Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lesotho: Grensoorlog teen honger dreig
Mense uit Lesotho steel derduisende rand se landbouprodukte van Suid-Afrikaanse boere. Hier was diewe in ’n sonneblomland teen die grens by Ficksburg bedrywig. Foto: Verskaf

’n Humanitêre krisis dreig in Lesotho weens die staat van inperking en boere in veral die Vrystaat word toenemend deur oorgrensmisdaad geraak.

Gerhard Smal, wat liefdadigheidswerk in Lesotho doen, sê daar kom geen geld in Lesotho in nie.

“Tussen 60% en 80% van Lesotho se burgers werk in Suid-Afrika, maar kan nie nou werk nie omdat die grense gesluit is. Onthou, die hele Lesotho leef uit Suid-Afrika.”

Die voedselketting is ook in sekere streke ontwrig weens die grens wat gesluit is en die smouse wat kos uit Suid-Afrika invoer kan nie nou nie weens die drakoniese maatreëls op die grense.

Smal sê Lesotho se armstes kon nie die sluiting bekostig nie. “Dit was malligheid en mense ly honger.”

Hy sê die skole se voedingsprogramme het ook altyd die nood verlig en nou is dié programme tot niet weens die inperkings.

“Die situasie is werklik verskriklik, die ouers kan nie hul kinders kosgee nie.”

Dr. Jane Buys, veiligheids- en risiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), sê die organisasie se jongste syfers toon ’n styging in oorgrensmisdaad in die eerste nege weke van die inperkings.

Buys sê boere in Clarens, Fouriesburg, Ficksburg, Hobhouse, Ladybrand, Wepener en veral die Boesmanskoparea by Zastron het 55 misdaadvoorvalle op plase aangemeld.

Sy sê oorgrensmisdaad wissel van die roof van vee, veediefstal en ander eiendomsmisdaad tot ernstige geweldsmisdaad soos twee gevalle waar plaaswerkers by Hobhouse aangeval is.

“Van die aanvalle was wraakaanvalle nadat die Suid-Afrikaanse weerwag beeste geskut het wat oor die grens beweeg het.”

Twee onlangse plaasaanvalle waarin drie aanvallers gedood is, is ook volgens alle aanduidings deur burgers van Lesotho gepleeg.

By Zastron het Gerrit van der Walt ’n aanvaller gedood en die week voor dit het John Parr by Tweespruit twee aanvallers doodgeskiet en ’n derde een gewond.

Buys sê die swak grensbeheer maak dit moontlik vir diewe om sonpanele, mielies, sonneblomme, vrugte, boontjies, voertuie, selfs trekkers, bale voer en vee te steel.

“Bykans daagliks vind veediefstal by tien van die dorpe se boerderygemeenskappe teen die grens plaas,” sê sy.

Skade is in ’n land van LG Wille by Ficksburg aangemeld toe diewe uit Lesotho in die nag sonneblom geoes het. Foto: Verskaf

Buys sê 70 gevalle van veediefstal, waarin van agt tot tien skape tot soveel as 54 beeste gesteel is, is gedurende die inperkingstyd aangemeld en die vee word dikwels nie teruggevind nie.

Lesotho se burgers steel egter nie net nie, hulle beskadig ook Suid-Afrikaanse boere se lyndraad en jaag hul vee oor die grens om in Suid-Afrika te wei.

Van die grensboere het al 15 keer in ’n maand aangemeld dat hul lyndraad beskadig is.

Buys sê die aanjaag van beeste oor die grens beteken nie net ’n verlies aan weiding nie, veesiektes kan ook so versprei en selfs veekuddes uitwis.

Sy sê die meeste grensposte is weens die Covid-19-pandemie gesluit, maar daar is nie minder nie as 25 plekke waar die grens onwettig oorgesteek kan word.

“Tot 30 voertuie en minstens 200 mense steek op ’n naweek die grens onwettig oor.”

Buys sê die inperkings belemmer ook oorgrens-samewerking tussen die lande se weermag en polisie.

Lesotho weier dat die Suid-Afrikaanse polisie oor die grens optree. Misdadigers buit die situasie uit, sê sy.

VL het Agri SA gevra om die regering te nader om dié kwessie op die hoogste vlak met Lesotho te bespreek.

Buys sê grensboere moet teen groot koste self misdaad bekamp en stel veiligheidswagte aan.

“Lesotho se burgers rand die veiligheidswagte aan en van die hulle bedank uit vrees vir hul lewe.”

Hoewel die huidige ekonomiese situasie oorgrensmisdaad vererger, is probleme met misdadigers uit Lesotho niks nuuts nie.

Vanuit ses dorpe teen die grens is binne die bestek van vier jaar 36 plaasaanvalle, wat ook moorde insluit, aangemeld.

Die dorpe teen die grens waar drie en meer aanvalle was, is Clocolan (13), Ficksburg (6), Ladybrand (5), en Wepener (3).

Ladybrand het ook vier plaasmoorde in vier jaar gehad.

Buys sê die aantal soldate en polisielede wat in die gebied werksaam is, is te min om werklik ’n impak te hê.

Versoeke aan die polisie om meer lede te ontplooi is onsuksesvol.

’n Ander remskoen is dat die grensgebied swak selfoonontvangs het en mense nie betyds hulp kan ontbied nie.

“Baie van die Basotho’s wat in die grensgebied bedrywig is, is gewapen met pangas, messe, spiese, knopkieries en selfs vuurwapens.

“Daar word gereeld op plaaswerkers geskiet as hulle in hul huise is,” sê sy.

“Dit is ’n gegewe dat Lesotho-burgers orals in die Vrystaat gevestig is. Al die dorpe in die Vrystaat ondervind probleme met vee uit Lesotho wat buite dorpe op meentgrond wei.

Buys sê beeste uit Lesotho is feitlik oor die hele provinsie versprei.

Drie jaar gelede het al nagenoeg 300 000 stuks vee van Lesotho in Vrystaatse dorpe en sover as die Goudveld en Sasolburg op meentgrond gewei.

Boere in KwaZulu-Natal en Oos-Kaap ondervind ook probleme met oorgrensmisdaad.

Meer oor:  Lesotho  |  Hongersnood  |  Hobhouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.