Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Lesufi erken hy was verkeerd om fopnuus te twiet

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Vrydag ’n storm op Twitter veroorsaak oor ’n man wat verkeerdelik daarvan beskuldig is dat hy rassistiese boodskappe op WhatsApp gestuur het.

Lesufi het Vrydagoggend ’n skermgreep van dié boodskappe op Twitter geplaas.

Daar is aanvanklik aangeneem dat die boodskappe gestuur is deur Shalen Singh, diensbestuurder by Lindsay Saker in Kempton Park.

Die boodskappe lui onder meer dat “dit nie goed gaan” by Singh se werk nie.

“My dom k*****-personeel is ’n klomp ape. Ek is so moeg om dinge in orde te kry en hierdie swart k*****s hou aan om soveel op te f**.”

Denton Thiele, besturende direkteur van Lindsay Saker Suid-Afrika, het Vrydagmiddag by navraag gesê ’n forensiese ondersoek het intussen bewys dat Singh onskuldig is en dat iemand anders dié boodskappe gestuur het om hom te viktimiseer.

Thiele sê 20 van die maatskappy se personeellede het Sondag dié WhatsApp-boodskap ontvang waarin die rassistiese kommentaar gemaak word.

“Ons het Maandag met Singh gepraat en hy het ontken dat hy die boodskappe gestuur het. Ons het die behoefte gehad om die saak verder te ondersoek en hy is dus op verlof geplaas sodat ons die kwessie kon oplos,” sê Thiele.

Singh is toe deur ’n forensiese ondersoeker ondervra en hy het ’n poligraaftoets geslaag. Die forensiese ondersoeker het ook sy selfoon ondersoek.

Die ondersoek het Singh onskuldig bevind en bevestig dat hy nie die rassistiese boodskappe gestuur het nie.

“Ons vermoed dit kon ’n ongelukkige werknemer gewees het wat die boodskappe gestuur het, of iemand teen wie ons vroeër opgetree het,” sê Thiele.

Lesufi het egter Vrydag Singh se identiteit en kontakbesonderhede op Twitter bekend gemaak.

Volgens Thiele ontvang Singh sedert vroeër die week ernstige dreigemente.

“Daar was selfs ’n man wat gedreig het om na die handelsagentskap te ry en ons onderneming tot stilstand te bring.”

Lesufi het later weer getwiet en Lindsay Saker bedank vir die “vinnige optrede”.

“Julle het leierskap gedemonstreer.”

Lesufi het ook getwiet dat hy saamstem met ’n Twitter-gebruiker wat hom vroeër gewaarsku het oor sy uitlatings en gesê het ’n mens moet wag vir ondersoeke om voltooi te word.



Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, waarvan Lesufi die LUR is, het Vrydag gesê hy wil nie kommentaar lewer oor die voorval nie.

Tasneem Motara, woordvoerder van die ANC in Gauteng, het gesê dié party wil ook nie daaroor kommentaar lewer nie.

Thiele sê ’n saak van kuberafknouery en laster is by die Kempton Park-polisiekantoor aanhangig gemaak.

“Die polisie is besig om die saak te ondersoek. Ons wil die persoon vind wat dié moeite gedoen het om Singh te belaster.”

Hy sê die polisie vermoed die SIM-kaart wat gebruik is om die boodskappe te stuur, is reeds vernietig en dat dit nooit geregistreer is nie.

Thiele sê hy verwag nie ’n verskoning van Lesufi af nie.

“Ons verwag nie ’n verskoning nie omdat dit Twitter is en dit almal toelaat om ’n mening te hê. Ons bedoelings is nie om vingers te wys na mense oor kwaaddoenery nie. Ons het bewys Singh is onskuldig en ons wil nou net die skuldige persoon vind.”

Singh is om veiligheidsredes steeds met verlof.

Meer oor:  Panyaza Lesufi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.