr. Riaan Gerber en sy seuns, Juhann (8) en De Wet (19).

“Soveel keer was ons die mense langs die beddens wat ons arms om ander gesit het.”

Sy sê dit is moeilik vir die kinders om iets oor hul pa te sê, omdat sy lewe alles gesê het.

Riaan se gesin sal hom met sy gunsteling-Bybelvers, Klaagliedere 3:24, onthou. Dit lui: “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”

“Riaan was die ekstrovert-choleriese dominee wat mal was daaroor om by sy mense te wees. Vir hulle sou hy bid en elke oomblik van elke dag dra.”

Gerber sê hy was baie lief vir die hele gemeenskap. Ná al die jare daar het hulle hom, sy omgee en grappies goed verstaan.

“Hy het nou al planne gemaak oor op watter maniere hy in Paastyd by sy mense kon uitkom as hulle dan nie kerk toe kan kom nie. Paastyd was vir hom so spesiaal.”

Riaan was lief vir fietsry en het die Kaapstad-fietstoer 12 keer gery, drie keer saam met De Wet.

Hy het ook die geleentheid gelei toe Anchen haar belydenis van geloof afgelê het, wat baie spesiaal was, sê Gerber.

Die gesin sal na verwagting Donderdag na die Vrystaat terugkeer. Dit is nog onseker hoe Gerber se begrafnisreëlings weens die komende staat van inperking sal werk. Ds. Johann Kemp, skriba van die ring van Harrismith wat jare lank nou saam met Riaan gewerk het, sal die diens lei.

Hy laat ook sy ouers, Danie en Marietjie, en broers, Deon, Danie en Reino, agter.

* Riaan was die Moedergemeente se enigste predikant. Die dagbestuur sal Donderdag ’n vergadering hou oor die kerk se pad vorentoe.

* Intussen sal ds. Stephan van Heerden van die NG kerk Vrede-Wes Sondae tydens die nasionale staat van inperking die preke aanlyn behartig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.